Lukas 18: 35-43 (AFR2020)

Die grootsheid van die wonder wat Jesus vir die blinde man doen om hom te genees sodat hy weer kan sien, gaan soms vir die van ons wat kan sien by ons verby. Ons aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons kan sien. Soos die skare wat langs die pad verby hom loop, verstaan ons nie die nood en die dringendheid waarmee hy na Jesus roep nie. Jesus hoor hom roep, gee opdrag dat hy na Jesus gebring word. Met die woorde Sien weer, word die man van sy blindheid genees.

Soms in die lewe het ons ook nodig om die woorde te hoor: Sien weer, omdat ons nie regtig sien nie. In ons lewe van elke dag sien ons dikwels nie die nood, die hartseer van die mense om ons raak nie. Dalk ervaar jy hoe ander jou nie in jou nood raaksien nie.

In die gedeelte wat vertel van die wonder wat Jesus vir die blinde man doen, kan ons hoor en sien dat Jesus die een is wat ook vir ons daar is waar ons nie meer kan sien nie, dit voel of die dinge van die lewe ons blind maak en alles donker is om ons.

Jesus roep ons ook nader. Staan stil by ons. Die man in die verhaal word nie net van sy fisiese blindheid genees nie, maar word ook geestelik gered wanneer hy na sy genesing vir Jesus volg en God prys. Dit sê dat ook ons by Jesus genesing en krag kan vind. Jesus hoor ons roep, sien ons in ons nood. Staan by ons stil. Spreek woorde van genesing en krag oor ons uit, sodat ons saam met Jesus, in God se teenwoordigheid, kan lewe. Kan weet daar is lig, lewe en toekoms, omdat God by ons is.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten