DIE ROL VAN DIE INTERPRETERENDE GEMEENSKAP
Dr WC (Wouter) van Wyk
Sekretaris: Kommissie van die AKV
14.1. Inleidend
Hoe verstaan ’n mens ’n teks? Elke teks – enige teks sonder uitsondering – moet geïnterpreteer word. Dít word op ’n ironiese manier selfs bewys deur klagtes oor onverstaanbare artikels in kerklike tydskrifte.
Die Bybel bestaan uit ’n versameling tekste en moet dus ook geïnterpreteer word. Al besef lesers dit nie, is elke leser elke keer besig om te interpreteer wanneer hy of sy die Bybel lees. Lees sonder interpretasie is eenvoudig onmoontlik.
Wat die interpretasie van die Bybel nog moeiliker maak, is dat die 66 boeke van die Bybel waarskynlik oor ’n periode van meer as 1 000 jaar in ’n vreemde land en kultuur ontstaan het, en in drie verskillende antieke tale geskryf is (Hebreeus, Aramees en Grieks). En vertaling sonder interpretasie is ook onmoontlik, soos die verskillende vertalings van die Bybel in Afrikaans en ander tale baie duidelik bewys. Trouens, die voorwoord van die meeste Bybelvertalings spel dikwels die teoretiese aannames en uitgangspunte van die betrokke vertaling uit, want hierdie uitgangspunte lei noodwendig tot bepaalde keuses (interpretasies) in die vertaalproses.
Die interpretasie van die Bybel (Skrifverstaan) is vir die kerk van groot belang. Die probleem met betrekking tot Skrifverstaan is veral sedert die tyd van die Reformasie ’n brandende kwessie. Toe Luther die kerk van sy dag konfronteer het oor kerklike wanpraktyke wat gelowige mense mislei en uitbuit, het die Roomse Kerk hom probeer stilmaak deur aanspraak te maak op die onfeilbare insig en gesag van die kerk se pous en konsilies. Dit het Luther en die ander Kerkhervormers daartoe gebring om eerder die Bybel as primêre bron en norm vir die beoordeling van mense se geloof en lewe stel. So het Skrifverstaan as die fokuspunt van die konflik tussen die Roomse Kerk en die Reformasie uitgekristalliseer.
Die Kerkhervormers het hul verstaan van die Skrif teenoor die Roomse dogma, die geykte interpretasie van die Roomse Kerk, gestel. Maar selfs onder die verskillende Kerkhervormers was daar ernstige verskille oor die interpretasie van die Bybel, soos reeds uit Luther, Zwingli en Calvyn se verskillende sienings oor die Nagmaal blyk. In die era na die Reformasie het die Protestantse ortodoksie die Bybel helaas self gereduseer tot ’n blote teksboek vir aanhalings waarvan die interpretasie ondergeskik was aan ’n eie Protestantse dogmatiek wat Bybelse passasies op hul eie manier geselekteer en gebruik het:
While rejecting the authority of the Catholic Church, they fell into a bondage to the creedal standards of the Protestant Church. In becoming divided amongst themselves, Protestant interpreters used the anvil of Scripture to hammer out their dogmas. They studied the Bible to find prooftexts for their theology and read their creeds into Scripture (Conner & Malmin 1976:44).
Dit lei tot ’n al meer intense studie van die Bybel in die 17de en 18de eeue, waaruit dit algaande blyk dat die Bybel inderwaarheid geen samehangende teologiese sisteem van leerstellings (dogmas) bevat nie, maar eerder ’n versameling tekste is met ’n lang en komplekse voorgeskiedenis.
Johann Philipp Gabler (1753-1826) se insig dat daar ’n diep kloof tussen die moderne leser en die antieke teks is, roep ernstige lesers (vertolkers of interpreteerders) van die Bybel op om die idees van elke patriarg, profeet, van Jesus en elke evangelis en Bybelse outeur noukeurig te onderskei sodat elke outeur se werk onbelemmerd beskou kan word om te sien waarin hulle met mekaar ooreenstem en waaroor hulle met mekaar verskil (vergelyk Köstenberger 2012:2-3).
14.2. Verskillende fokuspunte vir die interpretasie van tekste
Hierdie insigte lei in die 19de eeu tot die ontwikkeling van die sogenaamde historiese kritiek – ’n versamelnaam vir ’n verskeidenheid benaderings wat almal fokus op die outeur en die historiese agtergrond van die teks. Deur die loop van die 20ste eeu verskuif die fokus al meer na die teks self as sleutel tot die interpretasie, en aan die einde van die 20ste eeu kom tree lesersgerigte benaderings na vore. Elkeen van dié benaderings tot interpretasie word vervolgens kortliks bespreek:
14.2.1. Outeursgerigte benaderings
Intensiewe bestudering van die Bybel en noukeurige vergelyking van verskillende tekste binne Ou en Nuwe Testament onderskeidelik bring Bybelwetenskaplikes tot die gevolgtrekking dat daar verskillende bronne onderliggend aan die meeste Bybelboeke is. In die Pentateug word byvoorbeeld bevind dat daar vier verskillende bronne is (J, E, D en P) wat uiteindelik met mekaar verbind is, in baie gevalle het die profeteboeke ’n mondelingse fase gehad wat eers later in ’n geskrewe teks neerslag gevind het, en in die Nuwe Testament blyk dit dat die Evangelies van Matteus en Lukas albei van Markus gebruik gemaak het, maar ook van ’n ander bron wat intussen verlore geraak het (en wat in die akademiese wêreld as Q bekendstaan). Die benadering wat in die bekende Bybelboeke na oorspronklike bronne soek, word bekend as Literarkritik.
Daarop volg ’n benadering wat in die Bybelse tekste vaste formules identifiseer wat in verskillende boeke voorkom. Hermann Gunkel (1862-1932) verbind hierdie vaste formules met ’n bepaalde historiese situasie waarbinne dit gebruik is, en so ontstaan die sogenaamde Formkritik wat mettertyd deur ander teoloë soos Sigmund Mowinckel (1884-1965) verder uitgebou word. ’n Soortgelyke insig identifiseer bepaalde tradisies (soos die Sionstradisie wat ’n prominente plek aan die berg Sion en die koningshuis van Dawid gee) wat in verskillende tekste na vore kom, en dit gee aanleiding tot die benadering van Traditionskritik.
Mettertyd groei die insig egter dat mondelingse oorlewerings, skriftelike bronne, geykte formules en tradisies op ’n doelgerigte manier met mekaar verbind is, dat daar, met ander woorde, redakteurs was wat beskikbare materiaal geselekteer het en op so ’n manier verbind het dat dit ’n bepaalde boodskap ondersteun. Dit verklaar byvoorbeeld die verskillende perspektiewe op dieselfde geskiedenis wat ’n mens in die sogenaamde Deuteronomistiese geskiedsverhaal (Deuteronomium tot 2 Konings) em die Kronistiese geskiedsverhaal (1 en 2 Kronieke) vind. Die Redaktionskritik wil die verskillende Bybelse tekste dus eerder verstaan deur te vra na die bedoeling van die redakteurs as die outeurs van die teks.
Die gemeenskaplike element by al hierdie benaderings is dat daar na die outeur en ontstaansgeskiedenis van die teks gesoek word. Die onderliggende aanname is dat kennis van die outeur en geskiedenis ’n mens in staat stel om die teks te verstaan. Historiese kennis is dus noodsaaklik vir Skrifverstaan.
14.2.2. Teksgerigte benaderings
Die intensiewe dissektering van Bybelse tekste lei mettertyd tot frustrasie: Weens beperkte bronne en inligting bly die identifikasie van bronne, geykte vorms, tradisies en redaksionele ingrypings hipoteties en verskil Bybelwetenskaplikes skerp van mekaar. Verder lyk dit toenemend na ’n vrugtelose benadering: Hoe help dit ons om die teks van ’n Bybelboek te verstaan as ons uiteindelik net ’n reeks bronne van mekaar onderskei het?
So verskuif die fokus na die teks self. Danksy die insigte van die Switserse taalkundige Ferdinand de Saussure (1857-1913), verskuif die aandag na die manier waarop woorde (‘taaltekens’) formeel gestruktureer word om die interpretasie van die teks te rig. Die ontwikkeling van die strukturalisme as ’n benadering tot die interpretasie van tekste vind ook neerslag in benaderings wat die finale teks van Bybelboeke of afgebakende gedeeltes in die Bybel ondersoek om hul struktuur te identifiseer sonder om te vra na die geskiedenis agter die teks. Struktuuranalises word gemaak op grond van formele struktuurmerkers (voegwoorde, werkwoordvorms, voorvoegsels of agtervoegsels, ensovoorts), verhalende materiaal word ontleed in terme van karakters, ruimte en tyd, en op verskillende maniere word ’n close reading van die teks gebruik om die teks ‘soos dit voor ons lê’ beter te verstaan. Die oogmerk is om ’n objektiewe interpretasie te gee wat nie gekleur is deur hipoteses oor die outeur of geskiedenis van die teks nie.
Binne die konteks van Skrifverstaan gee dit ook aanleiding tot ’n interessante nuwe benadering, naamlik die sogenaamde kanonieke interpretasie van Brevard S Childs (1923-2007) wat die Bybelse tekste in hul finale vorm bewustelik wil verstaan in terme van hul plek binne die kanon.
14.2.3. Lesersgerigte benaderings
Algaande blyk dit egter juis uit die fyn lees van tekste dat een leser nie net van ander verskil oor die geskiedenis van ’n gegewe teks nie, maar ook oor die teks se vorm en struktuur.
Wolfgang Iser (1974) verduidelik dat lees inherent ’n aktiewe en kreatiewe proses is wat ’n teks in werklikheid tot lewe bring. Aangesien enige teks noodwendig gapings bevat, moet elke leser self sy verbeelding gebruik om die gapings te vul en sin te maak van die teks. Terselfdertyd bevat die teks leidrade oor ’n geïmpliseerde leser wat die teks sou verstaan soos dit bedoel is.
Hans Robert Jauss (1982) vergelyk verskillende interpretasies van dieselfde teks oor die verloop van tyd heen en toon aan hoe ’n tradisie van interpretasies en waarderings van ’n literêre werk ontwikkel. Lesers se interpretasie en waardering van ’n teks word telkens bepaal deur hul verwagtingshorison en die mate waartoe die teks met daardie verwagtingshorison ooreenstem of daarvan verskil. Hy redeneer dan dat die teks op sigself geen inherente betekenis of waarde het nie, maar dat die lesers van die teks telkens daaraan betekenis toeken.
Die fokus op die leser ontbloot uiteindelik ook dat objektiewe interpretasie onmoontlik is en dat die leser self ook nie onskuldig is nie:
Writers and readers alike are, on the whole, not casual, disinterested bystanders to their own activity, but promoters of their own ideological causes as they write and as they read (Clines 1995:24).
Ons interpretasie word nie bloot deur agtergrondkennis of teorie beheers nie, maar deur ideologie – ’n mengsel van vooroordeel, belange en waardes waaroor ons kan rasionaliseer, maar wat ons nooit rasioneel kan regverdig nie (Vanhoozer 1998:169).
Die outeur(s) van ’n teks, die teks as ’n finale produk én die leser is almal deur hulle unieke situasie en belange bepaal en bevoordeel, sodat Clines tereg waarsku:
The project of understanding is always at risk when one of the three following facts is ignored: that the biblical text is an ideological production, that the interpreter is reading the text from within a particular ideological formation, and that the ideologies of ancient Israel are historically and culturally far removed from the ideologies of our own day (Clines 1995:19).
Beteken dit dan dat interpretasie onherroeplik subjektief is, dat enige leser die teks na willekeur kan interpreteer, en dat die een interpretasie so goed is as die volgende?
14.3. Stanley Fish en die rol van die interpreterende gemeenskap
Stanley Fish (gebore 1938), ’n Amerikaanse literatuurwetenskaplike, bied ’n interessante perspektief op hierdie vraag.
Fish self was op die voorpunt van ontwikkeling om die rol van die leser by die interpretasie van ’n teks te erken. Hy reageer op literatuurwetenskaplikes wat glo dat hulle aan die hand van historiese inligting en struktuurmerkers in die teks die interpretasie van ’n teks kan vaslê: To someone who believes in determinate meaning, disagreement can only be a theological error (Fish 1980:338). As die betekenis van ’n teks objektief bepaal kan word en twee lesers verskil oor die interpretasie van die teks, móét die een noodwendig reg en die ander verkeerd wees.
