Romeine 8: 18-30

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Rom 8: 28).

In tye van twyfel en onsekerheid is dit maklik om vas te kyk in die onmiddellike situasie. Ons vra dalk: Waarom gebeur dit? of Is daar sin hierin? Paulus herinner ons egter aan ’n fundamentele waarheid wat ons hoop standhoudend maak: God laat alles ten goede meewerk.

Hierdie vers is nie ’n waarborg dat ons nooit pyn of lyding sal ervaar nie. Dit beteken wel dat God, in Sy soewereiniteit en liefde, in staat is om selfs die moeilikste omstandighede te gebruik vir sy groter plan en vir ons beswil. Dit is ’n belofte van ’n God wat getrou is, ’n God wie se voorneme met ons altyd goed is.

Hierdie sekerheid van God se beloftes voed ons hoop vir die toekoms. Dit herinner ons daaraan dat, selfs al verstaan ons nie die pad nie, God die bestuurder is. Hy is besig om ons lewens te weef in ’n tapisserie van sy volmaakte wil en die voleinding sal ’n pragtige openbaring van sy wysheid en liefde wees. Ons hoop is nie gebou op ons vermoë om alles te verstaan nie, maar op God se onfeilbare karakter.

Mag die wete dat God altyd ten goede werk, jou hoop vandag versterk.

Gebed

Here, wanneer ons swaar kry en lyding ervaar, is dit moeilik om ons oë gevestig te hou op die ewige heerlikheid wat u vir ons voorberei. Gee vir ons wysheid en insig dat ons ten spyte van swaarkry ons oë gerig sal hou op U. Dankie dat Romeine 8 ook vir ons sê dat wanneer ons deur die lewe en die seer van die lewe oorweldig word, U ook vir ons bid in versugtinge wat ons nie in woorde kan sê nie. Dankie dat ons net in u teenwoordigheid kan wees en u genade en liefde kan voel. Gee vir ons elke dag die krag sodat ons kan weet dat alles nie tevergeefs is nie.

Amen.

Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank