Die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Hervormde Kerk wat in Oktober 2025 in Midstream vergader het, het ’n Geloofsverklaring uitgereik as getuienis teenoor die owerheid en al die inwoners van Suid-Afrika. Dit dien ook as riglyn vir die Kerk se verstaan van ons roeping, dienswerk, teologiese arbeid en verkondiging.
Geloofsverklaring 2025 bestaan uit ses artikels. In vorige uitgawes van Die Hervormer is die eerste vier stellings bespreek. In hierdie artikel word die laaste twee stellings van Geloofsverklaring 2025 bespreek.
Die vyfde stelling van Geloofsverklaring 2025 handel oor kerkregering, en meer spesifiek oor Jesus Christus as die enigste Hoof en Heer van die Kerk. Dit is soos volg geformuleer:
STELLING 5: KERKREGERING
Jesus Christus is Hoof en Heer van die Kerk. As Here is Hy deur die Heilige Gees, die Woord en sakramente handelend teenwoordig in die Kerk.
Geen kerkleier of kerklike vergadering beskik oor buitengewone mag of bevoegdheid nie.
Die algemene priesterskap van die gelowiges impliseer dat die verkondiging van die evangelie ’n opdrag is wat aan die hele gemeente toevertrou is.
In hierdie stelling getuig die Hervormde Kerk dat die Kerk in gehoorsaamheid aan Jesus Christus moet en wil leef. Christus is die Hoof en Heer van die Kerk. Christus regeer direk oor sy Kerk, deur die Woord van God en die Heilige Gees. Die Woord en Gees vernuwe ons denke, verander ons hart en gesindheid en help ons om in gehoorsaamheid aan God te leef. Alles wat die Kerk doen en alles wat die Kerk verkondig, moet aan die Woord van God getoets word.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat dié stelling enige vorm van magsmisbruik deur ampsdraers van die Kerk by die wortel afsny. Ons leef in ’n tyd waar dit nie vreemd is dat mense hulself aanstel as biskoppe, profete of pastore nie, en op ’n vreemde manier gesag oor mense verkry. Dit is ook nie vreemd dat daar selfs in die Kerk mense is wat probeer om oor ander baas te speel nie – iets waarteen die bevestigingsformulier ons ook waarsku. Gesag en mag is vreemd aan die wese van die Kerk. Ons is diensbaar soos wat Christus diensbaar was.
Die vyfde stelling gee ook erkenning aan die rol wat lidmate in diens van God se koninkryk speel. Die algemene priesterskap van gelowiges beteken dat elke lidmaat verantwoordelik is vir die uitdra van die evangelie, die welstand van die Kerk en diensbaarheid aan ons naaste. Die Kerk as geheel is geroep om diensbaar in God se koninkryk te wees – dit is nie net die roeping van enkele ampsdraers nie.
Hierdie stelling is teologies begrond in ons verstaan van missio Dei – God wat handelend in die wêreld en in die Kerk teenwoordig is, en elke gelowige oproep om diensbaar aan God se koninkryk te wees.
Die sesde stelling van Geloofsverklaring 2025 handel oor die owerheid, en die vryheid van die Kerk teenoor die owerheid. Dit is soos volg geformuleer:
STELLING 6: DIE OWERHEID
Owerhede is ’n gawe van God om te sorg vir geregtigheid en vrede in ’n gebroke wêreld, waarin die Kerk ook leef. Die Kerk erken met dankbaarheid dat hierdie gawe van God orde skep.
Die Kerk getuig teenoor die owerheid van God se heerskappy, van God se gebod en God se geregtigheid, sowel as die verantwoordelikhede van owerheid en onderdaan.
Die Kerk mag nie ’n instrument in die hande van die owerheid word, of die moraal van die samelewing ten dienste van menslike doelstellings aanneem nie. Geen wêreldbeskouing, politieke oortuigings of ideologie is bepalend vir die inhoud van die Kerk se verkondiging nie.
Geen owerheid het absolute seggenskap oor sy onderdane nie, en die owerheid is nie allesbepalend vir mense se geluk en welstand nie.
Ons vertrou op God, wat alle dinge in stand hou.
Op ’n tipies-reformatoriese wyse gee die sesde stelling erkenning aan die posisie en die gesag van die owerheid en word die owerheid erken as ’n gawe van God om die welstand van elke onderdaan te bevorder. In die Calvinistiese verstaan van die staat, staan orde sentraal. God stel die owerheid in om orde te handhaaf deur ’n goeie en bekwame regering, misdadigers te straf en die algemene welstand van alle landsburgers te bevorder.
Dit is ook ’n getuienis teenoor elke landsburger, en die verantwoordelikheid wat elkeen dra, om saam te werk tot vrede. Die gehoorsaamheid aan God en die wette van die land loop hand-aan-hand om ’n vreedsame samelewing tot stand te bring.
Die beperkte gesag van die owerheid word ook uitgespel. Die owerheid is nie bo die wet verhewe nie, maar word getoets aan die wyse waarop die owerheid die welstand van elke landsburger bevorder. Die owerheid het nie absolute mag oor onderdane nie. Enige vorm van tirannie, magsmisbruik en korrupsie ter wille van eie gewin en selfverryking word ten sterkste afgewys.
Daarbenewens wil die sesde stelling ook die vryheid van die Kerk teenoor die owerheid onomwonde handhaaf. Die Kerk kan en mag nooit ’n agent van die owerheid se programme word nie, nog minder ’n spreekbuis van een of ander ideologie of politieke program. Die Kerk staan altyd profeties teenoor die owerheid, om in vryheid en in gehoorsaamheid aan God te getuig van die evangelie en God se heerskappy.
Hierdie stelling sluit af met ’n geloofsuitspraak: In alles vertrou ons op God. Politieke- en landsomstandighede mag verander, regerings mag verander en politieke partye kom tot ’n val, maar God se heerskappy en sorg staan vir altyd vas. Daarom vertrou ons op God, en weet ons dat ons toekoms nie afhanklik is van politieke leiers nie, maar in die hand van God is. Terwyl ons volledig op God vertrou, onthef dit nie die owerheid of onderdane van die verantwoordelikheid om alles te doen om die welstand van die mense van Suid-Afrika te bevorder nie.
Met Besluit 1 van die 74ste AKV (2025) is Geloofsverklaring 2025 aanvaar as:
- Riglyn vir die Kerk se getuienis in die wêreld.
- Riglyn vir die Kerk se getuienis teenoor die owerheid.
- Riglyn vir die Kerk se roeping en dienswerk.
- Riglyn vir die Kerk se besluite en kerkordelike reëlings.
- Riglyn vir die Kerk se teologiese arbeid.
Bogenoemde dui op die ingrypende betekenis wat Besluit 1 en Geloofsverklaring 2025 vir die lewe en werk van die Hervormde Kerk inhou.
Die AKV het dit aan die Kommissie van die AKV opgedra om die Geloofsverklaring verder te verfyn en het ook aan die Kommissie afhandelingsbevoegdheid gegee.
Geloofsverklaring 2025 is ’n kragtige getuienis uit die hart van die Hervormde Kerk dat die evangelie van Jesus Christus hoop aan mense bied. ’n Mensdom, wêreld en aarde wat deur menslike geweld en sonde beskadig word, het daardie hoop nodig.
(Prof Wim Dreyer is emerituspredikant en leraar van Gemeente Outeniqua)