Daar is oomblikke in ’n mens se lewe wanneer alles verander. Vir ds Willem Sauer het hierdie oomblik op 19 Februarie 2026 aangebreek. Jare se rugprobleme en skoliose het aanleiding gegee tot ernstige senuweepyn en die beste oplossing was ’n rugoperasie. ’n Prosedure wat veronderstel was om verligting te bring, het onverwags uitgeloop op een van die grootste uitdagings van sy lewe. Toe ds Willem na die operasie wakker word, was daar chaos rondom hom. Hy het oor en oor gehoor: Beweeg jou tone! Maar sy bene en tone wou nie reageer nie. Die kommunikasiekanaal tussen sy brein en bene is tydens die operasie weens ’n bloedklont in sy rugmurg beskadig. Hy het uiteindelik alle gevoel in sy bene verloor.

Die toekoms was onseker en die gedagte om nooit weer te kan loop nie, was oorweldigend. Hy het twee maande rehabilitasie in die Eugene Marais-hospitaal ondergaan. Twee Zoeloe-pasiënte het vir hom die naam Mandla gegee. Dit beteken die sterk een. Maar ds Willem glimlag wanneer hy daarvan vertel. Die sterk een is nie ek nie, sê hy, die sterk een is God.

Sy vrou, Elise, het die saadjie geplant wat die ritme van hul pad vorentoe bepaal het. Na aanleiding van hul vele bergklimekspedisies, het sy hom aangemoedig: Ons gaan weer ’n berg klim. Daardie beeld van ’n berg het die verhaal van hul reis geword. Bergklim is nooit maklik nie, party dae voel die pad steil en uitputtend en ander dae is daar weer nuwe moed. So was dit ook die geval met die rehabilitasie. Elke tree van die Sauer-gesin word gegee met die wete dat God die berg saam met hulle klim.

’n Skrifgedeelte wat vir ds Willem besondere betekenis het, is die verhaal van Moses tydens die stryd teen die Amalekiete. Solank as wat Moses sy hande in die lug gehou het, het Israel die oorhand gehad. Toe sy arms moeg word, het Aäron en Hur hom ondersteun en sy hande opgehou totdat die Israeliete die oorwinning behaal het. Ds Willem vertel dat hy deur hierdie ervaring een van die belangrikste lesse van sy lewe geleer het – niemand is bedoel om alleen deur moeilike tye te gaan nie. Elkeen van ons het mense nodig wat ons hande as’t ware ophou wanneer ons self nie meer kan nie.

Hy het hierdie ondersteuning op verskillende vlakke beleef. Kollegas en vriende het hom gereeld besoek. Sy gemeente het nie net vir hom gebid nie, maar ook praktiese aanpassings gemaak deur opritte by die kerk en sy huis aan te bring sodat hy sy bediening kon voortsit. ’n Goeie vriend uit ’n vorige gemeente het selfs vir hom ’n motor gekoop en dit laat ombou sodat hy weer onafhanklik kon bestuur. Hoewel hy en Elise aanvanklik beplan het om ná sy emeritaat elders af te tree, het hulle uiteindelik besluit om in hul huidige gemeenskap aan te bly. Hy verduidelik hierdie besluit so: Dit is hierdie gemeenskap wat ons gedra het toe ons hulle die nodigste gehad het.

Maar toe duik daar ’n oomblik van twyfel op. Ds Willem het ernstig oorweeg om medies ongeskik verklaar te word. Hy het dit selfs met sy gesin bespreek. Maar sy vrou, sy kollega en uiteindelik ook sy neurochirurg het hom aangemoedig om nie sy roeping prys te gee nie. Dit is hierdie mense wat hom herinner het dat hy nog werk het om vir die Here te doen.

Vandag sien sy lewe anders daarna uit. Hy bestuur met die hand, pak sy rolstoel self in en uit en oefen daagliks met parallelle pale wat sy seun, Wian, vir hom gebou het. Sy linkerbeen het nog geen funksie nie, maar sy regterbeen wys geleidelike verbetering. Hy weet die pad vorentoe bly lank, maar hy weet ook dat God elke tree saam met hom stap. Wanneer hy terugskouend oor sy pad gesels, is sy beperkinge nie sy eerste fokus nie. Hy praat oor sy dankbaarheid. Ek het die beste gesin, die beste Kerk, die beste vriende en die beste God.

Miskien is die grootste les van alles dat geen mens die berge in ons lewens alleen klim nie. God gee vir ons medereisigers soos familie, vriende en geloofsgemeenskappe sodat ons saam die berg kan aandurf. Dit herinner die Kerk ook aan haar roeping om soos Aäron en Hur langs Moses te staan, mekaar se laste te dra en mekaar se hande op te hou wanneer die pad te steil en moeilik raak.

(Ds Iwana Kruger is leraar van Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)