Die lawwe verhaal word vertel van Paddy Corcoran se vrou.

Paddy Corcoran se vrou was jare lank siek. Sy was bedlêend en het allerhande medisyne probeer. Paddy was al raadop.

Toe, eendag, kom ’n vroutjie met ’n netjiese rooi mantel daar aan en sê: Kitty Corcoran, jy lê nou al lank genoeg so plat op jou rug – sewe jaar al – en jy’s nog net so siek soos die dag toe jy so gaan lê het.

Net so, sê Kitty, ek dink nou net daaraan.

Dis jou eie skuld, sê die vroutjie. Vandat jy siek geword het, gooi jou kinders jul skottelgoedwater teen skemeraand en voor sonop by die deur uit – presies wanneer ons daar verbyloop. As hulle ophou om dit te doen en die vuil water op ’n ander plek en op ’n ander tyd uitgooi, sal jou siekte wyk.

Met dié verdwyn die vroutjie. Kitty het gedoen wat sy gevra het, en die volgende dag was sy weer springlewendig en gesond – tot haar man se groot verligting.

’n Baie klein woord was die oorsaak daarvan dat sy jare lank gely het. Die woordjie is SKULD! Skuld steel ons lewensvreugde op soveel terreine. Andy Stanley het ’n boek geskryf met die titel Enemies of the heart. Daarin word beskryf watter baadjies “skuld” in ons lewe aantrek. Met watter baadjie sukkel jy dalk vandag?

Al daardie skuldgevoelens waarmee ons so dikwels rondloop, word gebore uit die gedagte: Ek skuld jou! Die meeste woede wat ons gedagtes verteer, word aangevuur deur die gedagte: Jy skuld my! Gierigheid se diepste grondslag sê: Ek skuld myself. Ek skuld myself tyd, ’n bederf, daardie mooi motor of klerekas. ’n Verrassende baadjie wat skuld aantrek, is jaloesie. Al daardie energie wat in my lewe getap word omdat ek myself met ander vergelyk, ander mense haat, toelaat dat ander my gedagtes verteer, is jaloesie wat sê: God skuld my!

Net soos ’n Psalmdigter jare gelede geskryf het, ervaar ons dit dikwels: Skuld droog jou krag op. Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe (Ps 32: 5).

Die water wat veronderstel was om jou lewenskrag te gee, verdwyn voor die impak van die hittegolf. As Christenvrou bely ons, soos ’n psalmis, daar is maar net EEN wat skuld kan “WEGNEEM”. In die genade leer ons God se liefdevolle goedheid ken in oomblikke wanneer ons stoei met skuldgevoelens, woede, gierigheid en jaloesie.

So dikwels dink ons daar is ander maniere om ons uit skuld te kry. Die een waaraan ons die meeste dink, is “geld”. Geld help ’n mens nooit uit jou skuld nie, skryf iemand. Laat ons soos Kitty Corcoran besef: Net so, ek dink nou net daaraan.

In Jesus Christus alleen ervaar ons SKULD-VER-GIFFENIS!

Laat ons vandag, as ons ons lewenstorie bedink, al die –
• skuldgevoelens (Ek skuld jou);
• woede (Jy skuld my);
• gierigheid (Ek skuld myself); en
• jaloesie (God skuld my)
neersit in belydenis voor ons Here en Verlosser. Kom ons trek die baadjie van “skuld” uit, sodat ons dié seisoen weer die verkwikking van somerwater in ons Heiland kan geniet.

NHSV Streekverteenwoordiger: Rustenburgstreek

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)