Maar dit is nie waar nie, en Fish bied in sy artikels ‘Is there a text in this class?’ en ‘How to recognize a poem when you see one’ interessante voorbeelde van verskillende lesers wat dieselfde vraag op grond van verskillende interpretasies verskillend geantwoord het – met die een interpretasie so geldig soos die ander (vergelyk Fish 1980). Hy redeneer dat enige groep woorde potensieel ’n onbeperkte hoeveelheid interpretasies tot gevolg kan hê en dat die teks self onvoldoende is om ’n eenvormige interpretasie te verseker.
Fish argumenteer gevolglik dat lesers aktief deelneem aan die konstruksie van betekenis: Interpretation is not the art of construing but the art of constructing. Interpreters do not decode poems: they make them (Fish 1980:327).
Dit beteken nogtans nie dat die leser se interpretasie geheel en al ongebonde is nie. Hoewel die betekenis van ’n teks nie ín en deur die teks self vasgelê is nie, is lesers ook nie volkome vry om betekenis toe te ken nie. Die rede hiervoor is dat elke leser onherroeplik deel is van wat Fish noem ’n ‘interpreterende gemeenskap’. Hoewel ’n teks self oop mag wees, is die sosiale konteks waarbinne ’n leser die teks interpreteer, bepaald nié. Die leser se herkenning van formele eenhede (struktuur) is in alle gevalle afhanklik van ’n reeds bekende interpretasiemodel.
Hoewel die teks self nie die interpretasie kan beperk nie, kan die interpreterende gemeenskap dit wel doen, en doen interpreterende gemeenskappe dit inderdaad. Elke leser is reeds deel van ’n bepaalde interpreterende gemeenskap met gemeenskaplike sosiale konvensies en benaderings tot interpretasie. Elke interpretasie is die resultaat van ’n interpretasieproses wat die leser as lid van die betrokke gemeenskap geleer het en gevolglik nie heeltemal individualisties of idiosinkraties nie. Elke interpretasie reflekteer ’n bepaalde interpreterende gemeenskap se gedeelde oortuigings oor die beste metodes van interpretasie en die oogmerke van ’n betrokke interpreterende praktyk.
The meanings and texts produced by an interpretive community are not subjective because they don’t proceed from an isolated individual but from public and conventional point of view (Fish 2000:574, in Richter 2000).
Dit mag dus lyk of Fish meen dat die interpreterende gemeenskap willekeurige interpretasie volkome aan bande lê. Terwyl die teks self en die individuele leser nie ’n objektiewe interpretasie kan waarborg nie, maak ’n interpreterende gemeenskap ’n bepaalde interpretasie eintlik noodwendig.
Hierop vra Vanhoozer (1998:170) tereg die kritiese vraag of Fish se radikale siening van die greep wat die interpreterende gemeenskap op die leser het, die leser se ervaring genoegsaam verdiskonteer. Verklaar dit hoe tekste lesers se sienings verander, of hoe lesers tekste soms krities lees teenoor die normatiewe standpunt van die interpreterende gemeenskap?
What is lacking in Fish’s account of the interpretive process is how texts may challenge, and perhaps transform, the reader and the interpretive community. It is difficult to see how, on Fish’s account, the text could ever be used to criticize a dominant ideology, or how any interpretive community could be challenged as to its particular reading aim and method (Vanhoozer 1998:170).
Fish se eie onkonvensionele manier om die interpretasie van tekste te benader is op sigself ’n duidelike voorbeeld van ’n individuele leser wat tekste anders as die interpreterende gemeenskap waarvan hy deel is, interpreteer. ’n Siening dat die teks self geen grense aan interpretasie stel nie, sou ook ekstreem wees:
Interpretive traffic, says Fish, is rarely one way. Biblical interpretation is pulled between two opposing forces: the sense potential of the text and the interests of the reader (Vanhoozer 1998:171).
