Esegiël 47: 1-12
As gelowiges probeer ons dikwels sin maak van hoe om ons geloof op ’n geloofwaardige manier uit te leef. Daar is soveel stemme, soveel opinies, soveel strominge in hierdie komplekse wêreld. Watter stroom volg ons?
Esegiël 47 vertel van ’n stroom lewende water. Esegiël sien water wat uit die tempel vloei. Die gedagte aan water wat uit die tempel vloei, was ’n bekende beeld in die Ou Testamentiese wêreld. Volgens die beskouing van daardie tyd was die tempel op ’n fontein gebou. Esegiël sien dat soos wat die water uit die tempel vloei dit suidwaarts loop na die woestyn se kant toe waar dit opnuut lewe bring. Méér nog, hoe verder hierdie water loop hoe ’n sterker stroom word dit en hoe dieper word dit. Eers is dit enkeldiep, toe kniediep, toe heupdiep en toe só diep en sterk dat Esegiël dit nie kan oorsteek nie. Uiteindelik vloei hierdie stroom water na die Dooie See, waar dit die soutwater vars en lewend laat word – soveel so dat daar lewende wesens en visse in die Dooie See krioel! En al langs die stroom van lewende water staan daar bome – bome wat sonder ophou vrugte dra en waarvan die blare immergroen is.
Vir die volk aan wie Esegiël die boodskap bring, beteken hierdie visioen hoop en herstel. Dit is ’n belofte van God dat Hy ná die ballingskap sal terugkeer na sy volk. Die water wat vanuit die tempel vloei, stel God se teenwoordigheid voor. God sal weer by sy volk teenwoordig wees en by die tempel inwoon. Die Here se teenwoordigheid bring herstel, hernuwing en genesing. Waar die stroom van God se teenwoordigheid kom, sal alles lewe.
Die wêreld dors na goeie nuus, die wêreld soek na die water wat lewe gee. Ons moet ons krag vind by die Bron van lewende water. God se woord is die stroom wat ons moet volg. Wanneer die vloeikrag van die evangelie in ons woorde en dade sigbaar word, leef ons ons geloof op ’n geloofwaardige manier uit.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom