Soms is daar in die Bybel iets waarvan die betekenis nie heeltemal duidelik is nie. Dan kan inligting wat uit buite-Bybelse bronne verkry word, moontlik meer lig werp op die teks waarvan die betekenis moeilik is om te verstaan. ’n Goeie voorbeeld is die verhaal van die Persiese militêre bevelvoerder Masistius wat in 479 vC gesneuwel het.
In Jona 3: 8 word vertel dat die koning van Nineve ’n dekreet uitgevaardig het waarvolgens almal in die stad, mense én diere, rouklere moes aantrek. Jona het ’n oordeelsaankondiging in Nineve gelewer wat die verwoesting van die stad sou meebring as die mense hulle nié tot die Here bekeer nie. Sy preek het gelui: Nog net veertig dae, dan word Nineve verwoes! (Jona 3: 4, AFR2020).
Wat presies die roukleed is wat vir die diere aangetrek is en waarna Jona verwys, is nie duidelik nie. Die Bybel bespreek die saak nie verder nie en gee ook geen aanduiding van hoe daardie roukleed gelyk het nie.
Die profeteboek Jona is ná die Babiloniese ballingskap geskryf. Die meeste teoloë aanvaar dat die boek in die vyfde of vroeë vierde eeu voor Christus geskryf is. Op die laatste in die derde eeu voor Christus, maar beslis nie later nie.
In die boek is daar heelwat leenwoorde en motiewe wat gedurende die Persiese tyd sterk in omloop was. Die moontlikheid word dus nie uitgesluit nie dat die Persiese tyd en kultuur ’n groot invoed op die skryf van die boek kon gehad het. Die gedagte dat die diere rouklere aangetrek moes word, speel af teen die agtergrond dat Nineve 40 dae tyd gekry het om te bekeer.
Die verhaal van Masistius
In die British Museum is daar ’n paneel wat die dood van die beroemde Persiese veggeneraal Masistius uitbeeld (sien foto). Masistius het in ’n oorlog tussen die Perse en die Grieke in 479 vC op die slagveld gesneuwel. Ná sy dood is al sy perde en muile se maanhare afgeskeer. Die bevelstruktuur se uitgangspunt was dat dié diere saam met die soldate moes rou.
In Persië het die mense en hul diere ’n geheel gevorm. Die diere was byna soos lede van die familie. Tydens ’n routyd is voorsiening daarvoor gemaak dat hulle saam moes rou. Afhangende van die omstandighede, is die diere se maanhare soms afgeskeer, of is ’n bepaalde roukleed oor hulle gehang. In die geval waar perde of muile as trekdiere gebruik is om die doodsrytuig te trek, is ’n roukleed oor die diere getrek.
Volgens Herodotus het een van die Griekse boogskutters Masistius se perd in die sy raakgeskiet, wat tot gevolg gehad het dat Masistius van sy perd afgeval het. Die Atheners het hom daarna doodgemaak deur hom deur sy oog te steek. Toe die Persiese ruitery opmerk dat Masistius nie onder hulle is nie, het hulle teruggegaan in ’n poging om sy liggaam terug te win. Aanvanklik was hulle suksesvol om sy liggaam terug te kry, maar toe meer Grieke by die geveg aangesluit het, het hulle die stryd gewonne gegee.
Die Grieke het Masistius se oorskot op ’n wa gelaai, en om die moraal van die soldate te versterk, het hulle met hom voor die Griekse linies verbygery om hom as krygstrofee vir hulle te wys.
Masistius se dood was ’n groot verlies vir die Persiese magte. Hy was nie net ’n bedrewe militêre leier nie, maar het ook noue bande gehad met die skoonseun van Xerxes, wat toe die koning oor Persië was. Tot in die stadium toe hy dood is, het hy van voor gelei en die Grieke gevoelige verliese toegedien met slim taktiese aanval- en vlugroetines.
Nadat Masistius se dood bekend geraak het, het die hele leërmag as ’n teken van rou hul koppe kaal geskeer en hul perde se maanhare afgesny. Die Perse het daarna nog ’n paar dae vertoef om klaar te rou voordat hulle verder na Plataea vertrek het vir die finale afhandeling van die Slag. Volgens Herodotus het die Grieke die Slag van Plataea gewen. Hulle het slegs 192 soldate verloor teenoor die Perse se verlies van 6 400 soldate.
Die Assiriese dieretooisels
Die Assiriese mag was die eerste wat van ysterwapens gebruik gemaak het. Dit het aan hulle ’n geweldige voorsprong gegee teen hul vyande, wat nog van bronswapens gebruik gemaak het.
Hulle het hul perde met ’n harnas bestaande uit inlegsels van leer en yster beskerm. Die sukses wat die Assiriërs op die gevegsfront behaal het en die wreedhede waarmee hul aanvalle gepaardgegaan het, het baie daartoe bygedra dat hulle in die oë van ander volkere as ’n arrogante nasie beskou is. Tydens amptelike seremonies is die perde wat aan die optog deelgeneem het, met kleurvolle teuels en gespes, en saalklede, toegerus. Dié uitrustings het tot spoggerige geleenthede bygedra.
Wanneer die perde vir rouseremonies, soos die begrafnis van ’n koning of hoë amptenare, ingespan is, is die diere spesiale routeuels en ’n roukleed aangetrek om aan die roustoet deel te neem. So ’n roukleed was normaalweg swart en het soos ’n rok oor die hele perd of muil of ander dier gepas.
In Jona 3: 8 word niks gesê van diere waarvan die maanhare afgesny of die hare geskeer moes word nie. Daar word slegs gesê dat vir die diere rouklere aangetrek moes word. Die bedoeling is waarskynlik ook dat die roukleed wat die diere aangetrek moes word, dié tipe kleed was wat die mense tydens Assiriese begrafnisgeleenthede vir die diere aangetrek het.
In die Assiriese konteks is die diere by rougeleenthede betrek omdat die mense ’n noue band met hul diere gehad het.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)