Haggai 1: 12-14

Josua was die seun van die hoëpriester Jehosadak (God tree regverdig op) en het die ballingskap deur Nebukadneser aan die lyf gevoel. Jehosadak was die seun van die hoëpriester Seraja en in 2 Konings 25 word sy lot beskryf. Hy is na Ribla geneem en doodgemaak. Jehosadak sou in ballingskap sterf en nooit as hoëpriester diens verrig nie. Dit was Josua, soos talle ander ballinge wat as nuwe geslag na Jerusalem terugkeer en vanuit ’n verskeurde en gebroke verlede luister hulle na die Here en sy profeet.

Die woordorde in die teks is betekenisvol. Voorop gaan die stem van die Here. Die prediking geskied nie sonder Haggai nie, maar in en deur hom hoor die gelowiges God se woord.

Dit is ’n woord wat nie in sentimentaliteit toegedraai word nie, maar na ’n ontmoeting met God lei en hierdie ontmoeting ruk al die sluiers aan flarde. Dit vra nie net om gehoor te word nie, maar ook gehoorsaam te word.

Josua, soos die res van die volk, vra: Wat moet ons doen?

Dat die Here so deur sy woord werk, is vertroostend. Dit dui aan dat die prediking nie vanuit die gemeente of by die gelowige ontstaan nie, maar by God.

Dit behoort ons te laat vra: Waarom gaan ons kerk toe? Gaan ons net om na die prediking te luister? En wat wil ons hê moet dit aan ons doen? Moet dit ons begeester? Ons vermaak?

Ons kan die prediking vanuit ons eie behoeftes of die behoeftes van die gemeente verstaan, maar dan hoor ons net wat óns wil hoor, dan gaan die menslike vooraf.

Die orde is anders: Vanuit die prediking van Godswoord, word die gelowige en die gemeente verstaan. Vanuit die ontmoeting met God, bou die Here ons op, skep en wek Hy geloof en dade.

Waar God die mens in sy woord ontmoet, wek dit ’n reaksie. Dit vra hoe reageer ek hierop, want die gelowige kom te staan voor die waarheid. Hierdie waarheid ontmoet ons in Jesus Christus wanneer Hy ons vra: Maar julle, wie sê julle is Ek? (Matt 16: 15, AFR2020).

Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege