Geen sorge sleep ons meer, want ons is afgetree! Met dié tong-in-die-kies-woorde is daar tydens die Eendrachtkring se veertigste verjaarsdagviering beslis ’n glimlag op gesigte geplaas. Maar agter die humor lê ’n veel dieper verhaal: dié van 40 jaar se verbondenheid en solidariteit met die Hervormde Kerk. Op 17 September 2026 het die Eendrachtkring by Gemeente Wonderboompoort byeengekom om hierdie besondere mylpaal te vier. Sedert die groep in 1986 in opdrag van die NHSV-hoofbestuur tot stand gekom het, het dit ’n waardevolle ruimte geskep waar emeriti kan saamkuier en mekaar kan aanmoedig en inspireer.
Onder leiding van mev Kotie Viljoen, voorsitter van die NHSV-hoofbestuur van 1983 tot 1986, is ’n fondament gelê waarop die groep oor vier dekades kon voortbou. Die geskiedenis van die Eendrachtkring is nie bloot ’n verhaal van vergaderings en byeenkomste nie, maar van mense wat mekaar se lewens verryk het. Die ouer predikantspare het immers vir jonger pare ’n voorbeeld gestel en hulle geïnspireer. Dit is ’n nalatenskap wat vandag steeds voortleef, vertel mev Mari-lizé Beukes, die huidige voorsitter van die NHSV.
Ds Kalla Fourie, voorsitter van die Eendrachtkring, het die groep se strewe verwoord om teologies nuut te bly. Mev Mari-lizé Beukes het ’n groeteboodskap gelewer en ds Fanie Naudé het die geleentheid met ’n gedig opgevrolik. Die viering was ook ’n geleentheid vir mev Marita Fourie, die sekretaris van die Eendrachtkring, om opregte dank aan die NHSV uit te spreek vir die ondersteuning wat die groep deur die jare ontvang het, asook om ’n bietjie van die ontstaangeskiedenis van die Eendrachtkring te deel. Die borg van etes vir die twee jaarlikse byeenkomste in Mei en November is ’n voorbeeld van hierdie vennootskap.
In ’n tyd waarin kommunikasie al hoe vinniger verander, het die Eendrachtkring ook aangepas. E-posse en sms’e het lede op hoogte gehou, en in die afgelope paar jaar het ds Wilhelm Steyn ’n WhatsApp-groep gestig om kommunikasie met die lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat verantwoordelikheid neem vir emeriti te vergemaklik. Agter hierdie praktiese reëlings lê baie mense se getroue werk en bereidwilligheid om saam te werk.
Dr Daan van Wyk (jr) het tydens sy opening van die viering die byeenkoms verryk met ’n besondere perspektief op God se koninkryk. Met die bekendstelling van sy boek, Die Koninkryk van God: Perspektiewe op die aanbrekende Koninkryk, het hy herinner aan die waarheid dat God se koninkryk nie bloot ’n verre toekomsverwagting is nie. Hierdie boek is ’n opvolg op dr Daan van Wyk (sr) se laaste boek, Die Koninkryk van God: Perspektiewe op die eindtyd. Die aanbrekende Koninkryk is reeds hier en besig om deur te breek. Dalk lê die Eendrachtkring se geheim juis hierin. Aftrede beteken dalk dat sekere verantwoordelikhede verander, maar dit beteken nie dat jou roeping of diensbaarheid ophou nie. Solank mense mekaar bly inspireer en ruimte maak vir nuwe denke, dra ons by tot God se koninkryk.
Veertig jaar later is die boodskap dus duidelik: ons mag met humor sê dat die sorge ons nie meer sleep nie, maar ons is beslis nie klaar met die lewe, die Kerk of mekaar nie. Die Eendrachtkring se volgende hoofstuk wag – met dankbaarheid vir die verlede, entoesiasme vir die hede en hoop vir dit wat nog kom.
(Ds Iwana Kruger is die NHKA-joernalis en leraar van Gemeente Pretoria-Oos)