Jesaja 40: 12-31

Wie is hierdie God wat ons aanbid?

In ons skrifgedeelte het ons van enkele eienskappe van God gehoor, onder andere dat Hy nie ’n dooie, lewelose beeld is nie, maar lewend. Hy is die lewende God. Hy is Skepper.

Elders in die Bybel leer ons ook die volgende:

Genesis 17: 1b: Ek is God, die Almagtige. Hy is nie net magtig (soos die duiwel ook maar is en baie mense ook!) nie, maar Almagtig. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Niks!

Deuteronomium 6: 4: Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here (AFR33/53). Daar is nie nog ’n ander God nie. Hy is voor alles en sal ná alles die Enigste wees. Alle ander dinge en mense wat as gode voorgehou word, is afgode/skyngode. Hy alleen is God.

Psalm 139: God sien alles, ken alles, bepaal alles. Hy is alomteenwoordig, maak nie saak waar ek my bevind nie. Hy is daar. Hy het my ook geskep. Selfs al my lewensdae is bepaal voor ek nog gebore was!

Jesaja 43: Hy ken my. Hy het my op my naam geroep nog voor ek was.

Psalm 121: Hy is my Beskermer. Ek hoef niks te vrees nie. Hy is die Getroue – is nooit aan sy woord ontrou soos mense se gewoonte is nie.

Psalm 103: Hy is ook barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde.

Regdeur die Bybel kan ons gaan lees en oral sulke belydenisse oor God vind. Belydenisse wat tegelyk vertel van die mens se bietjie verstaan van God en van ons afhanklikheid van God. Ons sal Hom nooit absoluut volledig kan ken nie, want Hy is immers God.

So, wat sal ons dan van God kan begin sê? Hoe sal ons al die eienskappe van God kan opsom? Die beste wat ons kan doen, is om in die woorde van 1 Johannes 4: 8 en 9 te sê: God is liefde! Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend