Vrouedag is ’n dag van viering, maar in alle eerlikheid moet ek erken dat dit nie net ’n dag vir feesviering is nie. Ons kan nie vroue se waarde erken sonder om hul pyn raak te sien nie. Geslagsgebaseerde geweld bly een van die diepste wonde in ons samelewing – ’n werklikheid wat liggame, harte en menswaardigheid breek. Agter elke statistiek skuil ’n mens, ’n verhaal, ’n lewe wat onherroeplik verander is.
Wanneer gewone taal tekortskiet om hierdie pyn te beskryf, wend ons ons tot poësie en musiek. Afrikaanse tekste beeld lank reeds beelde van seer, stilte en gebrokenheid van geweld uit. Een van die aangrypendste beelde is dié van ’n pop – ’n figuur wat deur verskeie tekste heen as simbool van weerloosheid en verwerping dien.
In Ingrid Jonker se gedig My pop val stukkend skryf sy van ’n skaduwee wat die straat waarsku, iets wat uit ’n hoë balkon geslinger gaan word. Die beeld is dié van ’n val – iets of iemand wat uit veiligheid geruk word en onkeerbaar na onder tuimel. Later volg die reël wat die metafoor skielik menslik maak: my pop met ’n naam soos ’n liggaam. Die pop is nie meer ’n ding nie – sy het ’n liggaam en ’n identiteit.
Geslagsgebaseerde geweld is presies dit: die oomblik wanneer ’n menslike liggaam as minderwaardig behandel word en iemand se waardigheid ontken word. In ’n ander gedig deur Ingrid Jonker, die Lied van die Lappop kry hierdie ontmensliking ’n stem – of eerder ’n stem wat nie mag praat nie. Ek is die lappop wat nie praat en maak net op jou liefde staat, lui die woorde. Die pop se stilte is nie ’n keuse nie; dit is afgedwing. Sy lê blind, stil en doof, haar hande roer nie, haar lyf word koud en styf. Sonder hulp kan sy nie loop nie. Sy is gekoop, word besit en word uitgelewer aan die wil van ’n ander. Sy is die lappop sonder gees wat vrees dat sy eendag nog verbrand sal word en dat oor haar dood gelag sal word.
Die gedig skroom nie om die wreedheid van magsmisbruik bloot te lê nie. Die pop se pyn word selfs as ’n luid gevierde fees beskryf. Dit is ’n ontstellende beeld, maar een wat vir baie slagoffers herkenbaar is – hul seer word geminag, ontken of belaglik gemaak. Dit maak nie net fisies seer nie, maar verneder en hulle word stilgemaak.
’n Ander teks oor ’n nikswerd pop is die Afrikaanse kinderliedjie Die Lappop. Die lappop bevind haar op ’n plek wat diep simbolies is – ’n ashoop. Iemand het ’n lappop op ’n ashoop weggegooi. Sy was gedaan en stukkend, verbleek en nie meer mooi nie. Die ashoop is die plek vir dit wat nie meer waarde het nie. Rondom haar lê net gebreekte, nuttelose dinge soos ’n stukkende skoen, ’n vrot pampoen en ’n ou koerant. Die diepste hartseer lê egter in die wete wat by haar posvat dat niemand haar ooit weer sal wil hê nie. Sy is ’n nikswerd pop.
Baie slagoffers van geslagsgebaseerde geweld leef met presies hierdie oortuiging. Hulle voel nikswerd, oorbodig, en skaam.
In Ingrid Jonker se gedig My pop val stukkend verwoord sy ook die gevoel van skuld en selfverwyt wanneer sy die volgende skryf: My pop soos ’n mossie geskiet, korrel-kaal van die vensterbank – of was dit die wind uit die verte, of was dit my eie hand? Hier kom skuld en selfverwyt na vore, iets wat dikwels deel is van die nalatenskap van geweld. En dan, in dieselfde gedig, die skokkende selfbesef as ek sou val uit ’n hoë balkon, as ek sou breek lyk ek ook só. Die seerste besef kom in die vers, die ontkenning help nie meer nie. Die pop is nie meer net ’n beeld nie; die pop is sy.
Wanneer ons as Christene mense sien wie se lewe uitmekaar val, is dit ook nodig om te besin oor die Jesusverhaal. Jesus se menswees is misken en wreed tot ’n einde gebring. Hy is geslaan, verneder en stilgemaak omdat mense nie sy stem wou hoor nie. Hy is uit die stad gedryf, na ’n plek van verwerping – ’n soort ashoop buite die gemeenskap. Dit alles was geweld: teen Jesus se menswees, teen sy stem, teen sy liefde. Keer op keer is Hy uitgekryt as ’n nikswerd vals profeet.
Jesus se verhaal het nie geëindig toe Hy gesterf het nie. Die evangelies vertel dat daar mense gekom het wat Jesus van die kruis afgehaal, versorg en toegedraai het. Die hartseer situasie word toe ook ’n geleentheid om ’n beelddraer van God se liefde en sorg te word. Jesus se opstanding verkondig dat geweld, miskenning en haat nie die finale oorwinning behaal nie. Die goeie in Jesus se sterfdag is dat daar mense was wat opgestaan het en betrokke geraak het, veral toe God se Seun in die oë van die wêreld stukkend geval het.
Elke keer wanneer ’n mens oor geslagsgebaseerde geweld praat, kom die vrae: Waarom bly die syfers van geslagsgebaseerde geweld so hoog? Waarom val daar steeds soveel poppe rondom ons stukkend? Miskien omdat te veel mense wegkyk, stilbly of huiwer om betrokke te raak.
Vrouedag roep ons nie net op om vroue en vrouwees te vier nie, maar om verantwoordelikheid te neem. Ons moet diegene raaksien wat op die ashope van geweld lê. Om te luister sonder om te oordeel, om te glo sonder voorbehoud, om te help sonder voorwaardes.
Mag ons help dat die poppe om ons nie stukkend val nie, en waar hulle wel val mag ons opnuut Jesus se woorde in Matteus 25: 45 onthou: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie (AFR83).
(Ds Mariët Robbertze is leraar van Gemeente Kempten)