Daar is ’n ou Franse liefdesliedjie met die naam Ne me quitte pas – Moenie weggaan nie. Die liedjie verwoord iets van die hartseer van afskeid neem van iemand vir wie jy lief is. Daarom sê die liedjie, vry vertaal in Engels: If you go away, on a summer’s day, you might as well take the sun away… Met ander woorde: As jy sou weggaan, sal dit wees soos die son wat verdwyn en die donker wat toesak…

Die hartseer wat so baie mense die afgelope maande ervaar het rondom Covid-19, is die hartseer van afskeid neem. Van weggaan. Weggaan sonder die verwagting van terugkeer, en dit laat ons ’n treurlied eerder as ’n liefdeslied sing.

Tog kan ons ’n liefdeslied sing met ’n nuwe betekenis wat stadig maar seker uur vir uur, dag vir dag, week vir week, maand vir maand en ja, jaar vir jaar die donker sal laat verdwyn en die son weer sal laat skyn vir elkeen wat in geloof vashou aan God.

1 Korintiërs 13 praat van die liefde. En wanneer ons die woordjie liefde hoor, dink ons dadelik aan dit wat ons voel. Die samebindende liefde wat mense vir mekaar het.

Daar is egter ook ’n ander manier om liefde te verstaan en vanuit die inhoud van 1 Korintiërs 13 toe te pas. En dit is dat met die woordjie liefde hier elke keer na die een groot Liefde, Jesus Christus, verwys word. Die liefde wat versinnebeeld word deur die baba Jesus in die krip in Betlehem en die man aan die kruis op Golgota.

Die Bybel leer ons in 1 Johannes 4: 8: Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. En die teks sê dat God sy liefde aan ons gewys het toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het.

1 Korintiërs 13 sê die eienskappe van die liefde weer, maar wil ook vir ons sê dat ons lewe sonder liefde nie veel beteken nie en, meer nog, sonder Jesus Christus, wat Liefde self is, is ons lewe eintlik niks.

Hoekom?

Want toe hierdie Liefde, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het, was Hy nie alleen geduldig en vriendelik met almal nie, maar het Hy ook nie sy eie belang gesoek nie maar die belang van ons: van God se kinders. Daarom het hierdie Liefde, Jesus Christus, sy liggaam vir ons gegee toe Hy aan die kruis gesterf het. En nou is ons almal met God versoen. Nou hou God nie meer boek van ons kwaad nie. Nog meer: Jesus, wat Liefde is, bedek al ons sondes, en verdra ons wanneer ons so dikwels anders leef as wat God van ons vra, want Hy is ons genadig.

En wat nog meer is: Hierdie Liefde, Jesus Christus, is ewig. Hy vergaan nooit. Alles wat ons doen en is, sal vergaan, want ons lewe is eintlik baie kort en tydelik – dit kom tot niks. Jesus is egter ewig. Daarom leef ons ook ewig, omdat sy ewigheid ons tydelikheid oorwin. Ja, ons sterwe inderdaad, maar die Liefde, Jesus Christus self, het die dood oorwin, en ons eie dood is die deurgang na die ewige lewe by Hom.

Ons ken hierdie Liefde, terwyl ons hier op aarde leef, maar net gedeeltelik. Ons glo in Jesus, maar ons ken Hom nie sodat ons alles in die lewe verstaan nie, maar eendag sal hierdie Liefde weer na ons toe kom, en dan sal ons nie meer net gedeeltelik ken nie, dan sal ons volledig ken, omdat ons by God sal wees.

Ons lewe hier is ’n lewe waarvan ons nie alles verstaan nie. Dit, sê Paulus, is soos om in ’n dowwe spieël te kyk. Jy sien iets, nie alles nie. Maar eendag, wanneer Christus kom, sal ons by God wees en sal ons alles verstaan, en sal ons God volledig ken soos Hy ons volledig ken. Dit is waarom ons met oorgawe moet bly glo, hoop en weet:

Kom ons bly glo met oorgawe, want ons kan weet dat ons lewens veilig by God is, in hierdie lewe en die lewe hierna. Ons kan dit glo, omdat Hy self vir ons gesê het dat Hy wat die Liefde is, ook die weg en die waarheid en die lewe is. Daarby glo ons ook dat niks, ook nie die dood, ons kan skei van die liefde van God nie. Die liefde wat daar is in Christus Jesus, ons Here (Rom 8).

Meer nog: Ons kan met oorgawe hoop. Hoop op ’n goeie en rustige lewe, hoop op die feit dat hierdie Liefde – Jesus – altyd by ons sal wees en dat hierdie liefde ons sal troos wanneer ons hartseer is. Ons kan hoop dat die toekoms vir ons sinvol en mooi sal wees, omdat Jesus Christus met sy liefde reeds daar is.

Bo alles kan ons met oorgawe weet dat van alles wat op hierdie aarde is, wat deel van hierdie aarde is, alles wat deel van ons lewe is, die Liefde, Jesus Christus, die grootste is. Jesus is groter as die dood. Groter as ons hartseer. Hy is groter as elke ongelukkigheid wat ons hier mag beleef. Groter as die graf. Groter as die tydelikheid van hierdie lewe. Want Hy het self swaar gekry en gely. Hy is aan ’n kruishout vasgespyker.Hy self het die dood binne gegaan, maar Jesus het ook weer uit die dood opgestaan en verseker ons wat glo van ons eie opstanding. Ons kan ook weet dat Hy nou aan die regterkant van die Vader sit waar Hy vir ons plek gereedmaak sodat ons ook kan kom waar Hy nou is.

Daarom moet ons hierdie Liefde nastreef. Ons moet soek na Christus in ons lewe. Ons moet daarna streef om elke dag in sy teenwoordigheid te lewe. Ons moet poog om te lewe soos Hy vra – in liefde met en teenoor mekaar. Hierdie Liefde sal ons nooit verstoot nie. Hierdie Liefde sal ons nooit in die steek laat nie. Hierdie Liefde maak dat ek en jy kan lewe sonder om nutteloos en sinloos te voel. Hierdie Liefde sal elkeen van ons help om in gehoorsaamheid aan die evangelie van Jesus Christus te lewe. Solank ons in opregtheid ons lewens leef, sal hierdie Liefde ons in genade bly verdra.

Mag hierdie Liefde, Jesus Christus, ons almal dra en troos, want sonder hierdie Liefde is ons lewens eintlik niks. Sonder hierdie Liefde beteken alles wat ons doen niks. Sonder Jesus is ons eintlik niks. Sonder hierdie Liefde kom alles tot niks, maar in hierdie Liefde, in Jesus Christus, word ons kinders van God genoem. Wie sterf sonder hierdie Liefde, se lewe kom tot niks, maar wie sterf terwyl hy glo in Jesus Christus, se lewe word ’n lewe by God. Ewig. Omdat God ewig is.

Ne me quitte pas – Moenie weggaan nie, sou ons wens wees, want die seer van afskeid neem, maak soms van ’n liefdeslied ’n treurlied. Maar later in die liedjie pleit dit ook: Then if you go, I’ll understand. Leave me just enough love to fill up my hand.

Ons kan glo en weet dat al het ons alles in die lewe verloor en prysgegee, sal die liefde in en deur Jesus Christus steeds daar wees. God se liefde sal nie net ons hande nie, maar ook ons ganse lewe vul met liefde. Hou daarom vas aan die Liefde, hou vas aan Jesus Christus, vandag, môre en die res van die lewe.

Wie dit glo, en daarop hoop, vind troos en berusting by God, want God is Liefde! Al wat ons sal troos in tyd en omstandigheid, is die liefde: liefde vir mekaar, liefde vir Jesus en van Jesus. Die liefde oorwin alles, ook die dood. Daarom bedek dit alles, glo dit alles, hoop dit alles en verdra dit alles.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)