Daar is iets besonders aan die gelykenis van die saaier. Die saaier kan voorberei, plant en versorg, maar of en hoe die saad gaan groei, kan die saaier nie werklik bepaal nie. Hierdie beeld het soos ’n goue draad deur die vergadering van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering op 4 en 5 Junie geloop. Sedert die Kommissie vroeër vanjaar met sy werksaamhede begin het, het een uitgangspunt al hoe sterker gestalte gekry: ons bou saam.

Hierdie eenvoudige, maar diepgaande uitgangspunt vorm die grondslag van die Kommissie se benadering tot gemeentes, ringe en die toekoms van die Hervormde Kerk. Daar is doelbewus ruimte geskep om nie net sake af te handel nie, maar om te luister na die gemeentes se verhale – verhale van geloof, volharding en hoop! Wanneer ringe vertel van God se trou te midde van uitdagings, gebeur iets merkwaardig: hoop word aansteeklik. Een gemeente se getuienis word ’n ander gemeente se moed en só begin die liggaam van Christus beweeg!

Hierdie beweging is deur dr Wouter van Wyk in die opening van die vergadering op 4 Junie 2026 beklemtoon. Hy het vertel hoe die verse van Jesaja 55: 9-12 ’n kettingreaksie uitlig. Hierdie kettingreaksie volg sodra die evangelie soos reën uitgestort word. Reën word nie tot ’n sekere plek beperk nie; net so word groei en die uiteinde daarvan ook nie tot ’n sekere plek beperk nie. Op dieselfde manier kan die uiteinde van die verkondiging van die evangelie nie bepaal word nie; dit kan slegs aanskou word. Dié beweging van die Woord van God rus in die hande van ons Here, maar die saaiwerk berus by ons. Dit is daarom nie die werk van gelowiges om vooraf te probeer bepaal hoe die groei van ons saaiwerk sal plaasvind nie. Ons is getaak met die saaiwerk!

Hierdie waarheid bring ook ’n belangrike stuk bevryding. Gelowiges hoef nie voortdurend die sukses van hul arbeid te probeer meet of vooraf die uitkoms daarvan te probeer bepaal nie. Ons roeping is eenvoudig, maar kragtig: om getrou te saai. God sorg vir die groei. Sό nooi die Kommissie ook gemeentes en lidmate uit om saam met hulle getrou te saai.