SKRIFBESKOUING EN WAARHEIDSBEGRIP[i]

Dr Gert J Malan

Hervormde Gemeente Mosselbaai

13.1.  Inleidend

Karl Barth was van mening dat die waarheid van die Bybel nie ’n historiese, geografiese, kulturele of wetenskaplike waarheid is nie. Dit is die waarheid van die evangelie van versoening met God. Hierdie waarheid dui nie op die akkuraatheid van die inhoud nie. Dit is die waarheid van God se Openbaring, histories, eenmalig en onbemiddeld deur Jesus Christus. Daarom is die waarheid van huis uit ’n Persoon en nie kennis of ’n geopenbaardheid nie (Buitendag 2008:1136). Die Bybelskrywers was ook nie geïnspireer deur die Heilige Gees, in die sin dat alle aspekte van wat hulle geskryf het vir altyd waar is nie. Stellings is dus nie waar bloot omdat dit in die Bybel geskryf staan nie. Dit is ook nie waarheid omdat die Bybel as ’n geïnspireerdheid beskou word nie.

Waarheid beteken dus nie onfeilbaarheid nie. Die waarheid van die Bybel, naamlik die Openbaring van God in Jesus Christus, is in feilbare en feilende mensewoorde verwoord (Van Zyl 1944:127-128).

13.2.  Waarheid as aanspraak

Die waarheid van die Bybel is daarom nie ’n voor die hand liggende waarheid nie. Net soos die Bybel opnuut Woord van God moet word deurdat ons die aanspraak van God op ons daarin verneem, so moet die waarheid van die Bybel opnuut God se waarheid vir ons word. Wanneer ons die Bybel lees, beskik ons dus nie oor die waarheid nie, maar hoop ons om telkens weer die openbaringswaarheid van God daarin te verneem. Wanneer dit gebeur, glo ons hierdie waarheid, omdat die Heilige Gees ons oortuig. Sonder geloof is hierdie waarheid nie geloofwaardig nie. Die Bybelse waarheid word egter nie vir geloof, vir die Kerk, waarheid waaroor ons beskik nie, maar waarheid wat oor ons beskik en ons oortuig dat ons aan God behoort. Hierdie waarheid is dus God se genade aan ons, beide die inhoud en die geloof wat dit as beslissende waarheid aanvaar. Hierdie waarheid is die waarheid wat die Kerk moet verkondig (Van Zyl 1944:129- 132).

13.3.     Waarheid en werklikheidsverstaan: Ontmitologisering

Waarheidsbegrip sluit aan by werklikheidsverstaan. Die Nuwe Testamentiese kerugma word aangebied in mitiese begrippe wat deel vorm van ’n antieke mitologiese werklikheidsverstaan wat nie spesifiek Christelik is nie en onverstaanbaar is vir hedendaagse mense, sodat die kerugma vir hulle al minder sin het (Pelser 1987:166-170). Dit sny aan by die spanning tussen die antieke drievlak mitologiese wêreldbeeld en gepaardgaande voorwetenskaplike werklikheidsverstaan, die huidige wetenskaplike kosmologie en tegnologies-wetenskaplike werklikheidsverstaan. Hervormde teologie het veral danksy Gert Pelser (1987; 1989b en 1997) se kritiese waardering vir Bultmann se ontmitologiseringsprogram al meer daarvan kennis geneem en dit het deel geword van Hervormde hermeneutiek. ’n Aantal artikels oor ontmitologisering en die verstaan van mites in die HTS bevestig dit[ii].

Bultmann het nie soos DF Strauss die mitologie uit die Nuwe Testamentiese verkondiging probeer elimineer nie, maar raakgesien dat die mite uitdrukking van menslike eksistensie is, en dit probeer ontgin vir die verkondiging (Geyser 2000:534-535). Hierin bou hy voort op die werk van Jaspers (Malan 2015) en het hy waardering ontvang van Paul Ricoeur (Malan 2016a). Die mitologiese drieverdieping wêreldbeeld is deel van ’n mitiese werklikheidsverstaan wat die Bybelse verkondiging en sosiale leefwêreld van die Bybelse geloofsgemeenskappe oorspan en legitimeer (Malan 2016b). Mitologie is meer as ’n denkraamwerk. Bultmann benut begrippe uit Heidegger se eksistensiefilosofie soos Dasein, wat impliseer dat werklikheidsverstaan ’n unieke en definiërende verhouding en kohesie veronderstel tussen individue, hul medemense en fenomene in die wêreld. Die impak wat werkliheidsverstaan as ons verhouding tot die wêreld het op ons identiteit en selfverstaan, is so wesenlik dat ’n mens kan sê: Ek is my wêreld (Malan 2016c). Ten einde byvoorbeeld Jesus se genesings en ander wonders te verstaan, is ontmitologisering as die vertaling van die mitologiese werklikheidverstaan in eksistensiële terme noodsaaklik (Pelser 1987:167-174). Dit geld veral die eskatologiese aard van die Nuwe Testamentiese kerugma, wat daaroor praat in terme van twee Hoffnungsbilder, te wete die Joodse en Hellenisties-Gnosiese verwagtings wat nie meer vir moderne wetenskaplik georiënteerde mense verstaanbaar of singewend is nie (Pelser 1989b:816-817). Net so is Bultmann se hantering van die mitologies verwoorde verkondiging van Jesus se opstanding krities-waarderend beskou. Bultmann het Jesus se opstanding beskou as uitdrukking van die betekenis van Jesus se kruisdood. Hy het dit nie beskou as die herlewing van sy dooie liggaam nie en dit daarom nie as historiese gebeure beskou nie. Hy het ook nie die opstanding gereduseer tot die ontstaan van ’n paasgeloof by die dissipels nie. Dit is met die Johannese standpunt van die opstanding as Jesus se verhoging en andersyds sy terugkeer in die ervaring van geloof dat Bultmann hom vereenselwig het. Sy standpunt was dat die verkondiging die enigste teologies legitieme moontlikheid van spreke oor die opstanding is (Pelser 1997:473).

Die bydrae van ontmitologisering tot die waarheidsbegrip in Hervormde teologie is dat die Bybelse waarheid al meer verstaan word as eksistensiële waarheid. Die antieke mitologiese werklikheidsverstaan word nie weggesny nie, maar herinterpreteer in eksistensiële terme wat ons selfverstaan en Dasein vorm. Verkondiging en geloof fokus daarom op die eksistensiële betekenis van byvoorbeeld die heilsgebeure, en dit word so ’n wesenlike deel van ons Dasein, eerder as die vereiste aanvaarding daarvan as objektief aanwysbare historiese gebeure wat van geloof ’n sacrificium intellectus maak en daarmee tot ’n werk verklaar word na die Lutherse verstaan daarvan.

13.4.     Waarheid en die vertelde werklikheid/wêreld

Wat die vertelmateriaal in die Bybel betref, word die wêreld van die teks as vertelde wêreld gehanteer en nie as ’n wêreld wat in ’n een-tot-een-verhouding met die werklikheid staan as ’n fotokopie daarvan nie. Die tekste is dus eerder as ’n weerspieëling van die werklikheid gesien en nie as ’n venster op die werklikheid nie (Pelser 1989a:446).

13.5.     Waarheid as metafoor of analogie

’n Metafoor vergelyk twee ongelyksoortige teenoorgesteldes met mekaar in terme van die dubbele referensie van te wees en nie te wees nie. So kom ’n kreatiewe dialektiek tot stand, want metafoor herinterpreteer die werklikheid en ontsluit nuwe moontlikhede na gelang van wat in die werklikheid gevind en ontdek word. So beskou, word die teenoorgesteldes nie net mekaar se teendeel nie, maar juis mekaar se identiteit (Buitendag 2008:1143).

13.6.     Waarheid as kritiek op politieke ideologie

Waarheidsbegrip staan vanweë die Hervormde beskouing van die Bybel as Woord van God teenoor ideologie. Hierdie onderskeid word nie net vanuit die Bybel gemaak nie, maar is binne die Bybel uitgewys. So verwys prof AS Geyser (Geyser, 1961) in ’n huldeblyk aan prof Gemser na ’n artikel van Gemser in die Almanak van 1940 waar hy gehandel het oor nasionalisme en universalisme in die prediking van die Ou Testament. Geyser verwys na profete wat vervolg was omdat hulle teenoor die nasionale teologie God se spreke laat hoor het, en noem dat navolgers van Jesus se lot dieselfde sal wees as hul Meester s’n, …wat gesterf het onder die hande van nasionalisme wat uitgeswel het tot ’n ideologie (Geyser 1961:300). Geyser stel konsekwent die Bybel as Woord van God teenoor politieke ideologieë soos nasionalisme, nazisme en kommunisme.[iii] Hy wys op die ‘geraffineerdheid’ van ideologie wat die Woord van God uitdaag binne die domein van die Woord self, naamlik die Christelike kerk, ten einde die Woord te verdring. Hy stel die vernietigende krag van ideologie teenoor die Woord as ‘innerlike sin van dinge en manifesteerder van die waarheid’ (Geyser 1961:304-305). Die singewende vleesgeworde Woord waarin God sy essensie bekendgemaak het, ...is liefde, en het onbeperkte, ongekwalifiseerde liefde gepreek, geleef en volmaakte liefde gesterf en opgestaan, en vra van gelowiges soortgelyke selfverloëning teenoor ideologiese strewe na selfbehoud (Geyser 1961:306).

Na Albert Geyser se skuldigbevinding aan dwaalleer deur die destydse Moderamen op 8 Mei 1962, bedank prof Adrianus van Selms as professor in Ou Testament aan Pretoria Universiteit uit protes daarteen, omdat sy gewete hom verbied om toe te laat dat enige mens aan hom voorskryf wat die Woord van God sê (Dreyer 2016). Van Selms redeneer dus kenmerkend Hervormd: Die Woord van God, wat telkens weer vry moet wees om Woord van God te word, staan verhewe bo enige menslike vasstelling van wat die Woord moet sê. Dit wys ook dat die Hervormde Skrifbeskouing nie net toegepas word in die eksegese, prediking of dosering van die teologie nie, maar geleef behoort te word in die praktyk en spanningsveld van die gelowiges se lewe. In hierdie verband stel Loader as vertrekpunt die tese dat die Bybel die gevolg is van Israel se erkenning van mislukking (skuldbelydenis), en hou Israel se eerlike introspeksie as model voor die Hervormde Kerk wat deur eksistensiële worsteling erken het dat die teologiese regverdiging van Apartheid verkeerd was en huidige krisisse soos die gevolglike kerkskeuring moet verwerk (Loader 2014).

13.7.     Die waarheid is kultuurkrities

Soos wat die dialektiese Skrifbeskouing hom afgrens teen ideologie, behoort dit krities te staan teenoor kultuur, spesifiek omdat die waarheid van die kerugma aanspraak maak op onvoorwaardelike diens aan God. Dialektiese denke sien kultuur as moeilik definieerbaare dimensie van menswees wat op abstrakte vlak funksioneer en bepalend is vir mense se denke, houdings, emosies en waardes, lewenspatrone en geloof. Dit tree na vore by mense se interaksie binne die kollektiewe struktuur van ekonomie, politiek, familie en godsdiens. Kultuur is vir menslike bestaan ’n onontkombare en determinerende faktor (Van Aarde 1996:834-835). Hierdie determinasie is nie net aan die werk op empiriese vlak nie. Dit is ook aanwesig as deel van die simboliese universum wat die sosiale leefwêreld oorspan en legitimeer. Dit kan teologies beskou word as ’n skeppingsordening in terme waarvan mense leef, en kan verstaan word as natuurgegewe imperatief. ’n Kultuurkritiese benadering in die teologie vra of sinvolle lewe afhanklik is van hierdie soort skeppingsordening asof dit ’n Godgegewe imperatief is. Kultuurkritiek antwoord negatief op hierdie vraag en soek na ’n alternatiewe wysheid eerder as die beskouing wat kultuur Bybels wil legitimeer (Van Aarde 2005:684-687).

Kultuurkritiek is die kritiese studie van kultuur. Dit opponeer die positivistiese subjek-objek-skema wat kennis beskou as ’n eenrigting proses van objek na subjek en verkies om dit te verstaan as dialektiese en funksionele interaksie tussen objek en subjek (Van Aarde 1996:835). Dit is anti-fondamentalisties aangesien die gedagte verwerp word dat alle kennis gebou is op ’n vaste fondament, maar beskou kennis en sekerheid daarvan eerder as verweef in die struktuur van kennis. Die doel van kultuurkritiek is om godsdiens te ontmasker wanneer dit neerkom op ’n akulturalisering van tradisies. Kultuurkritiek word deurgevoer deur alle tradisies te konfronteer in die soeke na tekens van transendensie wat daarin neerslag gevind het.[iv] Dit word aangepak met empiriese metodes, veral die metodes van moderne historiese ondersoek, en is vry van dogmatiese a priori’s soos by die neo-ortodoksie. Die gesindheid is een van geduldige induksie en ’n openheid jeens die volle spektrum van menslike ervaring wat vir historiese studie toeganklik is (Van Aarde, 2005:687-692).

Indien die kerk se selfverstaan gebaseer is op Jesus se alternatiewe wysheid van die koninkryk van God, kan die kerk nie anders as om kultuur-krities te wees nie sodat die singewende van die koninkryk verkondig word en onvoorwaardelik aanvaar en gedien kan word. Jesus se verkondiging van die koninkryk van God het teenoor die gangbare wysheid stelling ingeneem. Daardie wysheid is kultureel beskou as ’n skeppingsordening. Wysheid het beteken dat mense hulle onderwerp aan die konvensionele wysheid wat voorgehou is as God se orde. Daarvolgens het alles en almal ’n plek, tyd en rol, regte en voorregte gehad, wat bepaal is deur die stand van die familie waarin iemand gebore is, die beginsels van eer en skande, en die reinheidsvoorskrifte wat bepaalde grade van reinheid en onreinheid aangedui het. Die wortels van die gangbare wysheid is terug te vind in die vergeldingsleer, en in Jesus se tyd was die Fariseërs by uitstek verteenwoordigers hiervan (Van Aarde 1996:845-846). Hierteenoor verkondig Jesus die koninkryk van God, wat Markus ‘evangelie’ noem, en wat Paulus beskryf in terme van genade. Jesus definieer die koninkryk metafories as ’n nie-hiërargiese denkbeeldige huishouding waar almal in die familie gelyke toegang het tot die Vader, waar die Vader sorg vir hulle wat hul armoede voor God erken en waar hulle ook na mekaar omsien as mekaar se fiktiewe broers en susters soos die Vader van hulle verwag. Sy konsekwente en vreeslose volharding om die koninkryk te verkondig, het Jesus in konflik met die tempel-ideologie en tempel-elite gebring en uitgeloop op sy kruisiging. Paulus beskou hierdie verkondiging as die manier hoe mense met God versoen word. Vir hom was sterwe met Christus om saam met Christus te leef, maar dan bevry van die mag van sonde.

Die kerk se kultuurkritiek sal daarom soteriologies bepaald wees, maar weerstand daarteen sal dit oneffektief maak, tensy die soteriologiese aspekte getranskodeer word. Dit is ’n pad van transformasie wat verby konvensionele en godsdienstige wysheid beweeg na ’n verhouding met God; van ’n angsvolle bestaan na ’n lewe van vrede en vertroue. Dit is ’n lewe vanuit ’n ander soort werklikheid as die gewoon kulturele en kan met die metafoor van verlossing beskryf word. Die aktualisering van die koninkryk was die geboorte van die kerk, wat van die begin af bestaan het in die spanningsveld van in die wêreld, maar nie van die wêreld te wees nie. Die Konstantynse era het gewys dat hierdie spanning prysgegee kan word wanneer die kerk en politieke magte in ’n een-tot-een-verhouding met mekaar staan. Indien die kerk getrou aan Jesus se verkondiging van die koninkryk wil diensbaar wees, is volgehoue kultuurkritiek noodsaaklik en moet die kerk as kontrakultuur funksioneer waar gelowiges onvoorwaardelik kan glo en dien (Van Aarde 2005:698-705).

13.8.     Die waarheid is relasioneel

Gedurende die laaste kwart van die 20ste eeu het die sosiaal-wetenskaplike benadering tot tekste na vore gekom. Danksy die insigte van die Kennissosiologie het dit duidelik geword dat sosiale groeperings hul sosiale funksionering legitimeer aan die hand van ’n simboliese verstaansraamwerk. Dit kan byvoorbeeld hul godsdiens, filosofie, verstaan van hul herkoms of hul politieke ideologie wees. Sonder so ’n oorkoepelende sisteem, kan ’n groep nie hul identiteit, leefwyse en voortbestaan verseker nie, omdat die denksisteem dit alles legitimeer. Daarsonder word alles sinloos en gaan die sosiale orde tot niet. Hierdie insigte bring die gevolgtrekking dat daar vir verskillende sosio-kulturele groeperings verskillende idees kan bestaan oor wat waarheid en singewend sou wees. Hieroor het elke groep eie vooronderstellings. Eksegete en Bybelskrywers kom uit ’n verskeidenheid sodanige sosio-kulturele en teologiese groeperings (Geyser 2000:528-530), wat impliseer dat die grense van ‘waarheid’ nie meer duidelik omlyn is nie, maar eerder geperforeerd is. Die erkenning hiervan het tot gevolg dat die objektiewe beskouing van die waarheid verwerp word en dat beweeg word in die rigting van ’n subjektiewe verstaan, waar eksegete deelneem aan die ‘produseer’ van die waarheid. ’n Poging tot balans tussen die twee uiterstes word verkry wanneer die relasie tussen die pole van subjek en objek die fokuspunt word in die sogenaamde relasionele waarheidsbegrip soos by die 1981 Rapport aan die Gereformeerde Kerken van Nederland getitel ‘God met ons’ (Geyser 2000:530-532). Die waarheid van die Bybel is nie gelyk te stel aan die optelsom van objektiewe en subjektiewe siening van die Bybelleser nie (Geyser 1985:121). Waarheid is dus geleë in die aard van die verhouding tussen objek en subjek, wat opnuut ontdek moet word, midde-in hul eie sosio-kulturele staanplek. Waarheid is nie ’n objek, ’n ding wat voorhande is en opgeraap kan word nie. Dit is iets wat slegs met moeite aan die lig gebring kan word (Geyser 2000:531). Daarby is die waarheid van die Bybel alleen te ken binne die raamwerk van ’n geloofsverhouding met Christus (Van Aarde & Geyser, 2004:17). Dit kan omskryf word as ‘ontmoeting met God in die Seun’ (Van Aarde & Geyser 2004:18), wat aandui dat die waarheid ’n relasionele gebeurteniskarakter het en dinamies is. Van Zyl (in Geyser 1989:259-260) praat daarom na aanleiding van Emil Brunner oor die waarheid as ontmoeting. Wie in die Woord in aanraking kom met die wesenlike van die Openbaring, Jesus Christus, word ook geroep tot ’n persoonlike verhouding en God.

Dit is egter nie net ’n saak tussen ’n gelowige en God nie en is ook nie staties nie. Gelowiges is ingebed in ’n kultuur-linguistiese nis wat alle verstaan bepaal of beïnvloed en voortduur sodat gister se openbaring tot vandag se tradisie word, en dit weer basis word vir môre se insigte. Die waarheid van die openbaring moet vasgelê word, maar ook vertolk word. Sonder vaslegging vervloei dit in persoonlike opinies, en sonder vertolking verstar geloof in proposisies en is dit nie meer relasie nie (Buitendag 2008:1150). Die Bybelse waarheid vir die deursneelidmaat verskil tot ’n groot mate van die siening van toeloë. Die Bybel (vgl Pelser 1989a:448-449) word oor die algemeen deur lidmate beskou as –

  • gelyk aan die Woord van God;
  • meganies gesagvol in al sy dele;
  • bevattende ewige en onveranderlike waarhede;
  • meganies geïnspireer;
  • onfeilbaar in al sy dele;
  • ’n getroue weergawe van die werklikheid;
  • ’n eenheid;
  • toepasbaar in elke situasie;
  • ’n magiese voorwerp vir sommige.

Daar is waarskynlik lidmate by wie die kloof tussen teologiese en leke Skrifbeskouing vernou het. Die onus rus op predikante om lidmate te begelei om hierdie kloof te oorbrug. Die kloof sluit ook die ravyn wat oopgaap tussen hedendaagse Bybellesers en die sosio-kulturele en historiese kontekste van die Bybelse geskrifte in. Om hierdie ravyn oor te steek verg moed, maar die beloning is telkens waardevolle insigte wat tot dieper geloof en selfverstaan lei (Malan 2010).

13.9.     Slotopmerking

Die toekoms kan positief tegemoet gegaan word mits die dialektiek nie prysgegee word nie, aangesien dit die einde van die Christendom kan beteken (Van Aarde 1995:26). Met haar dialektiese Skrifbeskouing kan die Hervormde teologie ook in die toekoms ’n aansienlike bydrae lewer.

Dit is veral so omdat die postmoderne tydvak waarin ons leef en wat steeds voor ons uitstrek, nie as bedreiging gesien word nie, maar as uitdaging. Van Aarde sien dit as ’n geleentheid om juis ons Skrifbeskouing te verruim en daaroor te herbesin. Postmoderne mense weet dat beide die drievlakkige wêreldbeeld as die ‘wetenskaplike sekerheid’ van die moderne en liberale teologie verbygegaan het. Die kwantumfisika het aangedui dat niks meer as eksak beskou kan word nie, ook nie die natuur nie. Tog raak postmoderne mense al meer bewus van die goddelike misterie van menswees, maar is onseker oor hoe om dit te verwoord of te legitimeer. Sommige neem afskeid van die kerk as instituut en sosiale konvensie, omdat dit deur magsmisbruik en eiebelange gekontamineer is. Ander doen dit net gedeeltelik deur die waardes teenwoordig in teologieë en konvensies van onaanvaarbare waardes te probeer suiwer en deurlopend met alternatiewe waardes te vervang (Van Aarde, 2004:515-516). Die uitdaging vir die teologie is om postmoderne lidmate te begelei om hul geloof tog te kan verwoord.

Daarom behoort die Kerk se Skrifbeskouing vir lidmate voorgehou te word sodat hulle gemotiveer word om die Bybel daarvolgens te verstaan. Omdat lidmate die Bybel dikwels pre-krities gebruik, bestaan daar die verleiding tot biblisisme en fundamentalisme. Dit lei tot ’n boekgodsdiens wat geloof in God kan verplaas na geloof in die Bybel. Geloof word dan die vrug van die leer oor die goddelike geïnspireerdheid van die Skrif. So ’n boekgodsdiens lyk prysenswaardig, maar is volgens Paulus ’n futiele strewe na eie-geregtigheid (Rom 10:2-4). Lidmate behoort begelei te word om die Bybel te bestudeer ter wille van die kerugma (verkondiging van Christus) en outentieke geloof. Die kerugma is die middel waardeur die versoening aangekondig word en dus waardeur die redding geskied tot ’n radikale andersheid as die lewe sonder God. Die Skrif is egter nie op sigself kerugma nie en daarom ook nie die grond van die geloof in Christus nie. Geloof is eerder die grond van die gesag van die Skrif. Geloof is die gevolg van die kerugma en staan los van hoe die dokumente van die Skrif tot stand gekom het. Inspirasie behoort daarom nie beperk te word tot inspirasie van die Skrif nie, maar moet verstaan word as die totaal van die Gees se handelinge met gelowiges, wat uitleg, verkondiging, geloof en etiese lewe insluit (Van Aarde 2004:509-511).

13.10.    Literatuurverwysings

Buitendag, J., 2008, ‘ “God met ons” – gelowig nagedink oor die Skrif’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 64(3), pp. 1131-1154.

Dreyer, W., 2016, ‘Heretic or rebel? The heresy trial of Albert Geyser’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(4).

Geyser, A.S., 1961, ‘Logos en ideologia. Woord en skynwoord’, HTS Teologiese Studies, 16(4), pp. 300-307.

Geyser, P.A., 1985, ‘Die relasionele waarheidsbegrip en die Christelike lewe: Die sinodale rapport van die GKN’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 41(1), pp. 119-129 .

Geyser, P.A., 1989, ‘Prof dr F.J. van Zyl se Skrifbeskouing’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 45(2), pp. 253-262.

Geyser, P.A., 2000, ‘Hermeneutiese uitgangspunte in historiese-Jesus navorsing, Deel 1: Sosiaal-wetenskaplike vooronderstellings’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 56(2&3), pp. 527-548.

Loader, J.A., 2014, ‘Understanding of failure and failure of understanding: Aspects of failure in the Old Testament’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 70(1).

Malan, G.J., 2000, ‘Bultmann se ontmitologiseringsprogram herwaardeer’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 56(4), pp. 1107-1118.

Malan, G.J., 2010, ‘Can the chasms be bridged? Different approaches to Bible reading’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 66(1).

Malan, G.J., 2015, ‘Die Nuwe Testament en mitologie: Die probleem van die ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese verkondiging. Bultmann se 1941-opstel weer bekyk’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 71(3).

Malan, G.J., 2016a, ‘Ricoeur on myth and demythologising’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(4).

Malan, G.J., 2016b, ‘Combining Ricoeur and Bultmann on myth and demythologising’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(3).

Malan, G.J., 2016c, ‘Mythology, Weltanschauung, symbolic universe and states of consciousness’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(1).

Malan, G.J., 2016d, ‘Myth as metaphor’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(4).

Pelser, G.M.M., 1987, ‘Die ontmitologiseringsprogram van Rudolf Bultmann’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 43(1 & 2), pp. 162-191.

Pelser, G.M.M., 1989a, ‘Die Bybel aan die universiteit en in die kerk’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 45(2), pp. 442-450.

Pelser, G.M.M., 1989b, ‘Rudolf Bultmann se ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese eskatologie’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 45(4).

Pelser, G.M.M., 1997, ‘Rudolf Bultmann oor die opstanding van Jesus’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 53(3), pp. 455-475.

Van Aarde, A.G., 1994, ‘Kultuurimperialisme as hermeneutiese dilemma. Eerste-wêreldse en Derde-wêreldse perspektiewe op die Seun van God’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 50(1 & 2), pp. 345-367.

Van Aarde, A.G., 1995, ‘Kerk en teologie op pad na die derde millennium: ’n paradigmaskuif van middelmatige aard’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 51(1), pp. 39-64.

Van Aarde, A.G., 1996, ‘Kultuurkritiek, die eerste-eeuse kulturele wysheid en die alternatiewe visie van Jesus van Nasaret’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 52(4), pp. 833-849.

Van Aarde, A.G., 2004, ‘Skrifbeskouing in die lig van Postmoderniteit’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 60(1 & 2), pp. 503-532.

Van Aarde, A.G., 2005, ‘Cultural criticism as an imperative for Christians’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 61(3), pp. 683-708.

Van Aarde, AG., De Villiers, P.G.R. & Buitendag, J., 2014, ‘The forgotten struggle of Albert Geyser against racism and apartheid’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 70 (1).

Van Aarde, A.G. & Geyser, P.A., 2004, ‘Om nie te dink bo “wat in die Skrif geskrywe staan nie” – konsistensie en ontwikkeling in die teologie van Piet Geyser’, HTS Teologiese Studies / HTS Theological Studies, 60(1 & 2), pp. 7-28.

Van der Merwe, P.J., 1987, ‘Die wonder en wondervertelling gesien teen die agtergrond van mite en ontmitologisering’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 43(1 & 2), pp. 192-204.

Van Wyk, G.M.J., 2015, ‘Rudolf Bultmann – Evangelie en geloof’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 71(3).

Van Zyl, F.J., 1944, ‘Die Skrifbeskouing van Karl Barth’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 1(3), pp. 124-135.

Eindnotas

[i] Hierdie hoofstuk is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat te vind is by https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4650. Volledige verwysing van oorspronklike teks:  Malan, G.J., 2017, ‘Hervormde Barthiaanse Skrifbeskouing: Waarheidsbegrip’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), a4650.

[ii] (Malan 2000), (Malan 2015), (Malan 2016a), (Malan 2016b), (Van Wyk, 2015), (Van der Merwe, 1987).

[iii] Geyser praat in Barthiaanse terme oor die Bybel as Woord van God in ’n tydvak toe Apartheid as ideologie vanuit die Bybel deur die Hervormde teologie geregverdig was. Sy grondige dialektiese redenasie het hom duur te staan gekom en hy het persona non grata in die Hervormde Kerk geword (Van Aarde, De Villiers, & Buitendag 2014).

[iv] ’n Voorbeeld van ’n kultuurkritiese benadering kan gevind word in Van Aarde (1994:345-367) se artikel oor kulturele imperialisme.