Ek sit hier en dink aan tyd, want ons het vroeër vandag as ’n Bybelstudiegroep in Markus 1: 15 gelees. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Hierdie gedeelte het net weer vir my bevestig dat God se tyd nie my tyd is nie.
2020-’21 se Covid-pandemie is vir elkeen van ons ’n vreemde, dramatiese tyd in ons lewens, hier in die suidelike deel van Afrika asook in die hele wêreld. Tyd het vir ons stil gaan staan tydens die aanvanklike grendeltyd en die vlakke van inperking daarna, en sommige van ons het nie geweet wat om met die tyd te doen nie.
Daar is mos baie tyd. Tyd om niks te doen nie, want so baie van ons het nou nie meer nodig om te gaan werk nie, of ons werk van die huis af en dus kan ons ons tyd anders indeel elke dag. Maar wat sou God van my verwag het in hierdie tyd van niksdoen of dinge anders doen? Want God se tyd is nie my tyd nie. God se wil is nie altyd my wil nie.
Wat my opgeval het van dit wat in dié tyd met ons gebeur het, was dat God ons dalk wou stil maak om sy werke te aanskou, na te dink oor ons lewe en onsself af te vra: Wat is God se plan met my? Wat gaan van my word as ek dalk so ver van God af lewe? Gaan ek sy wil doen en vra, of loop ek my eie pad?
Loop ek my eie pad sonder rigting? Loop ek ’n pad wat in kringe loop om alles te voltooi wat ek vir myself beplan het in hierdie tyd? Waarheen is ek op pad in hierdie vreemde tyd?
Die tyd het aangebreek om stil te staan by God se Woord en te dink oor wat die Here van ons wil hê. Hy het ons gemaak na sy beeld – met ’n plan. Ons pad is vir ons uitgelê in sy Woord, maar ons het verdwaal!
Die tyd het aangebreek dat ons weer op ons knieë moet gaan om te bid. Ons moet God vra om ons te beskerm teen dit wat nou op elkeen van ons se pad gekom het en nog gaan gebeur. Mense moet weer hande vat en bid vir God se genade, beskerming en liefde om hulle elke dag te bewaar.
Maar vandag vra ek myself die vraag af – en ook namens elkeen wat saam met my die vraag wil vra: Sal God my genoeg tyd gee om te doen wat Hy van my verwag om te doen?
Deur geloof in God, gebed en deur God se Woord, spreek God met elkeen van ons op sy tyd. God is elke dag daar vir ons – ons moet luister na God en rondom ons kyk hoe God met ons spreek deur die dinge wat op ons pad kom.
Ek glo dat God vir elkeen van ons ’n pad uitgelê het wat ons saam met Hom moet loop. Ons moet bemoeienis maak met God en sy Woord – elke dag van ons bestaan hier op aarde.
Gaan almal vandag in vrede en weet dat God ons genadig is om met hoop en liefde ons geloof in Hom te kan bely en uit te leef in die tyd wat Hy ons gegee het.
NHSV Streekvoorsitter: Natalstreek
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)