Matteus 28: 18-20

Hierdie is die groot opdrag. Alle gelowiges is hiermee baie goed bekend. Maar elke gelowige het seker al op ’n stadium deur hierdie opdrag oorweldig gevoel het. Hoe magteloos voel ’n mens as jy in alle erns jou Christelike opdrag probeer uitleef maar jy loop jou vas teen jou eie magteloosheid. Vir my persoonlik is my gebrek aan wysheid, kreatiwiteit, en heel dikwels, energie my grootste vyand terwyl ek probeer doen wat Jesus van my verwag.

Hierdie belewenis immobiliseer my sodanig dat ek uiteindelik niks vir Jesus Christus en die Koninkryk van God kan beteken nie.

Maar Goddank, die voortgang van die evangelie is nie van my en my belewenisse afhanklik nie. My vermoë waarborg nie die voortgang van die evangelie van Jesus Christus in die wêreld nie. Want Jesus het geweet dat as dit alles van my en ander soos ek afgehang het, sou die evangelie nêrens gaan nie.

Dit is egter louter genade as die Heilige Gees ’n mens se oë oopmaak om raak te sien dat Hy alreeds van die begin af elke beswaar en struikelblok raakgesien het en die oplossing voorsien het. Ek sê dit, want die oomblik as ek die twee waarborge in die sendingsopdrag raaksien, verander dit die hele prentjie.

Jesus het nader gekom en met hulle gepraat en gesê: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28: 18).

Die wêreld waarheen ons gestuur word met die verlossingsboodskap is alreeds onder die heerskappy van Jesus Christus. Hy wil ons gebruik om met óns getuienis vir sý eiendom te wys hoe ’n wêreld onder sy heerskappy ’n fees is.

Die tweede waarborg is in die versekering: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Hiermee sê Christus vir ons dat Hy ons stuur, ja, maar dat Hy die werk deur ons sal doen.

Dan beleef ons die vryheid van gestuurde van Christus te wees. Ons is net die instrumente waardeur God sy verlossingswerk al verder in die wêreld indra en sy Koninkryk uitbrei.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb