Psalm 77: 1-21
Net soos die Psalmdigter van Psalm 77 verval ek ook dikwels in die negatiewe denkpatrone wanneer ek deur my omstandighede oorweldig word.
Dit is so maklik om God daarvan te beskuldig dat Hy afwesig is of afsydig staan terwyl ek deur my situasie moet worstel.
Dit is eintlik so ironies, want God het tog in Jesus Christus se lewe, lyding en sterwe kom bewys hoe lief Hy ons het. Ons glo dit. Ons bely dit van harte. Om maar net weer in vertwyfeling te verval.
Hierdie negatiewe patroon bewys weereens vir my hoe geen mens uit eie krag staande kan bly in die geloof nie. Ons het God nodig om aan vas te hou. Ons het Jesus nodig, want Hy het vir ons sonde aan die kruis gesterf. Ons het egter ook die Heilige Gees nodig. Dit is juis Hy wat ons daarvan oortuig dat ons negatiewe denkpatrone ons al verder van God af wegneem.
Dit is die Heilige Gees wat ons aandag terugdraai na God. Hy het dit met die Psalmdigter gedoen in Psalm 77. Dit is Hy wat ons herinner aan die groot dinge wat God in die verlede gedoen het, en ons dan leer om raak te sien dat God vandag nog besig is om groot dinge te doen.
Dit is die Gees van God wat my ook leer om raak te sien en te verstaan dat my eie tydelike geluk of tevredenheid nie die belangrikste op aarde is nie. My strewe en doelwitte wat ek vir myself stel, is nie al wat saak maak terwyl ek op pad is na my ewige bestemming saam met God nie.
God se doel met my is altyd tot my voordeel. Ek moet hom heelhartig dien en op Hom fokus. Ek moet Hom vertrou.
Kom ons lees die Psalm stadig en aandagtig. Kom ons laat God toe om deur sy Gees ons gedagtes terug te bring na Hom.
Hy doen steeds groot dinge.
Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb