1 Korintiërs 15: 1-14
En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud (1 Kor 15: 14).
Die hoop wat ons as Christene in ons harte dra, is onlosmaaklik verbind aan die opstanding van Jesus Christus. Sonder Sy opstanding sou ons geloof leeg wees, ons prediking nutteloos en ons hoop ’n ydele droom. Paulus herinner die Korintiërs dat die opstanding nie bloot ’n opsionele deel van die evangelie is nie, maar dat dit die hartklop van die evangelie is.
Die opstanding is die bewysstuk van die voleinding wat God vir ons beplan het. Dit is die voorsmaak van die ewige lewe, die triomf oor die graf. In hierdie gedeelte van 1 Korintiërs verskaf Paulus ’n magdom getuienis. Hy herinner hulle dat Jesus ná sy opstanding aan Petrus verskyn het, daarna aan die twaalf, en toe aan meer as 500 mense op dieselfde tyd. Hierdie was nie vae visioene nie; dit was werklike ontmoetings met die opgestane Here. Omdat Christus opgestaan het, is ons ook verseker van die vergifnis van ons sondes. Sonder sy oorwinning oor die dood sou ons nog vasgevang wees in ons oortredinge en ons geloof in Hom sou nutteloos wees.
Omdat Christus opgestaan het, kan ons ook uitsien na ons eie opstanding en die ewige teenwoordigheid by Hom. Dit verander ons persepsie van die dood, van ’n finale einde na ’n deurgang na ’n heerliker bestaan. Hierdie werklikheid gee ons ’n lewendige hoop (1 Pet 1: 3). Dit beteken dat ons nie met ’n vrees vir die einde leef nie, maar met ’n verwagting van ’n nuwe begin.
Dit is hierdie hoop wat sin gee aan ons lyding, want ons weet dat dit net tydelik is en dat ewige heerlikheid op ons wag. In ons swakheid, in ons beproewinge en in ons pyn, kan ons vashou aan die sekerheid dat Christus se opstanding die laaste woord oor ons lewens spreek. Die graf is leeg, en ons toekoms is in sy hande.
Laat die krag van Christus se opstanding jou vandag vul met onwankelbare hoop en blydskap oor die ewige lewe wat reeds vir jou bewerkstellig is.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank