Romeine 5: 1-11
Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop (Rom 5: 3-4).
Dit klink dalk paradoksaal, maar Paulus sê ons moet roem in ons swaarkry. Waarom? Omdat dit ’n proses is wat uiteindelik lei tot ’n sterker, dieper hoop. Verdrukking bewerk volharding – die vermoë om vas te byt wanneer dinge moeilik is. Volharding bou karakter, ’n beproefde geloof wat standhou onder druk. En hierdie beproefdheid lei tot ’n onwankelbare hoop.
Hierdie proses is essensieel vir ons geestelike groei en vir ons verwagting van die voleinding. Die uitdagings van die lewe is nie nutteloos nie; God gebruik dit om ons te vorm en ons voor te berei vir sy ewige koninkryk. Sonder die vuur van beproewinge sou ons geloof nie so gesuiwer word nie en sou ons hoop nie so diep gewortel wees nie.
Dit beteken dat selfs in ons moeilikste tye, ons ’n rede het om hoopvol te wees. Die lyding wat ons nou ervaar, is ’n tydelike proses wat ’n ewige doel dien. Dit is ’n herinnering dat God aktief in ons lewens werk, selfs wanneer ons dit nie verstaan nie. Hy is besig om ons karakter te slyp en ons hoop te versterk, sodat ons met groter vertroue kan uitsien na die dag wanneer alles nuut gemaak sal word.
Flam 118 sê:
Bly volhard soos atlete – dis God wat ons wedloop bepaal. Daar ’n skaar’ verlostes wat wag om die baan dat ons almal die wenstreep sal haal.
Elke las moet ons afgooi – die sonde wat maklik verstrik – dat ons God se pad met volharding kan loop; dis die pad na die ware geluk.
Hou die oë op Jesus – ons Vriend, ons Verlosser, ons Hoof. Vir die vreug daarná het Hy smarte verdra; Hy begin en versterk ons geloof.
Laat die wete dat God selfs verdrukking gebruik om jou geloof en hoop te versterk, jou vandag bemoedig.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank