1 Petrus

Hoeveel keer moet ek hoor dat iemand sê: dis tyd dat die Kerk standpunt inneem… oor een of ander saak wat so ’n persoon dink belangrik is. So asof die Kerk in die bevoorregte posisie is om te praat en almal gaan stil staan en luister. Ek het dit die afgelope jare beleef dat ek gevra word om geleenthede te open met gebed, en dan gaan mense maar net aan met die gesprekke waarmee hulle besig was. Die Kerk en die Woord van God het oënskynlik nie meer enige gesag nie, want mense het nie meer ontsag nie.

Is dit anders as die tyd toe Jesus mens geword het? Mense het nie eerbiedig gaan stilstaan wanneer Hy sy mond oopgemaak het om te praat nie. Hy is uit gedaag, toegesnou en uitgejou. Selfs kere wanneer Jesus iets gesê het, of wonders gedoen, het wat onteenseglik bewys het dat Hy van God die Vader af kom, is sy egtheid en sy gesag bevraagteken.

Dit het eskaleer tot die punt waar Jesus aan ’n vervloekte kruis sterf.

Maar Jesus het sy dissipels daarop voorberei het dat hulle dieselfde moet verwag wanneer hulle vir die wêreld van Hom gaan vertel.

Wat bly dus vir my en jou, die liggaam van Christus oor?

Ons dien ’n God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Dit is ons oortuiging en dit is die boodskap wat ons met liefde aan die wêreld gaan oordra. Dit word sigbaar in ons woorde en ons dade. En die Heilige Gees sal die oortuigingswerk doen. Gesag lê by God, nie by ons nie.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb