Johannes 14: 1-14
Ons word in die gedeelte weer herinner dat Jesus God met ons is. Deur Jesus sien ons hoe God is en hoe God wil dat ons lewe. Ons word aangemoedig om ook in ons eie omstandighede in Jesus te bly glo, te bly vertrou op die Een wat die weg en die waarheid en die lewe is. Jesus wil ons leer om soos hy niks uit ons eie te doen en te sê nie, maar met alles in ons lewe eers na God te gaan. God is die bron van ons krag, by wie daar altyd vir ons ’n tuiste is, plek van stil word en rus, hoor en luister sodat ons kan bid en leef soos wat die Here van ons vra.
Daar is vir ons woonplek by God, gereed gemaak deur Jesus. Hierdie bevestiging van ons welkom wees in God se teenwoordigheid, geld nie net vir die lewe hier en nou nie. Dit bevestig ook die wete dat ons ewig mag lewe saam met Jesus by God. Die dood het deur Jesus nie mag oor ons nie. Wanneer ons ons lewe hier op aarde in God se teenwoordigheid afsluit, leef ons voort saam met Jesus by God in ons ewige woonplek wat Jesus deur sy dood en opstanding vir ons gereed gemaak het.
Gebed
Here dankie dat u vir ons die weg van die lewe is, en die weg na die lewe wys. Dankie dat u Gees ons hier en nou in hierdie lewe u teenwoordigheid laat ervaar. Dankie dat u liefde vir ons oor die grense van die dood strek. Dankie dat Here Jesus dat ons saam met u ewig tuis mag wees by ons Hemelse Vader. Amen.
Gesang 588: 1
O God van hoop, gee ons u vrede,
leer ons soos kinders op U wag.
Ons wil in stryd en moeilikhede
van U alleen ons heil verwag.
As ons geen weg meer verder sien nie,
help ons om net u op U te bou,
wat onaantasbaar van en seker
u Woord en u beloftes hou.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten