Op 13 Junie 2021 het prof MJ du P (Bieks) Beukes sy 80ste verjaardag gevier. Sy dogter, ds MJ (Marna) van der Westhuizen, kyk saam met prof Beukes terug oor sy besondere loopbaan in die teologie.

In die meeste teologiese fakulteite wêreldwyd is daar ses departemente. In die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika was daar vir baie jare net vyf. Praktiese teologie is nie gereken as ’n teologiese wetenskap nie. Sommige gedeeltes daarvan is deur die ander teologiese afdelings gedoseer. So is Homiletiek (preekkunde) onder andere deur die dosente van Ou en Nuwe Testament gedoseer. Liturgie is deur die dosent in Dogmatiek gedoseer. Van onderrig in pastoraat en kategetiek was daar nie sprake nie.

Praktiese Teologie het eers sy regmatige plek in die Kerk se Teologiese Fakulteit gekry met die aanstelling van prof JI de Wet in 1968 as hoogleraar in Praktiese Teologie. Prof De Wet het klem gelê op die feit dat Praktiese Teologie ’n teologiese wetenskap is en dat elke afdeling gegrond moet wees op Bybelse vertrekpunte. Dit het meegebring dat elke afdeling se jaarlikse aantekeninge skraps was. Dit het net gehandel oor die prinsipiële. Aan die praktiese inkleding is nie eintlik aandag gegee nie. Dit beteken nie dat prof De Wet nie aandag aan praktykopleiding gegee het nie. Van die begin af moes elke student drie klaspreke hou en studente moes ook in hul finale jaar in geïdentifiseerde gemeentes “huisbesoek” doen. Proefpreke is in Mei gehou en studente kon dan vir ’n sekere tydperk elke Sondag in ’n gemeente preek. Prof De Wet kan beskou word as die grondlegger van praktykopleiding in die Hervormde Kerk, en dus ook van die huidige Hervormde Teologiese Kollege ( HTK).

Prof De Wet is skielik in 1983 oorlede. Die Fakulteit het prof TFJ (Theuns) Dreyer en prof MJ du P (Bieks) Beukes, twee jong predikante, gevra om die klasse van Praktiese Teologie waar te neem. In daardie stadium het albei reeds gepromoveer in Praktiese Teologie – prof Theuns in Homiletiek en prof Bieks in Kategetiek. Prof Theuns het Homiletiek en Poimeniek (pastoraat) gedoseer, prof Bieks Kategetiek en Liturgiek. Hulle het ooreengekom dat, na die vulling van die pos in Praktiese Teologie, die ander een vanweë die wye omvang van die vak sou voortgaan met dit wat hy aanbied.

Prof Theuns is in 1984 aangestel as hoogleraar en hoof van die Departement Praktiese Teologie. Teologies, veral prakties-teologies, was prof Bieks en prof Theuns geesgenote. Hulle het vasgehou aan die Reformatoriese teologie. Hulle was oortuig dat Praktiese Teologie ’n teologiese wetenskap is, maar dat elke afdeling daarvan nie noodwendig op die Bybel gegrond hoef te wees nie. Die onderskeie vakke, bedieninge, is slegs draers, hulpmiddele om die boodskap van die Bybel by mense uit te bring. In ’n stadium het hulle tot die besef gekom dat daar baie hulpwetenskappe is wat benut kan word met die oog op ’n beter tuisbring van die Bybelse boodskap, onder andere sielkunde, opvoedkunde en didaktiek. Hulle het hierdie vakke benut as volwaardige wetenskappe wat hulpbronne vir die teologie kan wees.

Proff Dreyer en Beukes het elkeen voortgegaan met die dosering soos voor prof Dreyer se aanstelling en elkeen het ook verantwoordelikheid aanvaar vir die praktiese werk wat in gemeentes gedoen is. Mettertyd het prof Dreyer Evangelistiek by sy leergang gevoeg, en prof Beukes Jeugbediening, Kybernetiek (Kerkbestuur) en Gerontologie (Bejaardesorg).

Op 21 Maart 1986 kom die SVTT (Sentrum vir Teologiese Toerusting) in die Teologiese Fakulteit tot stand, met prof JH (Johan) Koekemoer as sy eerste direkteur. Die aanvanklike opdrag van die SVTT was die toerusting van predikante en lidmate. Die tweede direkteur van die SVTT word in 1989 aangestel in die persoon van prof Beukes met die opdrag praktykopleiding van die teologiestudente. Toe prof Koekemoer in 1990 dekaan van die Teologiese Fakulteit word, is prof LJS (Lourens) Steenkamp in sy plek aangestel by die SVTT. Sy primêre funksie was die koördinering van die Teologiese Fakulteit se navorsing. Op 28 April besluit die Dosentevergadering om die SVTT se naam te verander na die STNT (Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting). Vanweë finansiële redes en rasionalisering van die teologiese opleiding aan UP is die twee poste by die SVTT uitgefaseer. Dit was ook die einde van die SVTT. Daarna is die praktykopleiding van die studente voortgesit deur die HTK (Hervormde Teologiese Kollege).

In 1989 word prof Beukes aangestel as hoogleraar in die Kerk se Sentrum vir Teologiese Toerusting met die besondere opdrag praktykopleiding van die Kerk se teologiestudente. Hierdie Sentrum het selfstandig onder leiding van die dekaan gefunksioneer. Vir die praktykopleiding het proff Dreyer en Beukes saam die beplanning en die implementering gedoen. Die praktykopleiding het deurgaans saam met Praktiese Teologie gefunksioneer, maar ook afsonderlik. Sedert prof Beukes se voltydse aanstelling is praktykopleiding afsonderlik gekurrikuleer en is daar ook ruimte geskep vir afsonderlike periodes in praktykopleiding. Met kantore langs mekaar en koppe en harte wat dieselfde dink en voel, het prof Dreyer voortgegaan om leiding te gee in die Departement Praktiese Teologie en prof Beukes met die praktykopleiding en die oriëntering van vierdejaarstudente voordat hulle met teologie begin.

Kundige predikante en leiersfigure op verskillende terreine is benut om die teologiestudente so ver moontlik kundig en vaardig te maak met kerklike en gemeentelike praktyke. Hulle is genooi om enkele lesings vir die studente aan te bied. Dr JA (Kobus) van Biljon (pastorale berading), ds J (Japie) Coetzee (siekepastoraat), ds CJA (Tony) Simpson (evangelisasie), dr JC (Christo) van der Merwe (kerkbestuur), prof EC (Elsabé) Kloppers (Kerkmusiek), mnr Johan Bosman (jeugbediening Kital), dr WJ (Wilhelm) Coetzer (bejaardesorg), mnr JF (Kobus) Viljoen (administrateur), ds CL (Stoffel) Badenhorst (voorsitter van die Raad van Finansies) en mej Anna Venter (die Kerk se ouditeur). Gemeentes is ook geïdentifiseer waar die studente praktiese werk moes verrig saam met die plaaslike predikant.

Vanuit die SVTT is prediking (klaspreke en preke in die gemeente waar die student praktiese werk gedoen het), pastoraat en buitengewone pastoraat onderrig en bestuur. Prof Dreyer het albei afdelings waargeneem. Prof Beukes was verantwoordelik vir kategese, liturgiek, kerkbestuur en bejaardesorg. Die studente moes kategeselesse uitwerk en in die klas aanbied en ook ’n sekere hoeveelheid lesse in die gemeentes waar hulle praktiese werk gedoen het. Wat die liturgiek betref, het prof Beukes die vak in die Departement Praktiese Teologie aangebied. In die praktykopleiding is verder besin oor moontlike wyses waarop die erediens ingeklee kan word en hoe dit op ’n meer dinamiese wyse aangebied kan word.

Gedurende hierdie tyd het die afdelings Praktiese Teologie, SVTT en Kital ’n besondere rol gespeel in die Teologiese Fakulteit Afdeling A se vestiging van veral die Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT). Die direkteure van Kital, proff JH (Johan) Koekemoer, PA (Piet) Geyser, MJ du P (Bieks) Beukes en LJS (Lourens) Steenkamp, se besondere kennis en vaardigheid in beplanning en bestuur wat hulle opgedoen het met die bywoning van kursusse van die ATKV se bestuurs- en ontwikkelingskonsultante Serfontein en Du Toit, het ’n groot bydrae gelewer tot die aanbieding van die eerste VTT-kursusse. Proff Beukes en Geyser het kursusse van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) se Departement Didaktiek bygewoon, en prof Beukes ook ’n kursus in opleiding vir opleiers (RAU), Instructa ’80 (RAU), ’n kursus in beïnvloedingsvaardighede (Serfontein en Du Toit), High performance leadership (Frank Watson Associates), en ’n kursus in huweliksberading en traumahantering. Prof Steenkamp se kennis op die terrein van filosofie en navorsing was van groot waarde.

Verder het die kursusse wat geskryf en aangebied is deur Kital bygedra tot die voortgesette opleiding en toerusting van die Kerk se predikante, ouderlinge, diakens, kategete, rade en diensorgane. Van dié kursusse was in gesprekshantering, bejaardesorg, enkelouerskap, alkoholisme en dwelmverslawing, huweliksvoorligting, ’n diensgroep vir siekes en gestremdes, ’n diensgroep vir materiële nood, Skrifgebruik, toerusting van ouderlinge, toerusting van diakens, vestiging van diensgroepe, Gemeente-evangelisasietoerusting (GETP), toerusting van kategete, ’n kategetediplomakursus, motivering van finalejaarkatkisante, ’n skoolverwisselingskursus, en opleiding en ontwikkeling van personeel.

Prof Beukes was medestigter van die Werkgemeenskap Praktiese Teologie in Suid-Afrika en vir baie jare die penningmeester. Saam met die departemente vir Praktiese Teologie in die fakulteite van die NG Kerk, die Gereformeerde Kerke en die AGS, en die SAUK, het prof Beukes predikante en pastore toegerus vir die uitsending van radio- en TV-eredienste. Op sy inisiatief het hy saam met die RAU jaarlikse kategetekursusse vir lidmate aangebied.

Prof Beukes se jarelange besigwees met Praktiese Teologie en praktykopleiding van predikante het gelei tot die skryf van 26 wetenskaplike artikels in die HTS Teologiese Studies en ander teologies-wetenskaplike geskrifte, en meer as 100 wetenskaplik-populêre artikels in die Kerk se amptelike blaaie. Dit het verder die weg gebaan vir die skryf van die volgende boeke, die meeste prakties-teologies van aard:

  • ’n Handleiding vir kategese, 1979. Pretoria: Kital.
  • Huisbesoek, 1980. Pretoria: Kital.
  • Gelowige en vrymesselary, 1980. Pretoria: Kital.
  • Belangrike feite vir katkisante, 1982. Pretoria: Kital.
  • Kategese, ’n handleiding vir kategete, 1982. Pretoria: Kital.
  • Erediens 1, 1993. Pretoria: Kital.
  • Erediens II, 1994, Pretoria: Kital.
  • Eindredakteur en medeskrywer van 12 jaargange se kategesehandleidings vir kategese in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 1982-1989. Pretoria: Kital.
  • Eindredakteur en skrywer van volwassekategesehandleiding, 1986. Pretoria: Kital.
  • Eindredakteur en skrywer van Geloof en lewe, kategesehandleiding vir finalejaars, 2000. Pretoria: Kital.

’n Hoogtepunt van sy bediening was die voorreg en geleentheid om in 1998 saam met prof Lourens Steenkamp navorsing in die Verenigde Koninkryk en Europa te gaan doen by verskillende universiteite en praktykopleidingsentrums.

Praktiese Teologie en praktykopleiding het hand aan hand geloop tot in die jaar 2000 toe die teologiese fakulteite van die Hervormde Kerk en die NG Kerk een geword het. Vanweë rasionalisering en vermindering van dosente was prof Beukes een van die dosente wat moes uittree. Na sy uittrede is hy weer tydelik-deeltyds aangestel by die HTK om feitlik dieselfde werk te doen as voor sy voltydse uittrede. Hiermee het hy voortgegaan tot sy emeritaataanvaarding in 2006.

In 2003 het hy en dr Christo van der Merwe ’n kursus in brugbediening bygewoon, en so het dit gebeur dat hy na sy aftrede in 2006 in verskeie gemeentes in Suid-Afrika en Zambië as brugpredikant gewerk het, tot in 2018. Hy was moontlik die eerste brugpredikant van die Hervormde Kerk.

 

*** Met dank aan mnr Nándor Sarkady, argivaris van die NHKA se Kerkargief, en mnr Louwrens Pretorius, inligtingsbeampte, vir hul hulp met die navorsing vir hierdie artikel.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)