Johannes 2: 13-22
Jerusalem word die plek van Jesus se oorwinning – sy Lydenspad tot sy Verheerliking. God is op die aarde teenwoordig en sy adres is nie net die tempel nie. In Jesus kom staan God reg voor ons, in Jesus sien ons die Gesig en Hart van God vir ons. God het kom intrek in ons buurt en ons kan nie sy teenwoordigheid tussen ons en by ons ignoreer nie.
God is orals. Jesus is Immanuel. Ek moet leer om Hom oral raak te sien, oral te beleef al kyk ander Hom mis. God is orals. Hy is steeds die Here. Hy het nie moed verloor met ons nie. Dit gebeur wanneer ek toelaat dat die Woord regtig die lig vir my pad en die lamp vir my voete is. Wanneer ek die Woord nie maar net vir my stiltetyd gebruik nie, maar dit daagliks saamneem na die regte lewe toe. Dan leef ek doelbewus en bewustelik in die Here se aanwesigheid.
’n Tempel kan platgevee word. Hulle kan dink dat om Jesus aan ’n kruis te hang sou die einde wees van Hom, maar Jerusalem word die plek waar Jesus sy oorwinning behaal en die plek van waar die evangelie van redding die hele wêreld ingaan. Ons beleef vandag nog hoe die wêreld beweer dat daar nie ’n God Drie-Enig is nie, of dat Hy beslis nie hier by ons te vinde is nie. Ons beleef hoe Christene vandag nog met hulle lewens boet omdat hulle God bely. Die wêreld wil God in ons midde en in ons woonbuurte ontken, maar ons leef saam met Hom elke dag. Leef hierdie waarheid voluit.
Die Heilige Gees is elke dag ons Toergids en ons Voorloper. Luister na Hom, volg Hom en gebruik die padkaart wat tot jou beskikking is om jou pad elke dag te navigeer. Neem die Woord van God elke dag saam met jou waar jy ook al gaan en gebruik dit om die regte pad saam met die Gees te vind.
Ds Heloise Herbst, Rietvallei