Prof WA (Wim) Dreyer

Universiteit van Pretoria

1.1.  Inleidend

Sedert die Tweede Wêreldoorlog (60 jaar gelede), was daar deurlopende gesprek oor Skrifbeskouing in die NHKA. Dit is ingelui deur ’n reeks artikels wat ds FJ van Zyl (later professor in Godsdiens- en Sendingwetenskap) van 21 April 1944 tot 22 Januarie 1945 in Die Hervormer gepubliseer het. In 1945 besluit die AKV dat die reeks artikels in boekvorm uitgegee moes word, eenvoudig geskryf, sodat lidmate dit kan verstaan. As gevolg van ’n tekort aan papier na die oorlog, kon die publikasie eers in 1948 ’n werklikheid word (Van Zyl 1948).

Die publikasie van FJ van Zyl is ’n kort uiteensetting (slegs 32 bladsye) van Karl Barth se Skrifbeskouing. Dit het ’n fundamentele invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van ’n Hervormde Skrifbeskouing en teologie. Die invloed is steeds merkbaar in die woorde en uitdrukkings wat Hervormde teoloë en predikante gebruik.

Die gesprek oor Skrifbeskouing het sedertdien gekom en gegaan. Dit is opmerklik dat dit in krisistye meer aandag gekry het, wanneer die Kerk moeilike besluite moes neem of teologiese verskille die vrede in die Kerk bedreig het. Die neerslag van die Hervormde gesprek oor Skrifbeskouing is te vind in die volgende:

  • Agendas en notules van die AKV.
  • Artikels in die Hervormde Teologiese Studies (HTS).
  • Handelinge van die Tussenkerklike Raad (TKR).

Soos reeds in die voorwoord vermeld, het die AKV in 2019 opdrag gegee dat die gesprek oor Skrifbeskouing voortgesit moet word, met die doel om lidmate en ampsdraers toe te rus en met ‘die oog op die toekoms’. Die besluit van die 72ste AKV (NHKA 2019: 4) lui soos volg:

BESKRYWINGSPUNT 3: RING VAN POTCHEFSTROOM

SKRIFBESKOUING EN KERKWEES IN DIE TOEKOMS

Die Kommissie van die AKV kry opdrag om verdere studie oor Skrifbeskouing en Skrifverstaan te doen, en gesprek te stimuleer. Ringe en gemeentes word by hierdie studie en gesprek ingesluit.

Dit is opvallend dat hierdie besluit Skrifbeskouing en die toekoms van die Kerk met mekaar in verband bring. Dit dui op die erns van die saak. Die ring van Potchefstroom, en die AKV, is skynbaar van oordeel dat die manier hoe die Kerk met die Woord van God omgaan, wesenlik belangrik vir die voortbestaan van die Kerk is.

In hierdie eerste hoofstuk word enkele definisies aangebied. Die bedoeling is dat ampsdraers en vergaderings van die Kerk daaroor gesprek kan voer en, indien nodig, besluite kan neem. Elkeen van die hoofstukke wat op hierdie hoofstuk volg, delf dieper in op bepaalde aspekte van Skrifbeskouing.

Dit is nodig om die terminologie wat ons gebruik, duideliker te omskryf. Woorde soos ‘Bybel’, ‘Heilige Skrif’ en ‘Woord van God’ word dikwels onnadenkend en as sinonieme gebruik, terwyl daar tog semantiese verskille is. Dit lei dikwels tot verwarring en selfs konflik. Die definiëring van die volgende begrippe is myns insiens van belang:

1.2.  Definisies

1.2.1  Openbaring

Hoe is dit moontlik dat ons enigiets oor God kan sê? “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes” (Jes 55:8-9). Ons kan nie deur middel van menslike vermoëns God ken nie. Ons kan net oor God praat omdat God gekies het om Sigself aan die mens te openbaar. Ons geloof dat God bestaan en dat God handelend in die wêreld besig is, berus op God se selfopenbaring.

God se selfopenbaring beteken nie dat ons God ten volle ken nie. God is baie meer as sy openbaring, hetsy in die natuur of in die Woord, maar ons glo ook dat God nie anders is as wat Hy Sigself in en deur Jesus Christus geopenbaar het nie. “As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom” (Joh 14:7). “In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid” (Kol 2:9-10a). Juis omdat God in sy selfopenbaring nie ánders is as sy openbaring in die Woord nie, bely ons saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis dat ons God wel voldoende kan ken. Hoewel God nie volledig aan ons bekend is nie, stel die Nederlandse Geloofsbelydenis[i] (Art 7) dat ons kennis van God voldoende en genoeg is vir ons geloof en saligheid.

Hoewel God nie anders is as sy selfopenbaring is nie, is God ook anders as sy skepping. Karl Barth se bekende formulering, dat God die ‘Gans Andere’ is, wil uitdrukking daaraan gee dat God te midde van sy selfopenbaring steeds versluierd en verborge bly. Dit is die dialektiese spanning tussen God wat tegelyk bekend en onbekend is. Deur die geskiedenis het God Sigself op verskillende maniere aan mense openbaar, maar tegelykertyd die verhewe God gebly wat nie in menslike woorde en gedagtes vasgevang kan word nie. God openbaar Sigself, maar bly tegelykertyd verborge vir die mens. Ons kyk nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld (I Kor 13). Ten spyte van ons beperkte insig, weet ons dat God ons liefhet.

Wanneer die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art 2) praat oor die “wyse waarop ons God ken” (openbaring), word twee sake vermeld: (1) Ons ken God deur sy skeppingsdade, en (2) ons ken God deur sy Woord. In die teologie word hierdie twee maniere waarop God Sigself openbaar, getipeer as ’n ‘algemene openbaring’ en ‘besondere openbaring’. Die twee vorms van openbaring moet nie strak onderskei word nie, omdat die algemene openbaring niks meer tot ons kennis van God bydra as dit wat ons reeds deur die Woord van God ontvang het nie (Jonker 1994: 57-58).

1.2.2   Woord van God

In die Bybel word die term ‘Woord van God’ in verskillende kontekste gebruik. Verskillende teksgedeeltes in die Ou Testament verwys na die Dabar Jahweh (Woord van God) as die konstituerende element van die verhouding tussen God en Israel. Wanneer God spreek, gebeur daar iets. Deur sy Woord skep God, openbaar God Sigself, bring Hy die verhouding tussen God en mens tot stand. Dit is nie sonder rede nie dat die Christelike geloof in die Woordgebeure tot stand kom. Voorbeelde hiervan is die volgende:

  • Die Woord van God is skeppingsmagtig (bv Gen 1).
  • Die Woord van God kom na die profete en word weer verder deur hulle verkondig (bv Eseg 13; Luk 3:2).
  • Jesus Christus is die Woord wat mens geword het (Joh 1:1).

Die ‘Woord van God’ is dus nie beperk tot die geskrewe tekste of Bybelboeke nie, maar verwys eerder na ‘Woordgebeure’, wanneer God Sigself aktief aan mense bekend maak (Schumacher 1952:251; Bromiley 1979:6). Die ‘Woord van God’ word geassosieer met God se daad van selfopenbaring. God se Woord gebeur voortdurend: God se Woord het deur die profete en apostels gekom, het in Jesus Christus hoorbaar en sigbaar geword, maar gebeur telkens weer wanneer hierdie Woord onder leiding van die Heilige Gees gepreek, gehoor en geglo word. Dat God se Woord dinamies, beweeglik en kragtig werk, is op verskillende maniere deur Reformatoriese teoloë soos Luther, Bullinger en Barth geformuleer.

Só ’n verstaan van God se Woord impliseer dat die Woord nie uit ’n geslote sisteem of proposisies bestaan nie, maar telkens weer gebeur. Die Bybel word keer op keer die Woord van God wanneer God die Heilige Gees (aktief handelend) ons daarvan oortuig dat die Bybel God se Woord is en God aan ons openbaar. Die Woord van God kan nie op ’n fundamentalistiese wyse gereduseer word tot ’n enkele teksvers wat kategories ewige uitsprake oor God en die wil van God maak nie.

Die titel Verbum Dei Minister (VDM) wat dikwels vir predikante gebruik word, beteken (vry vertaal) ‘verkondiger van God se Woord’. Dit beteken dat ’n predikant geroep word om God se Woord, waarvan Jesus Christus die sentrum is, te verkondig. Elke erediens, waar die Woord van God gelees, verkondig en geglo word, is ’n Woordgebeure. Die verantwoordelikheid van die predikant ten opsigte van hierdie Woordgebeure mag nie onderskat word nie.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art 3) stel dit duidelik dat die Woord van God nie deur die wil van ’n mens tot stand kom óf deur menslike tradisie aan ons oorgelewer word nie. Die Woord van God word hoorbaar in die woorde wat die “heilige mense van God”, onder leiding van die Heilige Gees, gepreek en neergeskryf het (Bakhuizen van den Brink 1976: 73-75). Die Woord van God, soos dit deur die profete en apostels gehoor is, word in mensewoorde en mensetaal neergeskryf. Die geskrewe tekste sou uiteindelik as die ‘Bybel’ bekend word.

Dit is nie die Woord van God wat wetenskaplik bestudeer word nie, net so min as wat God wetenskaplik bestudeer word. Dit is die Bybel wat wetenskaplik bestudeer word, nie net in terme van die tekste nie, maar ook hoe mense en die kerk deur die geskiedenis met die Bybelteks omgegaan het. Daarom moet die teologie ook kritiese vrae vra, onder andere oor die inhoud van die kerklike verkondiging. Om daardie rede is die teologie as wetenskap ten dienste van die kerklike verkondiging.

1.2.3  Bybel

Ons moet in gedagte hou dat die Christelike geloof en die verkondiging van die evangelie vir meer as 300 jaar voortgegaan het, sonder dat daar iets soos ’n ‘Bybel’ was. Boeke was skaars en duur, en min mense kon lees. Die verkondiging van Jesus as die Christus het nie in die eerste plek uit ‘die Bybel’ voortgevloei nie, maar vanuit die kerugma van die gekruisigde en opgestane Here Jesus Christus, soos dit in die verskillende Christelike gemeenskappe oorvertel is. Tegelykertyd was die Ou Testament vir die Joodse Christene belangrik. Paulus skryf dat Jesus vir ons gesterf het “volgens die Skrifte” (1 Kor 15:3-4).

Dit is ook opvallend dat die Nederlandse Geloofsbelydenis nie van die ‘Bybel’ praat nie, wel van die ‘Woord van God’ of ‘Heilige Skrif’. Die term ‘Bybel’ (soos ons dit ken) is die eerste keer in 386 nC deur Chrysostomos gebruik. Chrysostomos was die patriarg van Konstantinopel, en in sy preke oor Matteus gebruik hy die Griekse frase ta biblia om na die versameling geskrifte van die Ou  en Nuwe Testament te verwys. Met die term ‘Bybel’ verwys hy uitdruklik na die geskrifte wat in sy tyd as gesagvol vir die kerk beskou is. Dit is ook in hierdie tyd dat die Christelike kanon sy finale vorm aangeneem het en vasgestel is.

Die term ‘kanon’ is eers in die vierde eeu na Christus in die huidige betekenis daarvan gebruik. Etimologies kom dit vanuit Grieks, (κάνων – reël of rigsnoer). Kanonieke geskrifte word as normatief en gesaghebbend beskou. Die opstel van ’n kanon (hetsy in die staat, regspraak of kerk) het ten doel gehad om gesagvolle geskrifte te onderskei van dié sonder gesag. Kanonieke geskrifte moes die outentieke inhoud van die Christelike geloof waarborg.

Athanasius het in 367 nC ’n lys gemaak van die 27 boeke van die Nuwe Testament. Die Sinode van Hippo Regius in Noord-Afrika (393 nC) het dit bevestig, en daarby die Ou Testament as kanon vasgestel, wat boeke soos Tobit en Makkabeërs ingesluit het. Augustinus, as biskop van Hippo Regius, was die voorsitter van die Sinode. Augustinus het na die Sinode die kanon as afgeslote beskou.

Die reformatoriese kerke se kanon verskil van die Rooms-Katolieke kanon. Dit is tydens die Kerkhervorming in die belydenisskrifte vasgeskryf, byvoorbeeld die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art 4). Vir die reformatoriese kerke is die huidige 39 boeke van die Ou Testament en die 27 boeke van die Nuwe Testament die kanonieke geskrifte.

Die geskrifte wat die kerk deur die geskiedenis heen as kanoniek erken het, word in die algemene omgangstaal die ‘Bybel’ genoem. Omdat die geskrifte deur mense neergeskryf is, en deur kerklike vergaderings in die kanon opgeneem is, weet ons dat die Bybel nie net God se Woord is nie, maar ook mensewoord. Daarom word die Bybel ‘Godswoord in mensetaal’ genoem. Daardeur word erkenning gegee aan die Goddelike sowel as die menslike karakter van die Bybel.

1.2.4  Heilige Skrif

Die term ‘Heilige Skrif’ verg ook opheldering. Die woord ‘heilig’ het verskeie betekenisse, onder andere iets wat ‘aan God behoort’ (sien Lev 27:26). ‘Skrif’ verwys vanselfsprekend na die kanonieke geskrifte wat in die Bybel opgeneem is. ‘Heilige Skrif’ is ’n uitsonderlike verbinding van die Goddelike met die menslike, van Godswoord en mensewoord. Die Woord van God en die geskrifte van die Bybel, wat deur mense op skrif gestel is, transformeer tot die Heilige Skrif: Godswoord in mensetaal.

Daarom moet die term ‘Heilige Skrif’ in verband gebring word met die oortuiging dat die boeke van die Bybel onder leiding van die Heilige Gees tot stand gekom het, en daarom ‘geïnspireerd’ is. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art 3) formuleer dit uitdruklik op dié wyse, wanneer daar gestel word dat die Woord van God onder leiding van die Heilige Gees deur die profete en apostels verkondig word en op skrif gestel word, en om hierdie rede word die Bybelboeke die “Heilige en Goddelike Skrif genoem”. Wanneer ons die term ‘Heilige Skrif’ gebruik, gee dit erkenning aan die feit dat die Bybel tegelykertyd God se Woord en mensewoord is.

Verbandhoudend met die term ‘Heilige Skrif’, is woorde soos ‘Skrifbeskouing’, ‘Skrifverstaan’, ‘Skrifgesag’ en ‘Skrifgebruik’. Dit kan kortliks soos volg gedefinieer word:

  • ‘Skrifbeskouing’ gaan ten diepste om geloofsuitsprake oor die Heilige Skrif. Daarom word ’n kerk se Skrifbeskouing gewoonlik in belydenisskrifte geartikuleer, byvoorbeeld Artikels 2 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
  • ‘Skrifverstaan’ gaan om eksegese en hermeneutiek van Bybeltekste, met die veronderstelling dat dit deur die Heilige Gees ook Woord van God is. Elke geskrif in die Bybel het in unieke, konkrete, historiese en sosiale konteks tot stand gekom. Dit is moontlik om hierdie totstandkomingsproses histories-krities na te vors. Dit is ’n hoogs-wetenskaplike terrein van navorsing. Daarom was die Hervormde Kerk nog altyd van mening dat teologie ’n wetenskaplike dissipline is wat aan ’n universiteit tuishoort. Deeglike eksegese is die hart van reformatoriese teologie. Tegelykertyd moet die Bybelteks geïnterpreteer en verstaan word. Dit staan bekend as hermeneutiek. Eksegese en hermeneutiek is die sine qua non van Woordverkondiging en die bediening van die evangelie deur die kerk. Ook hiervoor is wetenskaplike navorsing en nadenke noodsaaklik.
  • ‘Skrifgesag’ dui op die oortuiging dat die Heilige Skrif, as geïnspireerde teks en Woord van God in mensetaal, gesag oor ons uitoefen. Daarom is ons oortuig dat Christus sy kerk, en per implikasie elkeen van ons, deur die Woord en Gees regeer. Daarom moet kerklike vergaderings en gelowiges noukeurig na die Heilige Skrif luister en gehoorsaam daaraan leef.
  • ‘Skrifgebruik’ dui op verskillende wyses waarop die Bybel verstaan en gebruik word. Daar word allerlei byvoeglike naamwoorde gebruik om hieraan uitdrukking te gee. Dikwels word mense met hierdie woorde geëtiketteer, sonder dat daar duidelikheid is wat presies daarmee bedoel word. Voorbeelde van sulke woorde is fundamentalisties, letterlik, ortodoks, krities, liberaal en vrysinnig. Verskil van mening ontstaan normaalweg wanneer gespreksgenote die Heilige Skrif verskillend verstaan en gebruik.

1.3.  Wat is waarheid?

Die een vraag wat dikwels onder die oppervlakte broei en selde aandag kry, is die vraag na die ‘waarheid’. Waarheid is belangrik. Die kerklike getuienis oor God moet ‘waar’ wees, anders kan mense dit nie glo of vertrou nie.

Die soeke na waarheid is eie aan die beoefening van wetenskap. Wetenskaplikes is voortdurend op soek na ware kennis, kennis wat verifieerbaar is. Indien teologie as wetenskap beskou word, is dit voor die hand liggend dat teologie ook die waarheidsvraag aan die orde moet stel.

Dikwels word waarheid gekoppel aan ’n spesifieke teksvers of aan die belydenisskrifte. So ’n waarheidbegrip impliseer dat ‘waarheid’ objektief waarneembaar is en in proposisies vasgevang kan word. Dit sou ook beteken dat ons in die Bybel vaste voorskrifte het wat aan mense voorgehou moet word as ewig en onveranderlik. Al wat ’n kerklike vergadering moet doen, is om die betrokke teksvers te identifiseer en dit as die reël vir leer en lewe aan te bied.

Die teenoorgestelde is ook moontlik. Die waarheid is subjektief, wat beteken dat elke mens self moet besluit wat is waar. Alle ‘waarheid’ is relatief en voorlopig, daarom kan die kerk geen vaste voorskrifte gee nie. ’n Kerklike vergadering kan nie met ’n beroep op die Bybel ten opsigte van leer of lewe voorskriftelik optree nie.

Vir lank was hierdie spanning tussen ’n objektiewe en subjektiewe waarheid ’n struikelblok. Toenemend is besef dat, vanuit ’n geloofsperspektief, waarheid nie ’n denksisteem is of van ons verstaan van waarheid afhanklik is nie. Waarheid is ’n Persoon. Jesus Christus, die vleesgeworde Woord van God, het vir sy volgelinge gesê: “Ek is die Waarheid, en die Weg, en die lewe” (Joh 14:6). Hierdie Waarheid kan slegs ontmoet word, en in verhouding met die Waarheid word elke Sondag die Waarheid verkondig.

In die manier hoe die kerk teenoor mense optree, word die Waarheid hoorbaar en sigbaar. Dit is slegs wanneer ons erns maak met die Waarheid, dat die kerk verantwoordelike besluite kan neem.

1.4.  Slotopmerkings

Wanneer van die Woord van God gepraat word, verwys dit normaalweg na die handelinge van God waarmee God Sigself openbaar. God se Woord is die vleesgeworde Woord, Jesus Christus, waarvan die Bybelboeke getuig en wat deur die kerk verkondig word. Die Woord van God neem drie onderskeibare gestaltes aan: die vleesgeworde Woord, die geskrewe Woord en die verkondigde Woord. Hierdie drie gestaltes van die Woord kan onderskei word, maar nooit van mekaar geskei word nie.

Wanneer van die Bybel gepraat word, verwys dit normaalweg na die boeke wat deur mense op skrif gestel is en deur kerklike vergaderings as kanoniek aanvaar is. Omdat die Bybelboeke van die Woord van God getuig, word die Bybel telkens weer God se Woord wanneer daar in die geloof en onder leiding van die Heilige Gees daaroor nagedink en gepraat word. Omdat die Bybelboeke deur mense binne ’n bepaalde historiese konteks op skrif gestel is, kan dit wetenskaplik bestudeer word. Teologie, as wetenskap, moet die Bybel baie noukeurig bestudeer en daaroor reflekteer. Reformatoriese teologie begin en eindig met nadenke oor die Bybel.

Wanneer van die Heilige Skrif gepraat word, verwys dit na God se Woord in mensetaal. Dit gee uitdrukking aan die oortuiging dat die Bybel meer is as ’n paar historiese dokumente; meer as ou verhale oor mense wat in God geglo het. Die Heilige Skrif is, deur die Heilige Gees, tegelykertyd God se Woord en mense se woorde oor God. Dit is soortgelyk aan ons belydenis oor Christus: Jesus Christus is tegelykertyd en ten volle God en mens.

Wanneer ’n mens op hierdie manier oor die Woord van God, die Bybel en die Heilige Skrif dink, is dit moeilik om op ’n simplistiese manier besluite te neem of argeloos met die prediking om te gaan. Ons word telkens gekonfronteer met God se roepstem, soos Hebreërs 3:7 dit verwoord: “Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: ‘Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie…”

1.5.  Literatuurverwysings

Bakhuizen van den Brink, J.N., 1976, De Nederlandse Belijdenisgeschriften in authentieke teksten met inleiding en teksvergelijkingen, Uitgeverij Ton Bolland, Amsterdam.

Bromiley, G.W., 1979, Introduction to the theology of Karl Barth, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis, Hugenote Uitgewers, Wellington.

NHKA, 2004, ‘Die Bybel – God se Woord ook vir ons tyd. Gedagtes van die Kerk oor Skrifbeskouing’, Notule van die 67ste Algemene Kerkvergadering, bl. 19-26, NHKA Argief, Pretoria.

NHKA, 2019, Besluitebundel van die 72ste Algemene Kerkvergadering, NHKA Argief, Pretoria.

Schumacher, F.T., 1952, ‘The Word of God as Event’, Journal of Bible and Religion Vol. 20/4, 1952, bl. 251–254. JSTOR, www.jstor.org/stable/1456322.   Besigtig 4 Sept. 2021.

Van Zyl, F.J., 1948, Die Boek van alle boeke… ons Bybel, J.H. De Bussy – H.A.U.M., Pretoria – Kaapstad.

Eindnota

[i] Vir die doeleindes van hierdie publikasie is Bakhuizen van den Brink (1976) se teksuitgawe van die belydenisskrifte benut. Die oorspronklike teks was in Frans, aan die hand van die Franse Geloofsbelydenis wat onder invloed van Calvyn ontstaan het en deur die Paryse sinode van 1559 aanvaar is. Die Franse Geloofsbelydenis is deur Guido de Bres hersien en het verskeie teksuitgawes beleef. Uiteindelik het die Sinode van Dordt (1618-1619) die amptelike Franse en Nederlandse tekste vasgestel, met ’n vertaling in Latyn as hulpmiddel vir dié wat nie Frans of Nederlands magtig was nie (Bakhuizen van den Brink 1976: 27).