In die Bybel lees ons van die volk Israel se omswerwing van 40 jaar in die woestyn. Dit was hul straf omdat hulle ongehoorsaam aan die Here was. Die Here het ook 40 dae in die woestyn deurgebring waar Hy deur die duiwel versoek is.
Net so het die moderne mens ook sy woestyne waardeur sy lewensreis gaan. Soms is dit ’n paar dae, soms weke, maande of jare.
Ons is nie letterlik in ’n woestyn nie, maar ons lewensomstandighede is van so ’n aard dat ons in ’n innerlike of geestestryd gewikkel is. Daar is baie oorsake wat ons in konflik bring met ons innerlike menswees.
Die stote en klappe wat die lewe aan jou uitdeel, kan jou siel kneus en verniel. Daardie klappe kan deur so baie dinge veroorsaak word. Geweld, die samelewing, stres, verlies van ’n geliefde, egskeiding en siekte – om maar ’n paar oorsake te noem.
Almal van ons gaan deur ons woestyn op ons eie manier en ons het ook ons eie tyd wat ons neem om daardeur te werk. Daar is nie ’n wonderpil wat jy kan sluk om dit op te klaar nie. Jy moet daardeur wroeg en op jou knieë bly. Tree in gesprek met die Here. Praat met Hom. Leer geduld aan en moenie God voorskryf vir ’n antwoord nie.
Job het kwaad geword vir die Here omdat hy nie verstaan het waardeur hy gaan nie. Dit was nie sy eie toedoen wat dit veroorsaak het nie, maar Satan wat probeer het om sy geloof en vertroue in die Here te steel. Satan het hom gestroop van sy menswees en bestaan. Van ’n ryk man wat groot aansien geniet het, het hy gedaal tot ’n arm, siek, verwaarloosde man met net die klere aan sy lyf. Hy het geleef van die krummels van ’n ander man se tafel. Al waarvan Satan hom nie kon stroop nie, was sy lewe en sy geloof. God het nie vir Satan toegelaat om Job se lewe te neem nie. Job was so lief vir God dat Satan nie sy geloof kon vernietig nie. Job was nie tevrede oor sy omstandighede nie en het met God baklei. Hy het nooit sy respek vir en geloof in God verloor nie, maar geworstel met sy omstandighede.
Ons lees ook van Jona se woestyntyd in die maag van ’n vis oor sy ongehoorsaamheid. Hierdie moeilike tyd het deur sy eie toedoen oor sy pad gekom. Eers toe hy geleer het om gehoorsaam te wees, het sy lewe weer betekenis gekry.
So is ek deur ’n jarelange pad deur die woestyn waar ek moes worstel met siekte – dié van ’n kind, my man, myself, en die dood van ’n geliefde. ’n Stryd met huurders en sommer net die lewe. Soms het dit gevoel of ek die einde van die pad bereik het. My redding was dat ek nooit my oog van die Here afgehaal het nie. My geloof was soms die enigste kierie in die lewe wat my regop gehou het. Ek het die pad gestap. Soms was ek moeg en moedeloos, maar ek het met die Here gepraat, dag en nag. Nagte wakker gelê as slaap nie wou kom nie. Dan het ek met God gepraat oor alles wat in my gemoed was. Daar was tye toe ek God se teenwoordigheid by my kon voel. Soms was dit grafstil en oneindig leeg in my binneste.
Een mooi sonskyndag het ons langs die see gery, al met ’n bergpas langs. Bo-op die kruin het ons stilgehou en uitgeklim. Ons het oor die see uitgekyk. Voor my was so ver as wat ek kon sien, net water. ’n Nimmereindigende see van kalm, silwergrys water. Die wonder van die skepping en die grootheid van God het in my binneste kom nesskop. ’n Kalmte en ’n gevoel van vrede het oor my gekom, en ek het geweet my stryd is gestry. God het my gehoor en geantwoord. Nie soos ek wou hoor nie, maar op sy manier. Soos die Psalmdigter sê in Psalm 56: 14: …want U het my van die dood gered, my voet nie laat struikel nie, en met God by my kon ek my pad aanhou loop en die lewenslig bly sien.
NHSV Streekvoorsitter: Oos-Kaap
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)