Haggai 2: 19b-20
Dit bly ’n ontnugtering wanneer gelowiges by die graf van ’n geliefde die kluite op die kis hoor, terwyl die formulier … aarde tot aarde, stof tot stof, as tot as … klink.
Hieruit blyk ons aardsheid en ons hou daarmee rekening. Dit kan vanuit verskillende hoeke waardeer word. Ons kan ons aardsheid geringskat soos Origenes dit doen. Vir hom was die aardse lewe net straf. Dit herinner aan die gnostiese opvatting naamlik dat voor die skepping daar net geeste was. Vanweë die sonde het die geeste geval en as straf is die wêreld geskep en die geeste gestraf om as mense te leef. Dit veronderstel dat die aardse inherent net boos en sondig is en die geestelike suiwerder.
Die straf van die aardse kan ook as loutering verstaan word. Die wêreldse lewe word dan ’n vlugtige instrument om geloof te verdiep. Dit was Irenaeus se opvatting. Vir hom was die aarde ’n voorbereiding vir die hiernamaals.
Die Christelike geloof hou egter rekening met die historiese van die aardse lewe. Haggai het in sy preke telkemale die presiese dag en datum aangedui en in vers 19b-20 word die begin van God se beloftes dag en datum aangedui.
Vir Haggai staan die jaarkalender nie los van God se beloftes nie. Hy weet dat God met die geskiedenis iets wil en iets doen; dit is nie maar soos Ernst Troeltsch sê: ’n warm asempie op koue glas nie.
Terwyl Darius I die Persiese Ryk opdeel, vuurbakens op die rante oprig en korrespondensie tussen halfwegstasies snel, kondig Haggai aan dat God Juda se omstandighede gaan verander. Dit behaag die Here om die skepping, die aardse vir sy doel in te span. Die aardse en die stoflike is vir God nie noodsaaklik nie, maar dit dien God om sy volk aan Hom te bind. Hy wil ruimte en tyd en plek, Hy wil die aardse sodat die mens met Hom leef. Hy wil dat die gelowige sal wees, en doen dit deur dag en datum aan ons te skenk.
Deur die inkarnasie van Jesus Christus word dit soveel te meer werklik wanneer Jesus Christus die beloftes vervul, dag en datum, op Golgota buitekant Jerusalem.
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege