Efesiërs 1: 15-23

Hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken (Ef 1: 16-17).

God is in sy kerk teenwoordig en Hy doen alles wat nodig is sodat sy kinders, sy kerk, Hom kan leer ken soos Hy werklik is. Nie deur dit wat wie ook al van Hom sê nie. Dit is tog in elke geval net mense se getuienis van hul ervaring, of idees of vooropgestelde opvattings oor God. Ons kan dit noem: ’n sekondêre getuienis.

Vir hierdie suiwer kennis van Homself is die Heilige Gees die een wat intree en in die persoon wat met die Hemelse Vader in verhouding begin lewe se oë oopmaak om God so in sy Woord te leer ken dat daardie kennis nooit weer deur iets anders verdring of verwar kan word nie. Mense wat God só leer ken, hou hulle besig met dit wat God húlle van oortuig, belangrik is. Vanuit hierdie perspektief is Paulus besig om mense aan te moedig om in die voetspore van die Here Jesus Christus te leef.

Verkondig die evangelie, vergewe, wees gasvry, tree só op dat ander mense ook ons God wíl leer ken, soos hulle Hom in óns lewe raaksien.

Gebed

Heilige Gees, leer my om in ons Lewende Vader se teenwoordigheid te leef. Dankie dat ek deel is van u kerk, wat U self gevorm het en steeds in stand hou.

Amen.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb