Terwyl tans opnuut aandag gegee word aan die samesmelting van naburige ringe, is dit interessant om terug te kyk oor die proses van ringsvorming sedert 1909.
Vir die klein aantal gemeentes in die voormalige ZAR was ringe nie nodig nie. Tog het ds JC de Vries van Zeerust reeds op die Algemene Kerkvergadering (AKV) van 1882 die saak te berde gebring. Hy versoek dat de Algemene Commissie onzer Kerk worde afgeschaft en in plaats daarvan de Kerk in drie Ringe[n] verdeeld. Vanweë die mislukte kerkvereniging van 1886 vind dit nie plaas nie. Eers in 1909 is ’n Reglement vir Ringe deur die AKV aanvaar en ontstaan daar drie ringe met die 20 gemeentes: die Noordelike Ring met gemeentes Pretoria, Zoutpansberg, Waterberg, Rustenburg, Middelburg en Lydenburg; die Westelike Ring met gemeentes Potchefstroom, Venterskroon, Makwassie (Wolmaransstad), Lichtenburg, Ventersdorp, Klerksdorp en Marico; en laastens die Oostelike Ring gevorm deur gemeentes Ermelo (Chrissiesmeer), Volksrust, Johannesburg, Standerton, Vrede, Heidelberg en Krugersdorp.
In 1914 het ds LE Brandt in De Hervormer ’n verslag oor die sukses van die nuwe ringe geskryf. Hy beskryf dat vooruitgang in gemeentes sigbaar is weens die gedeelde kennis en ondersteuning tussen gemeentes. Hy erken ook probleme rondom kerkvisitasie wat nie altyd uitgevoer word nie.
Teen 1928 het die Kerk se sieletal tot 22 000 gegroei – twee maal soveel as in 1909. Dit het herindeling van ringe vereis om te waak teen die neiging dat ringe in drie kerkies ontaard, soos iemand destyds uitgewys het. So ontstaan vyf nuwe ringe (Potchefstroom, Zeerust, Rustenburg, Lydenburg en Standerton) en is die grondslag gelê vir die volgorde waarin ringe tans nog in die Almanak verskyn: die oudste ringe voorin, en telkens wanneer nuwe ringe gevorm is, agteraan, met die gemeentes in volgorde volgens stigtingsjare. Dit vind dus nie alfabeties of chronologies plaas nie.
Die Kerk het gedy en gegroei in getalle in die middel van die vorige eeu. Teen 1951 was daar ringe met tot 20 gemeentes. Die AKV van 1951 het, behalwe die aanvaarding van ‘n nuwe Kerkwet, ook die herindeling van ringe grondig hersien, onder meer met die oog op verkleining van die ringe. In die volgende vier dekades sou die Kerk bly groei en was verdere kleiner ringsverdelings ter sprake.
Daar bestaan 47 argiefgroepe met notules wat in die Kerkargief bewaar word, van al dié verskillende ringe wat oor die laaste 110 jaar gekom en gegaan het, want met elke nuwe ringsvorming begin in wese ’n nuwe argiefgroep.
(Mnr Nándor Sarkady is die argivaris van die NHKA)