Wat doen ’n mens as die strate vol gate is en die rommel meer word as die blomme langs die pad? Wat doen jy as daar nie meer stoptekens of straatname is nie? Wat doen jy as die verlede beter as die toekoms lyk? Soos op baie ander dorpe, het ons op Delmas besluit om iets te doen, want hierdie is die uitdagings waarmee baie dorpe gekonfronteer word.
Die datum 30 September 2020 is die geboortedatum van Delmas Herleef. Op dié datum het ’n groepie van ons bymekaar gekom om saam te dink oor hoe ons in Delmas en in die groter Victor Khanye-munisipaliteit ’n verskil gaan maak ten einde die omgewing te verbeter. Ons was van die begin af bewus van die belangrikheid om netwerke te vorm met verskillende rolspelers in die gemeenskap. Een van die groot rolspelers en vennote van Delmas Herleef is ons plaaslike stadsraad. Dit is vir ons belangrik om hulle te ken in dit wat ons wil doen, maar ook om die stadsraad te ondersteun in dit wat hulle moet doen.
Oor die afgelope 12 maande is verskeie vergaderings met die stadsraad gehou en die vriendelikheid en die waardering van hul kant af, moet vermeld word. Ons het ons beplanning met hulle gekommunikeer, en die stadsraad het ook hul beplanning met ons gedeel. Ons het diep onder die indruk gekom van die uitdagings waarmee hulle sit. Dit is baie duidelik dat diegene wat besluitnemingsbevoegdheid het nie noodwendig dieselfde toewyding en vaardighede het as diegene wat die werk moet doen nie. Baie van die werkers wil graag ‘n verskil maak, maar die kapasiteit om die werk te doen, ontbreek. Omdat die gereedskap en toerusting verouderd of buite werking is, is een van Delmas Herleef se groot uitdagings om die toerusting wat benodig word, te verkry.
Hier is die boerderygemeenskap van groot waarde. Op advies van Barend la Grange, wat voorheen bedryfshoof was van die stigting South Africa Day, het ons begin om skoon te maak, te herstel, te verf en te plant. Barend het deelgeneem aan die opbou van dorpe soos Coligny en Senekal, en sy filosofie is dat wanneer mense sien dinge verander, dan raak hulle betrokke by projekte.
Op grond van hierdie vier-punt-plan het ons sekere projekte geïdentifiseer waarvan sekere deurlopend plaasvind en ander weer eenmalig omdat dit ’n langer leeftyd het. So word daar op ’n gereelde grondslag rommel opgetel, en hierin is die stadsraad se cleaning team van groot hulp. Die bestuur van rommel en vullis bly seker een van die grootste uitdagings in die wêreld. Die langtermyn rommelplan is om meer vullisdromme en houers op strategiese plekke in Delmas te plaas. Hiermee saam is ons besig om te kyk na maniere om mense te leer dat rommel in ’n vullishouer hoort en nie maar sommer net op straat gegooi kan word nie.
Soos in die meeste dorpe, is die instandhouding van infrastruktuur ’n uitdaging. Die herstel van slaggate is ’n projek van ’n meer permanente aard. Hierin het Afriforum Delmas ’n vennoot geword deurdat hulle die vulsel voorsien waarmee die slaggate opgevul word. Onlangs het hulle ook stoptekens voorsien wat op 15 straathoeke opgerig is. Die verf van randstene het ons dorp se strate sommer beter laat lyk en ’n gevoel van herlewing geskep. Hiermee saam is ons besig om straatname aan te bring. Die straatnaamprojek sluit in die verf van straatname op randstene en die aanbring van naamborde. Inwoners borg die straatnaamborde, wat dan teen heinings aangebring word.
Begraafplase is in die meeste dorpe ’n kopseer, en Delmas Herleef het onlangs ook hieraan aandag gegee. Die bome is gesnoei, die gras is gesny en onkruid is verwyder. Ons is in ’n proses om die heining ook te herstel ten einde die begraafplaas ’n veiliger plek te maak.
Een van die volgende projekte wat beplan word, is die aanbring van groot naamborde en die plant van struike by die ingange na Delmas. Wanneer mense in Delmas inry, moet hulle welkom voel en ’n ervaring van gasvryheid beleef.
Ons is ook besig om hulp te verleen met die opknapping van Bothleng se ingang. Dit is ook vir Delmas Herleef belangrik dat al die inwoners van die Victor Khanye-munisipaliteit hoop en groei sal ervaar. Dit is belangrik dat almal sal deel word van die projekte.
Met dit gesê, is dit belangrik om te vermeld dat ons ’n toegewyde span mense het wat op ’n gereelde grondslag vergaderings hou om ons doelwitte te evalueer en indien nodig die nodige aanpassings te maak. Die uitdagings wat vanuit verskeie oorde kom, asook versoeke of selfs ’n verwagting om sekere projekte aan te pak, wat in sekere gevalle meer vra as wat ons kan doen, dwing ons om strategies en dinamies te dink. Betrokkenheid en toewyding is die sleutel tot sukses.
Ons is in ’n proses om Delmas Herleef as ’n NWO te registreer wat die bestuur en finansiering van sekere projekte sal vergemaklik.
Hoekom doen ons dit? Omdat die betaal van belasting en verwyte en beskuldigings nie ons dorp gaan verbeter nie. Ons kan debatte voer en sondebokke soek, maar dit help niks. Ons stem saam dat diegene wat betaal word, hul werk moet doen, maar op baie plattelandse dorpe kan gesien word dat die kundigheid en kapasiteit nie bestaan nie.
Delmas Herleef het ook ’n dieper dimensie. Ons voel geroepe om, as rentmeesters van God, dit wat aan toevertrou is, te versorg. Ons gevoel is dat dit elke inwoner se roeping is om betrokke te raak by die versorging en instandhouding van die omgewing. Dit wat elkeen kan doen, moet gedoen word. Dit wat net deur sommige gedoen kan word, moet ook deur hulle gedoen word. As beelddraers van God, moet ons betrokke raak en ondersteuning verleen.
Wat hou die toekoms in? Die uitdagings vir ons as Kerk is baie, maar so ook die geleenthede om die Hoop van Christus uit te leef. Met die herstel van straatligte en die verf van randstene word ’n omgewing geskep wat beter lyk en ’n gevoel van hoop bring. Ons gedagte is dat wanneer mense besluit om te emigreer, moet Delmas en elke ander dorp in Suid Afrika ten minste ook ’n opsie wees om te oorweeg. Ons het die verantwoordelikheid om daardie opsie lewendig te hou.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei …
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
(Gesang 284: 2)
Indien gemeentes hul roeping as Ligdraers wil uitleef, dan is die middedorp die ideale plek om dit te doen. Dit juis daar waar die Lig van Christus moet skyn, en dit is daar waar ons sout vir die aarde moet wees. Ons moet dalk op ’n Sondagoggend deur die middedorp loop en die Evangelie van Hoop juis daar gaan uitleef. Om te kla en te verwyt en op Facebook iets te sê, gaan nie ’n verskil maak nie. Ons moet die Hoop van Christus sigbaar maak.
Moue oprol en betrokke raak by die opbou van ons dorpe, is wat ons en ander nodig het. Mag ons dorpe herleef en veilige ruimtes word waar almal in vrede kan lewe.
(Dr Martin Jansen van Rensburg is leraar in Gemeente Delmas)







