Openbaring 3: 1-6
In Sardis het kerklike afvalligheid ’n dieptepunt bereik. Hoewel dit die dominee van die gemeente is wat aangespreek word, is sy opdrag om dit vir die hele gemeente te gaan vertel, want dit gaan oor hulle almal. Op die oog af word al die regte dinge in die gemeente gedoen, maar as ’n mens dieper gaan kyk dan dra niks daarvan enige gewig of inhoud nie. Daar was geen sprake van vervolging, gevangenskap, marteling, verdrukking of dood nie. In hierdie stad van wolfabrieke en ’n ryk koning, het dit eintlik seker maar té goed gegaan.
Hopelik gaan dit in die meeste gemeentes van die Kerk goed, maar nie té goed nie. ’n Mens is natuurlik dankbaar en bly as dinge soos goeie Bybelkennis, sinvolle en opregte gebedslewe, erediensbywoning, huisbesoek, kategese, offerbereidheid en finansiële voorspoed ons gemeentes kenmerk. Wanneer hierdie dinge egter outomaties of meganies aan die orde kom in gemeentes is die gevaar dat lidmate nie regtig meer dink aan waarmee hulle besig is nie. Hierdie dinge raak leeg en waardeloos, en die mense gaan geestelik dood.
Ons gesindheid teenoor hierdie dinge moet só wees dat dit vir ons goed en lekker is om besig te wees daarmee. Ons moet huisbesoek doen nie net omdat die kerkorde dit vir ons sê en die ouderlingevergadering van ons rekenskap gaan eis nie, maar omdat ons regtig wil weet hoe dit met ons lidmate in hul huise en met hul geloofslewe gaan en omdat ons daar wil wees as hulle ons dalk nodig het. Selfs al kan ons net ’n gewillige oor wees wat luister. Ons moet kerk toe kom, nie net omdat die dominee darem weer vir ’n slag in my huis was nie, maar omdat ek hier saam met ander mense wat teen die sonde stry die Here wil aanbid en net in my hierwees ook húlle geloof wil versterk; omdat ek ook omgee vir ander; omdat ek besef dat ons tydjie op aarde maar kort is en ons elke geleentheid moet aangryp om die Here te dien.
Gebed
Here, laat my gees lewe.
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend