Psalm 33
Psalm 33 begin met ’n duidelike en direkte oproep: Jubel in die Here, regverdiges, sing ’n loflied, opregtes! Loof die Here met die lier, speel vir Hom op die harp! Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit! (Ps 33: 1-4). Daar kan geen onduidelikheid wees nie. Herhaaldelik kom die oproep. Dit is asof die digter dit net nie genoeg kan beklemtoon nie.
Hy baseer sy oproep nie op iets wat met hom gebeur het nie. Hy was nie so bly omdat ’n groot geluk hom getref het of al sy probleme skielik soos mis voor die son verdwyn het nie. Nie op grond van wat met hom gebeur het nie, maar op grond van wat die Here doen en wie Hy is, roep die digter ons op om te sing. Die Psalmdigter roep ons op om bietjie verder te kyk as onsself en ons situasie.
Die doel van hierdie psalm is om ons te laat kyk na die skepping en te laat dink oor die geskiedenis sodat ons kan bely dat die Here ons hulp en beskermer is op wie ons vertrou en ons kan bid: Hou u liefde oor ons.
Nie op grond van onsself of ons situasie moet ons die Here loof nie, maar op grond van dit wat die Here doen en wie Hy vir ons is. Dit is nie vir ons maklik nie. Dit is eenvoudig so dat ons omstandighede en ons eie vermoëns soms ons emosies en stemming bepaal. Dit is so dat hierdie dinge soms maar ’n negatiewe invloed op ons godsdiensuitlewing het, op ons jubel voor God. Juis daarom kan en moet ons soms maar ons omstandighede vir ’n oomblik eenkant laat lê en in elk geval die Here uit ons hart loof en prys, al voel ons nie altyd so nie. Wees verseker dat die Here juis ook sulke tye gebruik om ons harte te verander. Tesaam daarmee kan ons met vertroue bid dat die Here sy liefde oor ons sal hou. Dit is immers net die Here se liefde wat ons laat lewe.
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend