Verwarde Festus van Vlieëkraal vra: Beste Oupa Stoep, ek woon my lewe lank hier op ’n plaas in die hartjie van die Vrystaat. Ek was die ander dag vir die heel eerste keer in Bloemfontein. Daar sien ek toe manne en vroue in glimbaadjies wat vriendelik vir jou help om in en uit ’n parkeerplek te kom. Ek dog dat die stadsmense darem baie moeite doen om ons plaasjapies te help, tot een van die glimbaadjiebrigade baie ongeskik vir my vra waar sy geld is. Kan Oupa my dalk help om te verstaan?

Beste Festus, baie geluk! Jy het jou eerste ontmoeting met ’n komponent van die sogenaamde informele ekonomie gehad: karwagte. Dit is mense wat, in verwagting van ’n fooitjie, jou help parkeer en oënskynlik ook jou kar oppas totdat jy terugkom. Oupa weet dat karwagte net so ’n omstrede saak is soos die nuwe nuwe Hilux-bakkie se sierrooster wat blykbaar soos ’n Tupperware-teesakkie lyk…

Persoonlik dink Oupa dat karwagte darem probeer om iets nuttigs te doen en hulle staan nie net bakhand by ’n verkeerslig nie. Oupa gee dus ’n geldjie, al besef hy dat dit steeds geen waarborg is dat sy motor nie gesteel gaan word nie.

Oupa gaan twee ware verhale met jou deel en dan kan jy self maar ’n opinie vorm. Oupa kom eendag by sy plaaslike winkelkompleks en sien dat daar ’n groot oproerigheid in die parkeerterrein is. Een van Oupa se diakens hardloop al vloekend agter ’n karwag aan. Die diaken het ’n kortbroek en plakkies aan en dra twee swaar sakke kruideniersware in sy hande. Dit maak dat hy nie die karwag ingehaal kry nie. Tussen die vloekwoorde deur, lei Oupa af dat die diaken se bakkie gesteel is en dat hy die karwag daarvoor verantwoordelik hou. Oupa besluit om maar eerder van die drama af weg te ry, want Oupa wou nie die diaken se woede ook met skaamte belas as hy besef dat sy pastor sy goed gekruide taal aangehoor het nie.

’n Rukkie later besluit Oupa dat dit nou veilig is om sy inkopies te gaan doen. Oupa kry die diaken in die winkelsentrum en vra hom hoekom hy so ontsteld lyk. Hy beduie toe dat, toe hy die derde keer deur die parkeerterrein draai agter die karwag aan, sien hy sy vrou se kar raak. Hy het vergeet dat hy daarmee gery het en nie met sy bakkie nie. Hy kry toe te skaam om die karwag te laat sien dat hy in ’n ander kar inklim en hy kruip nou weg. Oupa het hom huis toe gevat en sy seun gebring om die ma se kar te kom haal…

’n Kollega vertel dat sy saam met iemand was wat, toe ’n karwag vra: Madam, do you please have a tip for me? Die dame het geantwoord: Yes, I do have a tip: Read your Bible and pray every day!

So, liewe Festus, besluit maar self watter roete jy met karwagte gaan volg!