Matteus 22: 39; 1 Korintiërs 13: 13 en 1 Johannes 4: 16
So baie mense vra en smag na die sin en betekenis van die lewe. Antwoorde op hierdie soeke is te veel om op te noem. Mense gaan soek byvoorbeeld na sin en betekenis in geestelike en fisieke gesondheid. Ander weer, soek na sin en betekenis in meer geld, status of selfs mag. Die Bybel leer ons dat ware sin en betekenis in kerngesonde verhoudings lê. Verhoudings bring nie net sin en betekenis in ’n mens se lewe nie, kerngesonde verhoudings bring boonop die ware vreugde en geluk waarna die mens so dikwels smag.
Die relasionele van gelowigwees of kerkwees vereis ’n holistiese benadering tot verhoudings. Kerngesonde verhoudings begin met die besef dat God my eerste liefgehad het. God se verhouding met my sondaar menswees is die fondasie van alle ander verhoudings. God drie-enig is in ’n verhouding met my. As Vader versorg Hy my, as Jesus het Hy vir my sonde gesterf en die dood oorwin en as Heilige Gees is Hy Emmanuel God (God met my). Vanuit hierdie verhouding van God met my, werk ek aan ’n gesonde verhouding met God. Hierdie verhouding kom uit dankbaarheid van my kant af. My verhouding met God bepaal alle ander verhoudings waarin ek mag leef. Dit is ook belangrik om hard te werk aan ’n gesonde verhouding met jouself, want wanneer jy ’n gesonde verhouding met jouself het sal jou verhouding met ander mense groei en gesond raak. Die holistiese benadering tot verhoudings veronderstel dat alle verhoudings op die ander verhoudings inspeel.
Uit ervaring weet ons alle verhoudings is ’n uitdaging en verg harde werk. Verhoudings het aandag en tyd nodig om te gedy. Daarom is dit van kritieke belang dat ek sal tyd maak vir elke vlak van verhouding waarin ek leef. Gemeentes waar daar hard gewerk word aan verhoudings, waar doelgerigte aandag en tyd aan alle verhoudings geskenk word, is kerngesonde, geroepe gemeentes van God. In al drie ons teksgedeeltes het ons gelees en geleer hoe belangrik liefde vir enige verhouding is: God se liefde vir ons, ons liefde vir God en ons liefde vir ons naaste.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding