Habakuk 3: 1-19

Wat maak die meeste saak: God of al die dinge wat ons by hom kry?

Twee van die bekendste ander gelowiges wat deur soortgelyke krisis as Habakuk gegaan het, is Job en Paulus. Behalwe dat hierdie drie moeilike en swaar omstandighede in gemeen het, het hulle ook te midde van hul ontsettende omstandighede bly glo en hul geloof in God bly bely. Al het hulle nie altyd alles verstaan op die oomblik wanneer dit gebeur nie, het hulle deur hierdie moeilike tye bly glo in die liefde en regverdigheid van God.

Wat is Habakuk, Job en Paulus se geheim? Hoe kry hulle dit reg om te midde van hul moeilikheid, die Here te bely en hom te loof en prys? Die geheim wat hulle het, is die geheim wat alle gelowiges, alle Christene van weet of dan in elk geval van behóórt te weet. Daardie geheim is hoop. Dan praat ek nie van gewone hoop wat ons elke dag het in verband met geluk, werk, kos, klere, sukses en sulke dinge nie. Die hoop wat Christene het, is iets totaal anders. Dis juis wat die verskil maak, wat maak dat Habakuk ten spyte van nogtans kan bly glo.

In die loop van drie hoofstukke het daar so ’n groot verandering in Habakuk se lewe plaasgevind dat dit amper soos ’n ander mens klink. Ons sien en hoor ’n gelowige wat konstant besig gebly het met God; wat geworstel het met moeilike vrae; wat seer gekry het in die lewe, maar wat tog uiteindelik by ’n antwoord uitgekom het. Die geheim van hierdie geloofsvertroue lê in die belydenis: Die Here my Gód gee vir my krag…

Dis nie op eie stoom wat Habakuk, Job en Paulus kan jubel en vir God kan loof en prys terwyl hulle fisies sukkel om kop bo water te hou nie. Dis omdat God vir hulle die krag gee. Die vraag is nou net: Is God alléén vir u en my genoeg wanneer ons sonder sy seëninge moet klaarkom?

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend