Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) het op 3 en 4 September 2026 weer in die raadsaal van Gemeente Philadelphia bymekaargekom. Soos gewoonlik is die vergadering met sang, Skriflesing en gebed geopen. Dr Frikkie Labuschagne se woorde het my bygebly: Dit wat ons die studente leer en waartoe ons hulle aanmoedig, moet ons tog ook self doen. Die lede van die Kommissie het stil geword voor God en saam gebid: Here, rig ook ons aksies.

Dr Labuschagne redeneer dat die waardes wat teologiestudente leer om die Kerk met geloof, kreatiwiteit en hoop te dien, ook in ons eie optrede sigbaar moet word. Hierdie waardes vra iets van ons; dit vra dat alles wat ons doen deur die leiding van die Heilige Gees gevorm word. Ons moet nie net oor die toekoms van die Kerk praat nie; ons eie lewens, en uiteindelik ook ons aksies, moet volgens die leiding van die Heilige Gees ingerig wees.

Tydens die gesprek rondom Wandel in die Woord is dit nog eenvoudiger verwoord: Gestel iemand kyk deur jou gemeente se vensters. Wat sal daardie persoon sien? Sal die persoon ’n gemeenskap sien wat vrolik en vol hoop is? Sal die persoon ’n Kerk sien wat, te midde van die Suid-Afrikaanse werklikheid, steeds kies om haar aksies volgens koninkrykswaardes in te rig?

Ds Gerhard Stoltz het die vergadering se gedagtes in ’n nuwe rigting gestuur. Hy het geredeneer dat dit wel belangrik is wat mense binne die kerkgebou sien, maar wat sien hulle wanneer ons daar wegstap? Die identiteit wat ons binne die kerkgebou bely, mag nie by die deur agterbly nie. Die gesindheid waarmee ons mekaar in die gemeente ontmoet, behoort saam met ons die wêreld binne te gaan. Die vroeë volgelinge van Jesus het met ’n besondere dringendheid geleef. Hulle het geglo dat die evangelie nie bloot ’n boodskap was wat gehoor moes word nie, maar ’n werklikheid wat hulle lewens verander het. Daar was ’n dringendheid wat hul aksies bepaal en hul lewens ingerig het. Die belangrike vraag wat gestel is, is of ons dieselfde dringendheid as die vroeë volgelinge van Jesus ervaar.

Dit is juis waarom Ons bou saam! meer as net ’n mooi leuse van die Kommissie is. Om saam te bou, vra aksie. En hierdie aksie kan nie bloot uit menslike planne en strategiese denke voortspruit nie. Ons moet telkens bid: Here, rig ook ons aksies. Maar wie is die ons? Die ons is nie net die lede van die Kommissie van die AKV nie. Dit is nie net die ampsdraers van die Hervormde Kerk nie. Die ons is die Kerk van Jesus Christus. Daarom kan ons almal bid dat die Here ons aksies sal rig.

Die leuse Ons bou saam! begin reeds wortelskiet. Dit word sigbaar in die gesprekke en visitasies met ringskommissies. Maar die leuse moet uiteindelik meer as net ’n gesprek tussen strukture wees; dit moet ’n leefwyse word. Daarom moet die bemoediging en kreatiwiteit wat tydens die gesprekke tussen die Kommissie van die AKV en die ringskommissies na vore kom, uiteindelik ook uitgeleef word. Wat ons saam bespeek, moet tot daadwerklike optrede lei. Om saam te bou, beteken nie net dat ons meer moet doen nie; dit beteken ook dat ons moet leer om dinge anders te doen, ons aksies vanuit ons roeping te rig en uitdagings met geloof en kreatiwiteit te benader.

Daarom rig die Kommissie van die AKV saam met die Kerk die volgende gebed: Here, rig ook ons aksies.