Haggai 1: 1-11

Haggai se dienstyd word presies aangedui. Dit vind plaas teen die horison van die Persiese Ryk se geskiedenis, in besonder koning Darius I se regering. Hy bou voort op die gang van ’n ryk wat bekend is vir verdraagsaamheid en effektiewe burokrasie en hy staan op die skouers van sy voorgangers, Kores en Kambyses wie se roemryke stede en dade ontsag afdwing. Dink maar aan Susa waar die verhaal van Ester afspeel, Pasargadae en Persepolis en by Bisitun, in wes-Iran, roem ’n rotshang die dade van Darius I.

Jerusalem daarteenoor is ’n murasie. Kores het al eerder Nebukadneser se ballingskapbeleid omgekeer. Uit Babilon keer die ballinge terug na hul heimat; met welvaart en met subsidies uit die skatkis van Kores.

Die terugkeer word gevier. Tussen die rommel van die eerste tempel kry ’n eenvoudige altaar gestalte en die hoeksteen van die tempel word gelê. Maar kort hierna sterf Kores en Kambyses het nie lus vir Juda se restourasie nie. Dreigemente deur die Samaritane is ook aan die orde en vals berigte galop na die stede van Persië. Boonop is die ekonomie aan flarde. Droogte, inflasie en pes het die welvaart opgevreet. Die rampe van buite spoel oor in die lewens van God se volk en die bouwerk aan die tempel, simbool van God se teenwoordigheid, word laat staan.

Tydens die nuwemaansfees in Augustus 520 vC klink God se woord. Hy berispe die volk vir hul ongeërgdheid. Ondersoek jul lewenswyse! Die belangeloosheid vir die herbou van die tempel is nie vanweë die ekonomie of struikelblokke nie, maar die gebrek aan liefde in die hart en siel.

Die uiterlike toestand van die tempel weerkaats die innerlike van God se volk. Maar die Here laat nie sy volk in moedeloosheid nie. Herbou die tempel! Dit wil die Here. Hy wil iets sigbaar maak; dat sy gemeente aan Hom verbind is.

Die herbou van die tempel skep ’n ruitverwysing waar die gemeenskap van heiliges mekaar ontmoet en saam die evangelie vier. So blyk dit dat die kerk nie terugtrek in die skadu’s nie, maar as ’n gemeenskap voor alle mense staan.

Hulle wat Christus bely en volg, hoort bymekaar en dit word nie gelaat vanweë omstandighede nie, maar kry vorm in die opbou van die gemeente.

Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege