HISTORIESE-KRITIEK EN/OF TEOLOGIESE HERMENEUTIEK?[i]

Dr A (Anneke) Viljoen

Mukhanyo Theological College

9.1.  Inleidend

Skrifverstaan en -gebruik is fundamenteel aan alles wat in die kerk gebeur. Om dié rede is dit belangrik om voortdurend daaraan aandag te gee. Wanneer ons in gebreke bly om ons Skrifverstaan en -gebruik krities te bedink, is die gevaar groot dat ons dit begrond in metodologieë wat op hul beurt weer begrond is in wêreldbeskouings wat ten beste ’n onvermoë het om ons geloofsgemeenskap te dien, of ten slegste dit ten kwade sal wees.

Bartholomew (2003:4-10), Van der Walt (2009:101) en Habets (2013:44) is van oortuiging dat die wêreldbeskouing onderliggend aan die metodologieë wat gebruik word om die Bybel te interpreteer, dikwels ’n onvermoë het om die unieke aard en karakter van die Bybel te verdiskonteer. Hierdie metodologieë is desnieteenstaande die voorkeurwerkwyses van predikante en teoloë in die kerk wanneer die Bybel geïnterpreteer word. Modernistiese histories-kritiese eksegese, literêre kritiek en postmoderne ideologieteorieë word onkrities en radikaal opgeneem in die metodologieë van die onderskeie teologiese dissiplines.

Plantinga (2003a:38) wys ook daarop dat die teologiese implikasies van die epistemologie wat die onderskeie teologiese dissiplines onderlê, nie na behore deurdink word nie. Ook Ou Testamentiese wetenskap is tot ’n groot mate deur hierdie tendens beïnvloed. Dit oefen ’n bepalende invloed uit op Skrifverstaan en -gebruik, en uiteindelik op die interpretasie van die Bybel en kerklike besluite.

9.2.  Die Bybel en historisiteit

Een van die grootste onderliggende oorwegings ten opsigte van Skrifverstaan is die vraag na historisiteit. Die kwessie van historisiteit is onvermydelik in die interpretasie van die Bybel (Bartholomew 2003:2). Dit geld sowel die vraag na die historisiteit van die teks self as die historisiteit van die gebeure wat die teks betuig.

Historiese kritiek as hermeneutiese metodologie het tot onlangs pogings om die Bybel te verstaan oorheers, en doen dit tot ’n groot mate steeds (Bartholomew 2003:3). Die onderskeie histories-kritiese metodologieë het uiteraard nie ’n eenvoudig eenduidige ontwikkeling gehad nie, sodat dit beter is om te praat van histories-kritiese metodes (Prinsloo 1988). Krentz (1975:30) wys op die onderliggende uitgangspunte of voorveronderstellings wat hierdie metodes tot so ’n mate saambind dat hy na hulle kollektief as ’n enkele entiteit verwys onder die benaming the historical critical method (sien ook Thiselton 1995:17; Bartholomew 2003a:4). In hierdie artikel word sowel die enkelvoudige as meervoudige verwysing gebruik.

Plantinga (2003a:40) meld die dominansie van historiese kritiek as metodologie in hoofstroom teologiese instellings. Kruger (1993) en Van der Walt (2009) merk ook die oorheersing van histories-kritiese metodes in die Suid-Afrikaanse konteks. Dit was vir ’n lang tyd die voorkeur werkwyse binne die studieveld Ou Testamentiese wetenskap en oefen langs hierdie weg ’n groot invloed uit op die kerk se interpretasie van die Bybel. Heringer (2013:41) noem dit the hegemony of the historical critical method, terwyl Thiselton (1995:10) dit a single preoccupation with historical method noem.

Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu is hierdie eenduidige oorheersing van historiese kritiek egter toenemend vanuit die Bybelwetenskappe en ander teologiese dissiplines bevraagteken (Bartholomew 2003:6). Die opkoms van teologies hermeneutiese benaderings as alternatiewe metodologie wat dit self differensieer ten opsigte van die tradisionele historiese kritiek, getuig van die groeiende ongemak met die tekortkominge van die histories-kritiese metodologieë (Heringer 2013:26). Teologiese hermeneutiek wil ’n eksplisiet Christelike hermeneutiese benadering daarstel wat sowel krities as konstruktief is (vgl Pearcey 2005:46). Dit wil die skerp skeptisisme waartoe die histories-kritiese metode(s) aanleiding gee, op ’n akademies en ekklesiologies verantwoordbare manier die hoof bied.

Die opkoms en uiteindelike invloed van historiese kritiek is elders breedvoerig beskryf (sien Krentz 1975; Prinsloo 1988; Thiselton 1995; Bartholomew 2003). Die twee basiese elemente van historiese kritiek is opgesluit in die benaming van hierdie benadering waarin die doelwitte en tegnieke kursories verwoord word (Krentz 1975:33-54). ‘Kritiek’ dui daarop dat die Bybelse tradisie op grond van die moderne wêreldbeskouing geëvalueer word, terwyl ‘historiese’ aandui dat dit spesifiek die historiese metodologie van 19de-eeuse Duitsland gebruik (Bartholomew 2003:4). Plantinga (2003a:27) is van oortuiging historiese kritiek is fundamentally an enlightenment project. Ook Bartholomew (2003:8) noem historiese kritiek ’n quint essentially modern method in biblical studies. Hy wys op die bepalende invloed van ’n metodologie se konseptualisering van historisiteit, gegrond in ’n bepaalde wêreldbeskouing, op die hermeneutiese benadering wat gevolg word (Bartholomew 2003:9; vgl Krentz 1975:1).

Hoewel die ontwikkeling van enige fenomeen uiteraard meer kompleks is as ’n enkele faktor of rolspeler, dien Ernst Troeltsch (1865-1923) se drie beginsels van die historiese metodologie – naamlik kritiek, analogie en korrelasie – as ’n werkbare illustrasie binne die beskikbare ruimte van die historiese kritiek se konseptualisering van historisiteit en die invloed wat dit langs hierdie weg het op Skrifverstaan en -gebruik wat Bybelse interpretasie in die kerk onderlê.

9.3.  Troeltsch se drie beginsels van historiese metodologie

Troeltsch lê in sy 1898-opstel Historical and dogmatic method in theology drie beginsels neer, naamlik kritiek, analogie en korrelasie, wat die historiese kritiek as metodologie bepalend beïnvloed.

9.3.1.  Kritiek

Die eerste van Troeltsch se drie beginsels is dié van kritiek. Hy is daarvan oortuig dat die akademie verkeerdelik beïnvloed is deur tradisie, teologie en die kerk, sodat akademiese navorsing onder hierdie invloed nie die vermoë het om onsydige resultate te kan lewer nie (Heringer 2013:28). Troeltsch se oortuiging is ook deur ander gedeel. Johann Salomo Semler (1725-1791), wat ’n voorloper van Troeltsch was en dikwels beskryf word as die vader van moderne Bybelse kritiek, soos ook ander – byvoorbeeld John Locke (1632-1704) en Thomas Hobbes (1588-1679) – se polemiek was gerig teen manipulerende kerklike invloede wat ongegronde interpretasies van die Bybel misbruik het vir die bevordering van persoonlike, politieke en vooropgestelde ekklesiologiese belange (Thiselton 1995:10-12). Met die nodige hermeneutiese wysheid kan hierdie tendens ’n konstruktiewe uitwerking op Skrifverstaan en -gebruik hê. Dit is egter deur Semler gekombineer met ’n sterk deïstiese invloed wat ’n ambivalente uitwerking gehad het op die ontwikkeling van die historiese kritiek en in Troeltsch se beginsel van kritiek merkbaar is, naamlik ’n negatiewe toegewing ten opsigte van ’n deïstiese wêreldbeskouing wat aanspraak maak op waardeneutraliteit of objektiwiteit (Thiselton 1995:12).

Troeltsch se opvatting is gegrond in en gevorm deur die Duitse Aufklärung, terwyl dit self ook bygedra het tot die ontwikkeling daarvan – tot so ’n mate dat Krentz (1975:55) die historiese metode wat Troeltsch in sy beginsels verwoord, the child of the Enlightenment noem. Yasukata (sien ook Prinsloo 1988:199) wys op Immanuel Kant se bekende definiëring van die doelstelling van die Verligting (Kant in Yasukata 2002:3):

Enlightenment is man’s release from his self-incurred tutelage. Tutelage is man’s inability to make use of his understanding without direction from another. This tutelage is self-incurred when its cause lies not in lack of reason but in lack of resolution and courage to use it without direction from another. Sapere aude! Have courage to use your own reason! – that is the motto of enlightenment.

Onder die invloed van hierdie onafhanklikheidsideaal word die menslike rede die enigste kriterium vir die waarheid (Prinsloo 1988:198; sien ook Plantinga 2003a:27). Onpartydige en objektiewe navorsing, met ander woorde, navorsing wat nie beïnvloed is deur kerklike aansprake oor die gesag van die Bybel nie, is vir Troeltsch die ideaal. Met sy beginsel van kritiek wil hy alle historiese aansprake op ’n gelyke veld plaas sodat aansprake op historisiteit wat gesanksioneer is deur kerklike gesag, nie spesiale status ontvang nie, maar soos enige ander aansprake krities geëvalueer word (Heringer 2013:28). Volgens hierdie beginsel kan historiese aansprake ook net in terme van waarskynlikheid (al dan nie) geëvalueer word, en gevolglik noem Krentz (1975:55) dit ook die beginsel van metodologiese skeptisisme.

Heringer (2013:29) wys op die uitwerking van Troeltsch se beginsel van kritiek op Bybelse interpretasie in terme van die verstaan van die kanon as ’n geheel. Dit stel die outoriteit van teologiese tradisie en kerklike leer ter syde, sodat die teologiese konsep van die kanon as ’n geheel nie as ’n kategorie funksioneer tydens interpretasie nie. Dit is omdat die nalatenskap van die kanon as ’n geheel te danke is aan teologiese besluite wat die individuele boeke van die Bybel saamgevoeg het tot ’n eenheid lank na die ontstaan van die spesifieke individuele boeke. Daar is gevolglik nie ’n teologiese eenheid wat as ’n samebindende beginsel tydens interpretasie funksioneer nie.

Die beginsel geld ook ten opsigte van individuele Bybelboeke. Plantinga (2003a:30) wys daarop dat die fokus op die redaksiegeskiedenis van individuele Bybelboeke dikwels daartoe lei dat die boek as geheel nie die lokus van betekenis vir interpretasie is nie. Die enigste geldige konteks vir die interpretasie van die gefragmenteerde dele wat blootgelê is op grond van die redaksiegeskiedenis van die teks, is hul onmiddellike literêre en historiese kontekste. Die werk van interpretasie word verskraal tot die aantoon van die onderskeie redaksionele lae, sodat die ideologiese of teologiese beweegrede van die redaktor(s) afgelees word vanuit die historiese ontwikkeling van die teks. Die historisiteit van die gebeure wat betuig word, word in terme hiervan in grade van waarskynlikheid geëvalueer. Volgens Van der Walt (2009:113) is hierdie fragmentarisering… kenmerkend van verskillende sekulêre hermeneutieke (vgl Heringer 2013:35).

9.3.2.  Analogie

Die tweede beginsel wat Troeltsch formuleer, is dié van analogie. Hierdie beginsel werk in samehang met sy derde beginsel, korrelasie, om waarskynlike van onwaarskynlike aansprake op historisiteit te onderskei (Heringer 2013:28). Analogie maak ook die beginsel van kritiek moontlik deurdat dit die kriteria verskaf vir die onderskeid tussen waarskynlikheid of onwaarskynlikheid (Krentz 1975:55; Heringer 2013:28). Die benaming ‘analogie’ dui die werking van die beginsel aan: Die onbekende van die geskiedenis word na analogie van die bekende (of waarskynlike) geëvalueer (Heringer 2013:28). Dit is veral die ervaringsverwysing van die leser van die Bybel wat die historisiteitsaansprake beoordeel wat die deurslaggewende kriterium is; huidige gebeurtenisse binne die ervaringsverwysing van die leser word die maatstaf waaraan die waarskynlikheid al dan nie van historisiteitsaansprake beoordeel word (Krentz 1975:55; Heringer 2013:28). Aansprake op historisiteit word as waarskynlik beoordeel in hoeverre dit vergelykbaar is met geskiedkundige gebeurtenisse wat bekend is aan die leser en binne sy of haar persoonlike ervaringsverwysing val.

Die beginsel van analogie het verreikende gevolge vir die teologiese dissiplines en Skrifverstaan en -gebruik binne die kerk. In samehang met die beginsel van korrelasie, ontken dit die teologie se beroep op die historiese aansprake oor God se handelinge in die wêreld (Heringer 2013:28). Die beginsel beperk watter soort gebeure kwalifiseer vir historiese waarskynlikheid deurdat alle gebeure wat nie deur waarskynlike historisiteitsaansprake of persoonlike ervaring geverifieer kan word nie, outomaties gediskwalifiseer word (Heringer 2013:30). Gebeure van die heilsgeskiedenis word met hierdie beginsel analoog gemaak aan alle ander geskiedkundige gebeure (Krentz 1975:55; Heringer 2013:28), sodat die uniekheid daarvan in terme van ’n teologiese verklaring nie verreken word in die beoordeling van die waarskynlikheid van die gebeure al dan nie.

9.3.3.   Korrelasie

Troeltsch se derde beginsel is korrelasie of wedersydse interafhanklikheid. Volgens hierdie beginsel rus alle historiese verklarings op die skakeling van oorsaak en gevolg (Krentz 1975:55). Elke effek het ’n natuurlike oorsaak en is volledig alleen in terme daarvan verklaarbaar (Heringer 2013:29). Prinsloo (1988:200) dui aan hoedat die histories-kritiese metode(s) bedryf word na aanleiding van die metodes van die natuurwetenskappe wat tydens die 19de eeu aan die groeiende Duitse universiteitswese in gebruik was, met veral evolusionisme en positivisme wat ’n deurslaggewende invloed op die ontwikkeling van die historiese kritiek uitgeoefen het (sien ook Rae 2003:272).

Dit was Hegel (1770-1831) wat die evolusieteorie van die natuurwetenskappe op die metafisiese terrein van toepassing gemaak het. Hegel se skema van tese/antitese/sintese is goed bekend. Hegel probeer om die bestaan van die hele werklikheid langs dié ontwikkelingsproses te verklaar. Hierdie denkpatroon van evolusie of ontwikkeling het ’n geweldige invloed gehad op die manier waarop die Bybel langs histories-kritiese weg geïnterpreteer is. Maar ook die positivisme oefen ’n groot invloed uit. Dit is dié beskouing wat beweer dat die mens hom nie met spekulatiewe dinge moet besig hou nie, maar alleen met die positiewe, dit wil sê, met dié dinge wat objektief waargeneem word. Prinsloo (1988:200) se konklusie is: Om iets te verstaan, moes die samehang met die res van die dinge ondersoek word. Die oorsaak/gevolg-skema speel dus ’n baie belangrike rol. Alle teologiese voorveronderstellings moet opgehef word sodat daar volkome objektief gewerk kon word.

Dit is in die beginsel van korrelasie dat die wêreldbeskouing, naamlik ’n positivistiese wêreldbeskouing, wat tradisionele histories-kritiese metodologieë onderlê, die duidelikste sigbaar word. Die beginsel sluit van meet af aan enige bonatuurlike verklarings van gebeure uit wat nie beskryfbaar is in terme van die geslote sisteem van die natuurlike skakeling tussen oorsaak en gevolg in die verloop van tyd nie (Heringer 2013:30). Bybelse interpreteerders leun dus langs hierdie weg swaar op ’n metodologie van historiese ondersoek wat teologiese verklarings van wat in die geskiedenis plaasvind, by voorbaat verwerp (Rae 2013:261). Vir Troeltsch is Goddelike handelinge en menslike geskiedenis onversoenbare kategorieë vir die historiese metode (Rae 2003:278). Die ontstaan van Ou en Nuwe Testamentiese geskrifte kan volgens die historiese kritiek volledig beskryf word in terme van die natuurlike ontwikkeling van die Ou Nabye Oosterse godsdienste, terwyl die verstaan van Jesus se bediening verklaarbaar is suiwer in terme van ’n samevloei van Joodse, Griekse en Romeinse kulturele en godsdienstige invloede (Heringer 2013:30).

Elkeen van Troeltsch se drie beginsels is formidabel op sigself, met geweldige konsekwensies vir die teologiese dissiplines asook vir Skrifverstaan en -gebruik in die kerk, maar gekombineerd het die drie beginsels ’n oorweldigende effek op die verstaan van die Bybelse geskiedenis (vgl Heringer 2013:29). Die kritiek is grootliks positivisties in oriëntasie, met ’n onvermoë om die verstaanskategorie openbaring te waardeer, sodat die geskiedenis wat in die Bybel vermeld word, onder die invloed van die historiese kritiek tot ’n groot mate as onjuis beoordeel word (Krentz 1975:30; Rae 2003:273). In Krentz (1975:55) se woorde: The essay still haunts theology [iv].

Sowel Krentz (1975:30) as Bartholomew (2003:5) merk die invloed van die lewensbeskoulik-filosofiese uitgangspunte of voorveronderstellings van die historiese kritiek op Skrifverstaan en -gebruik. Krentz (1975:30) dui aan hoedat die historiese kritiek a revolution of viewpoint in evaluating the Bible meegebring het en grootskaalse sekularisering van Bybelse interpretasie tot gevolg gehad het. Volgens Bartholomew (2003:5) het die metodologieë van die histories-kritiese benaderings in baie gevalle gelei tot ’n skerp skeptisisme wat die historiese akkuraatheid van die Bybelse narratiewe radikaal bevraagteken het (sien ook Plantinga 2003a:34). Die leerstellings wat tradisioneel in hierdie aansprake op historisiteit begrond is, is gevolglik ook ondermyn. Die formulering van Troeltsch se beginsels het in samehang met ander soortgelyke werke se invloed, uiteindelik aanleiding gegee tot die grootskaalse voorkeur van historiese hermeneutiese benaderings bo wat hy dogmatiese hermeneutiese benaderings genoem het in die interpretasie van die Bybel (Heringer 2013:28-30). Vir Troeltsch, en trouens ook die historiese kritiek wat deur sy denke beïnvloed is, is die historiese metode die enigste intellektueel aanvaarbare metodologie (Rae 2003:278; Plantinga 2003a:41), omdat dit aanspraak maak op waardeneutraliteit.

9.4.  Die invloed van die historiese metode op Ou Testament studies

Die Ou Testamentiese wetenskap is volgens Bartholomew (2003:5) swaarder getref as die Nuwe Testamentiese wetenskap deur die sekulariserende effek van die historiese kritiek op die dissipline. Die resultaat van die eenduidige fokus op die historiese aspekte van die Bybelse getuienis diverted attention from biblical narrative, poetry, and prophecy as literature, treating them instead as more or less distorted historical records (Alter & Kermode in Bartholomew 2003:6). Ou Testamentiese studies het ’n groter skeuring beleef tussen teologiese hermeneutiese benaderings aan die een kant en hermeneutiese benaderings wat die historiese kritiek as metodologie oorgeneem het aan die ander kant (Bartholomew 2003:5). Iets van hierdie skeuring word sigbaar in Von Rad se beskrywing van die uitdaging wat die historiese rekonstruksie van Israel se geskiedenis aan Ou Testamentici stel (Von Rad in Bartholomew 2003:5):

These two pictures of Israel’s history lie before us – that of modern critical scholarship and that which the faith of Israel constructed – and for the present, we must reconcile ourselves to both of them… The one is rational and “objective”…The other… is confessional. The fact that these two views of Israel’s history are so divergent is one of the most serious burdens imposed upon Biblical scholarship.

Daar is, met ander woorde, ’n gaping tussen die historiese rekonstruksie deur kritiese wetenskap en dié wat in die teks van die Bybel betuig word. Daar is op verskeie maniere gereageer op hierdie gepersipieerde gaping (Bartholomew 2003:5). Aan die een kant is gepoog om met behulp van kreatiewe rekonsiliasies die gaping te verklein. Aan die ander kant is die belangrikheid van aansprake op historisiteit (in terme van ’n moderne Westerse verstaan) vir Ou Testamentiese studies ontken.

Von Rad se beskrywing van die rekonstruksie van die kritiese wetenskap as waardeneutraal is gegrond in die bogenoemde wêreldbeskoulik filosofiese voorveronderstellings wat die ontwikkeling van die historiese kritiek as ’n metodologie bepalend beïnvloed het. Troeltsch se onderskeid tussen die historiese en dogmatiese metodes in teologie het hierop betrekking (vgl Rae 2003:278-279). Die aanspraak van die histories-kritiese metode(s) op ’n waardeneutrale rekonstruksie van die geskiedenis, is egter nie houdbaar nie. In die strewe na objektiwiteit word een stel voorveronderstellings gewoon vir ’n ander verruil. Pearcey (2005:46) wys daarop dat [w]e cannot simply borrow from the results of secular scholarship as though that were spiritually neutral territory discovered by people whose minds are completely open and objective – that is, as though the Fall had never happened. Daarom pleit Thiselton (1995:12-13) dat interpreteerders van die Bybel dieselfde kritiese ingesteldheid inneem ten opsigte van die historiese kritiek en die mate waarin hierdie metodologie die uitkomste van hermeneutiese werk beïnvloed, veral ten opsigte van die historisiteitsaansprake van die Bybel, tot dieselfde mate as wat die metode self voor die deur van teologiese en kerklike invloede lê.

Die uitdaging is om ’n hermeneutiese metode te ontwikkel wat die vermoë het om rekening te hou met die unieke aard van die Ou Testament (en trouens ook die Nuwe Testament) en gegrond is in ’n teologie van historisiteit eerder as in die historiese kritiek se konseptualisering van historisiteit. Neill en Wright (in Bartholomew 2003:11) sê met betrekking tot Nuwe Testamentiese studies wat uiteraard ook op Ou Testamentiese studies van toepassing is (Neill en Wright in Bartholomew 2003:11):

An understanding of history which is incompatible with a Christian doctrine of revelation is bound to land the … scholar in grave perplexities; a true theological understanding of history would not of itself solve any New Testament problems, but it would, so to speak, hold the ring within which a solution can be found.

9.5.  ’n Teologie van historisiteit

In reaksie op die sekulariserende uitwerking van die historiese kritiek as metodologie op Skrifverstaan en -gebruik in die kerk, is die ontwikkeling van ’n teologiese hermeneutiek – ’n selfstandige metodologie met sy eie beginsels – voorgestel (Heringer 2013:40-42). Die eerste tree op hierdie weg is die verwoording van ’n teologie van historisiteit wat ’n teologiese hermeneutiek onderlê. Dit sal die teologiese dissiplines in staat stel om hul unieke karakter te behou terwyl hulle steeds met akademiese integriteit aansprake oor historiese realiteit maak wat in lyn is met die aard van die Bybel. So ’n teologie van historisiteit is ontwikkel deur Rae (2003:284-294).

Histories-kritiese metodologieë gegrond in sekulêre wêreldbeskouings het dikwels nie die vermoë om die unieke aard van die Bybel te verdiskonteer nie, veral nie in terme van die historisiteitsaansprake daarvan nie. Die Bybelse beskrywing van die ontvouing van die geskiedenis is in terme van streng gedefinieerde interesse, dit is, in terme van die beskrywing van God se doel(eindes) en uiteindelike bedoeling met die skepping (Rae 2003:283). ’n Teologiese hermeneutiek maak erns met die unieke aard en karakter van die Bybelse historisiteitsaansprake en kan ’n Skrifverstaan en -gebruik onderlê wat ten diens van die kerk strek, omdat dit die vermoë het om God se handelinge in die geskiedenis te onderskei en te beskryf.

9.6.  Samevattend

Heringer (2013:40-41) is oortuig dat daar ’n dringende behoefte is aan ’n volgehoue en deeglike kritiek van die metodologieë wat algemeen in gebruik is in die teologiese dissiplines. Dit is des te meer belangrik omdat hierdie metodologieë Skrifverstaan en -gebruik in die kerk onderlê. Vanhoozer ([1998] 2009:9) is ook van mening dat trends in hermeneutics may themselves be inadvertently aiding and abetting… misreading by producing theories of interpretation that, in my opinion, drain the biblical witness of authority… If theology is largely biblical interpretation then it is important to work with sound hermeneutic principles (Vanhoozer [1998] 2009:9).

Die histories-kritiese metodologie soos verwoord in Troeltsch se drie beginsels van kritiek, analogie en korrelasie het gedien as ’n illustrasie van die invloed wat ’n metodologie se konseptualisering van historisiteit gegrond in ’n bepaalde wêreldbeskouing het op metodologiese uitgangspunte. Die historiese kritiek het nie die vermoë om die unieke aard en karakter van die Bybelse historisiteitsaansprake te verdiskonteer nie en is daarom nie geskik om Skrifverstaan en -gebruik in die kerk te onderlê sodat dit tot diens van die geloofsgemeenskap sal strek nie.

Die ontwikkeling van ’n teologiese hermeneutiek – ’n selfstandige metodologie met sy eie beginsels – sal die teologiese dissiplines in staat stel om hul unieke karakter te behou terwyl hulle steeds aansprake oor historiese realiteit maak wat gegrond is in ’n teologie van historisiteit eerder as in die historiese kritiek se konseptualisering van historisiteit (Heringer 2013:40-41; Bartholomew 2003:10-12).

9.7.  Literatuurverwysings

Bartholomew C.G., 2003, ‘Introduction’, in Bartholomew C.G., Evans C.S., Healy M. (eds), “Behind” the Text: History and Biblical Interpretation, pp. 1-18, Zondervan, Grand Rapids.

Habets, M., 2013, ‘Theological interpretation of Scripture in sermonic mode: The case of T.F. Torrance’, in J.B. Green & T. Meadowcroft (eds.), Ears that hear: Explorations in theological interpretation of the Bible, pp. 26-42, Sheffield Phoenix Press, Sheffield.

Heringer, S., 2013, ‘The problem of “historicity” in recent theological commentary, in J.B. Green & T. Meadowcroft (edt.), Ears that hear: Explorations in theological interpretation of the Bible, pp. 26-42, Sheffield Phoenix Press, Sheffield.

Krentz, E., 1975, The Historical-Critical Method, Fortress Press, Philadelphia.

Kruger, M. A., 1993, ‘’n Weg uit die oorheersing van die histories-kritiese metode, fundamentalisme en genitiefteologieë’, In die Skriflig / In Luce Verbi 27(4), pp. 583-602, https://doi.org/10.4102/ids.v27i4.1479 (24 Maart 2020).

Pearcey, N.R., 2005, Total truth: Liberating Christianity from its cultural captivity, Crsswaybooks, Wheaton.

Plantinga, A., 2003a, ‘Two (or more) kinds of schripture scholarship’, in Bartholomew C.G., Evans C.S., Healy M. (eds), “Behind” the Text: History and Biblical Interpretation, pp. 19-78, Zondervan, Grand Rapids.

Plantinga, A., 2003b, ‘Reason and scripture scholarship: A response to Robert Gordon and Craig Bartholomew’, in Bartholomew C.G., Evans C.S., Healy M. (eds), “Behind” the Text: History and Biblical Interpretation, pp. 92-100, Zondervan, Grand Rapids.

Prinsloo, W.S., 1988, ‘Die histories-kritiese metode(s) in perspektief’, Verbum et Ecclesia / Skrif en Kerk 9(2), pp. 196-209, https://doi.org/10.4102/ve.v9i2.990 (24 Maart 2020).

Rae, M.A., 2003, ‘Creation and promise: towards a theology of history’ in Bartholomew C.G., Evans C.S., Healy M. (eds), “Behind” theText: History and Biblical Interpretation, pp. 267-302, Zondervan, Grand Rapids.

Rae, M.A., 2013, ‘Response: Reading as formation’, in J.B. Green & T. Meadowcroft (edt.), Ears that hear: Explorations in theological interpretation of the Bible, pp. 258-262, Sheffield Phoenix Press, Sheffield.

Thiselton A, 1995, ‘New Testament interpretation in historical perspective’, in Green, J.B. (eds), Hearing the New Testament: Strategies for interpretation, pp.10-36, Wm. B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Van der Walt, B.J., 2009, ‘Die voor- en nadele van die histories- en literêr-kritiese hermeneutiek: Hoe om die Bybel te lees dat God met jou praat’, Tydskrif vir Christelike Wetenskap 45(4), pp. 95-120, https://hdl.handle.net/10520/EJC110812 (27 Maart 2020).

Vanhoozer, K.J., [1998] 2009, Is there a meaning in this text?: TheBible, the reader, and the morality of literary knowledge (Landmarks in Christian Scholarship), Kindleedn., Zondervan, Grand Rapids, MI.

Wright, S.I., 2003, ‘Inhabiting the story: The use of the Bible in the interpretation of history’ in Bartholomew, C.G., Evans C.S., Healy M. (eds.), “Behind” the Text: History and Biblical Interpretation, pp. 492-520, Zondervan, Grand Rapids.

Yasukata, T., 1986, Ernst Troeltsch: Systematic Theologian of Radical Historicality, Scholar’s Press, Atlanta.

Yasukata, T., 2002, Lessing’s philosophy of religion and the German enlightenment. Oxford University Press, New York.

Eindnota

[i] Hierdie hoofstuk is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat reeds voorheen in die Tydskrif vir Hervormde Teologie verskyn het, en te vind is by https://nhka.org/die-konseptualisering-van-historisiteit-wat-skrifverstaan-en-gebruik-in-die-kerk-onderle/. Volledige verwysing: Viljoen, A., 2020, ‘Die konseptualisering van historisiteit wat Skrifverstaan en -gebruik in die kerk onderlê’, Tydskrif vir Hervormde Teologie Jaargang 8 Nommer 1.