Efesiërs 4: 25-32
Ons dink vandag na oor wat dit beteken om God se woord, te oordink, te bepeins. Dit gaan daaroor om God se Woord te lees en ons wat toelaat dat dit in ons gedagtes bly. Ons hart en lewe te vorm. In ons te bly. Ons lewe en optrede, ons gedagtes te bepaal. Daar is verskillende gedeeltes in die Bybel waar ons lees van die waarde om God se woord en dade te oordink. Een so voorbeeld is Psalm 1 waar die digter stel dat dit goed gaan met dié wat God se woord dag en nag oordink.
Om God se woord te oordink te bepeins, beteken dat ons ons na ons eie lewe kyk in die lig van dit wat daar staan om toe te laat dat dit wat ons lees in ons gedagtes bly. Om wanneer ons ’n teks soos Efesiërs 4:25-32 lees, jouself af te vra: Hoe dikwels sluit ek my dag kwaad af? Is die laaste gedagtes voordat ek rus van die dag nog oor die woede, oor die seer wat ander my aangedoen het? Is dit wat ek sê goed en opbouend vir die wat dit wat ek sê moet aanhoor? Is ek verbitterd? Is ek ’n woedende persoon? Is my woorde kras? Het ek ’n sagte hart? Vergeef ek ander maklik? Aanvaar ek dat God my in Christus vergewe het?
Om God se woord te oordink, is om hierdie vrae oor wie ons is en wat ons doen voor God te bring. Om in God se teenwoordigheid te wag op die Gees wat ons antwoord. Dit wat ons hoor en lees saam met ons te dra in die dag en bewus te wees van God by ons en toe te laat dat dit die koers van ons lewens verander en bepaal.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten