Haggai 2: 10-19
Haggai rig die woord van God aan die priesters.
Dit was hul taak om toe te sien dat die godsdiens in stand gehou word. Maar dit was ook hul taak om uitspraak te gee oor die voorskrifte vir die diens aan God. Hiervan lees ons ondermeer in Levitikus 10:10 (AFR2020) wanneer die Here met Aäron praat en voorskryf dat sy nageslag …onderskei tussen wat heilig is en nie heilig nie, en tussen wat onrein is en rein is.
Na die bouwerk aan die tempel hervat is, treusel die werk. Daagliks word die offers deur die priesters gebring te midde van halfklaar bouwerk en dit herinner eerder aan ’n liggaam wat ontbind as ’n aanbiddingsplek. Die opvatting dat reinheid en onreinheid oorgedra word, is aan die orde. Soos die bloed besprinkel word oor die volk en as skuldoffer dien, net so was die opvatting dat om aan iets onrein, soos ’n lyk te raak, tot besmetting lei (Numeri 19: 11).
Haggai beklemtoon die onderskeid tussen dit wat vuil en heilig is en dat dit baie moeiliker is om die heilige oor te dra as dit wat boos is. Dink maar aan die uitdrukking: Een vrot appel steek al die ander aan.
Die volk Israel hoor hulle moet weet wat is die onderskeid tussen die goeie en slegte en van die Here ontvang hulle die krag om die goeie te bou. Die gelowiges het nie net die gawe van die wet ontvang nie, maar hulle ken en aanbid die enigste en ware God wat Hom aan hulle openbaar.
Deur die eeue skenk die Here dit aan sy kerk. Die kerk weet wat die verskil tussen heilig en onheilig is, want in die diepste van haar bestaan is God. Dit is die gemeenskap met God soos dit in die aanbidding gestalte kry wat gelowiges laat sien wat die ware wese van alles is.
God skenk dit sodat nie net gelowiges, maar ook nie-gelowiges opgeroep word om te leef en op te tree vanuit God se aanwesigheid. Op grond hiervan kan die lewe nie neutraal geleef word nie, maar vra na God.
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege