Tydens die NHSV se 50ste Nasionale Kongres kon ons terugkyk na ’n periode van drie jaar waarin ons werksaamhede nuwe hoogtepunte bereik het.

Terugskouend was hierdie tydperk vol geleenthede en genade. Ten spyte van wêreldwye ekonomiese uitdagings wat ons werkwyses beïnvloed het, het die NHSV steeds oorvloedige genade beleef.

Al het ons vanjaar die NHSV se 86ste bestaansjaar op 22 Mei gevier, kon ons steeds by die tye aanpas. Ons kon veranderinge aanbring soos nodig om die pad vorentoe dinamies aan te pak én ons kon ’n verskil in mense se lewens maak.

Bejaardesorg

Bejaardesorg is een van die hoofprioriteite van die NHSV. Ons was die afgelope drie jaar betrokke by die Ons Tuis-tehuise met befondsing van onder andere nuwe rekenaars. Ons kon die totale warmwaterstelsel van Ons Tuis Riviera, wat hierdie jaar 97 jaar oud is, opgradeer. Ons is ook in die proses om die brandalarms en paniekknoppiestelsels by al ses Ons Tuis tehuise te vervang. Dit sal die bejaardes se veiligheid in tye van nood verbeter.

NHSV Studielenings

Die NHSV se Studieleningskomitee het die afgelope drie jaar toekennings aan 117 voorgraadse en nagraadse Hervormde studente gemaak vir studielenings en meriete- en prestasiebeurse.

NHSV Welstandsprogram

Tydens 2023 se Nasionale Kongres het die NHSV die Welstandsprogram uitgebrei om ’n netwerk van ondersteuning te skep waarmee meer predikantsvroue, predikanteweduwees en vrouelidmate bereik kan word. Ons het ook hande gevat met die NHKA se Welstandsprogram wat deel uitmaak van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB). Ons was die afgelope drie jaar betrokke by verskeie gevalle waar ons finansiële ondersteuning kon bied vir veral mediese onkostes en apparate.

NHSV publikasies en sosiale media

Die NHSV het 2024 ingelui met ’n nuwe Facebook-blad genaamd NHSV Hoofbestuur. Daarop deel ons waardevolle inligting wat spesifiek op NHSV-dienswerk in die Kerk, geestelike toerusting vir ons vrouelidmate, en bewusmaking van kerklike publikasies fokus. Daar verskyn daaglikse plasings wat op ons vrouelidmate van toepassing is. Al die foto’s wat tydens die kongres geneem is, is reeds op ons Facebook-blad beskikbaar.

Vroueflitse vier vanjaar haar tiende bestaansjaar en het sedert die eerste publikasie in April 2016, artikels gepubliseer wat hand aan hand loop met die beskrywingspunte van die NHSV-Kongres wat geestesgesondheid, ouerskapleiding, bejaardesorg en jeugbetrokkenheid bevorder.

Ons webblad vier dié jaar haar 20ste bestaansjaar en van die belangrikste inligting van die NHSV word sedert Februarie 2006 hier gekommunikeer.

Die Christelike Vrou publiseer reeds sedert 1943 aktuele artikels. Ons is bevoorreg om na 83 jaar steeds hierdie publikasie maandeliks te kan versprei. Die verspreiding geskied tans elektronies.

Die NHSV-Hoofbestuur is ook betrokke by die skryf van artikels oor vrouebediening met ’n geestelike inslag wat gereeld op die Kerk se webblad geplaas word.

Ons spreek jaarliks die HTK se finalejaarstudente toe oor die NHSV se dienswerk in die Kerk en hoe dit inskakel in die raamwerk van die NHKA.

Toekomsverwagting

Die NHSV-afgevaardigdes het vir twee dae tydens die kongres besin oor die wyse waarop ons vrouelidmate werksaam in die Kerk is. Ons het kennis en idees uitgeruil, mekaar ondersteun en pitkos ontvang wat ons vir dienswerk in gemeentes, die Kerk en daarbuite sal toerus.

Rentmeesterskap

Die skeppingsverhaal beskryf die skeppingsopdrag só: Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip (Gen 1: 28, AFR83).”

Rentmeesterskap is die verantwoordelike bestuur van dit wat aan jou toevertrou is, met die besef dat God die ware eienaar van alles is. Dit behels die verstandige en liefdevolle hantering van jou lewe, tyd, talente en die skepping self. Ons is slegs toesighouers wat eendag rekenskap van ons bestuur moet gee.

’n Goeie rentmeester word gekenmerk deur toewyding, onselfsugtigheid en ’n lewe van dankbaarheid teenoor God. Om oor die skepping te heers, beteken dat ons goed is vir die skepping – soos ’n boom wat oor sy omgewing heers deur koelte te verskaf en vrugte te dra. Wanneer ons oor mense heers, moet ons sorg dat hulle die nodige versorging ontvang en ons moet aan hulle erkenning en vergifnis bied sodat hulle die mense kan wees wat God hulle bedoel het om te wees.

Tydens die sitting van die Kongres het ons verslae van die NHSV Hoofbestuur hanteer wat ’n terugskouende blik oor drie jaar se werksaamhede gewerp het. Dit is ’n bewys van die NHSV se rentmeesterskap.

Ons het geluister na die mededelings van al die diensorgane en instansies en gehoor hoe hulle daarop gefokus het om ander te help. Dit is ’n bewys van elkeen se rentmeesterskap in hul verskillende diensvelde.

Die beskrywingspunte wat by hierdie kongres gedien het, bepaal die NHSV se aksiestappe vir die volgende drie jaar. Ons het beplan reeds projekte in ons gemeentes en tydens NHSV streekbyeenkomste, met die roeping van God in die skeppingsverhaal – gaan bewoon die aarde en bewerk dit.

NHSV tema 2026

Die NHSV se tema vir 2026, Nogtans sal ek jubel…, kom uit Habakuk 3: 18 en volg op die NHSV se tema van 2025, naamlik …want ek weet op wie ek vertrou… uit 2 Timoteus 1: 12, en 2024 se tema, Al het ek geval, ek staan weer op… uit Miga 7: 8.

Die boek Habakuk bestaan uit drie hoofstukke waarvan die eerste twee die gesprek tussen Habakuk en die Here weergee, en hoofstuk 3 die gebed van die profeet Habakuk. In hoofstuk 3 van die 2020-vertaling lees ons in verse 17 en 18 die volgende: Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.

Wanneer ons bewus word van Jesus se teenwoordigheid in ons lewens, selfs daar waar dit moeilik gaan, staan ons elke keer weer verbaas oor die seëninge in ons daaglikse bestaan. Ons weet dat die volk Israel 70 jaar lank in ballingskap oorleef het voordat die Here verlossing gebring het en hulle Hom in hul eie land kon aanbid. God wat hoop vir Israel bring ná die ballingskap, sluit ook vir ons vandag die deure oop na hoop, en daarom sal ons jubel in die Here ons God wat ook vir ons vandag verlossing bring.

(Mari-lizé Beukes is die voorsitter van die NHSV-Hoofbestuur)

Meer Kongresfoto’s is beskikbaar op die NHSV se Facebook-blad.

Ds Leon Geel (sr), Mari-lizé Beukes en dr Martin Jansen van Rensburg

Ds Leon Geel (sr), Mari-lizé Beukes en dr Martin Jansen van Rensburg

Die musikante tydens die openingsaand

Die huidige en vorige NHSV-voorsitters

Kunstenaar: Je-ani Swiegelaar

Kunstenaar: Jak de Priester

NHSV-Dagbestuur van 2023 tot 2026

Ma’s, dogters en kleindogters tydens die Kongres

Die kongresgangers tydens Yolande Britnell-Steyn se gesprek Sondag

Nuutverkose Dagbestuur

Spreker: Gerda van der Merwe

Spreker: Yolande Britnell-Steyn

Tafelversierings