Boonop mag erkenning van die belangrike rol wat die interpreterende gemeenskap speel, aan hierdie gemeenskap die mag gee om geweld te pleeg deur die normatiewe interpretasie van die binnekring as ‘normaal’ te tipeer en die interpretasie van buitestanders as ‘abnormaal’. Soos die geskiedenis van die Reformasie getoon het, kan die interpretasie van buitestanders of ’n minderheid dan maklik as gek aangedui word en sulke lesers gemarginaliseer word. Vanhoozer waarsku inderdaad dat instellings wreed en onvergewend kan wees teenoor dié wat nie wil konformeer nie (1998:171).
Terwyl die konsep van ’n ‘interpreterende gemeenskap’ dus geldig is en baie waarde inhou, kan dit nie verabsoluteer word nie en is balans tussen die interpretasie van die individu en die interpreterende gemeenskap noodsaaklik. Daardie balans word gevind in die intersubjektiewe instemming tussen ’n leser en ’n interpreterende gemeenskap.
The actual forces that operate to enable and constrain the reading and interpretation are the same for validation: the reader (or readership) makes a sense in the light of a particular “set”, within a particular cultural setting, by means of codes supplied and validated by that culture. The reader is the touchstone for meaning and validation… Other readers are not obliged to agree; therefore, the interpreter has to persuade others that the synthesis is in accord with the various factors. Other readers, meanwhile, are able to show that there is a lack of accord or that factors ignored by the interpreter make another synthesis preferable. The validity of interpretation – as it moves from the individual to the community – is intersubjective. An interpretation is valid when a group of readers and interpreters agree that it is valid (McKnight 1985).
14.4. Die kerk as interpreterende gemeenskap
Die rol van interpreterende gemeenskappe by die lees van ’n teks kan nie betwis word nie, en dit ly geen twyfel nie dat enige geloofsgemeenskap as ’n interpreterende gemeenskap funksioneer. Die gedeelde aannames en vertrekpunte van die geloofsgemeenskap stel ’n raamwerk daar vir die interpretasie van normatiewe tekste sodat die geloofsgemeenskap ook as ’n interpreterende gemeenskap funksioneer. Verbreking van die interpreterende gemeenskap se vertrekpunte lei tot konflik.
Jesus se interpretasie van die wetsvoorskrifte uit die Ou Testament het direk tot sy botsing met die Joodse leiers aanleiding gegee. Uiteenlopende interpretasies van die Skrif het tot die breuk tussen die Joodse gemeenskap en die vroegste Christelike kerk aanleiding gegee. Verskille oor die inhoud en interpretasie van die Skrif het gelei tot die stryd met dwaalleraars waarvan die Nuwe Testament en geskrifte van die kerkvaders getuig. Die ontstaan van die ekumeniese belydenisse in die eerste paar eeue en die Protestantse geloofsbelydenisse van die 16de en 17de eeu wys duidelik aan hoe die kerk regdeur haar geskiedenis gefunksioneer het as ’n interpreterende gemeenskap wat sekere interpretasies van die Skrif gelegitimeer en ander verwerp het. Verskille in Skrifverstaan lê tot vandag toe onderliggend aan verskille tussen verskillende kerke (denominasies).
Dit geld natuurlik nie net vir geloofsgemeenskappe nie, maar ook vir state, volksgroepe, politieke partye en groeperings – ja, én vir die gemeenskap van akademici, Bybelwetenskaplikes en teoloë. Elke gemeenskap selekteer sekere tekste as normatief, en elke gemeenskap ontwikkel konvensies waarvolgens daardie normatiewe tekste geïnterpreteer word. So laat Vanhoozer die lig val op die veranderde gesag van verskillende interpreterende gemeenskappe:
Modernity thus replaced the authority of the priest with that of the scholar. In the academy, the scholar’s interest in the history of the Bible’s composition replaced the believer’s interest in its religious use (Vanhoozer 1998:172).
Die kerk moet daarom erken dat sy ’n belang het by die interpretasie van die Skrif, en dat sy inderdaad as ’n interpreterende gemeenskap funksioneer. Trouens, die Bybel as ’n versameling antieke geskrifte is die resultaat van ’n seleksie wat die vroeë kerk gemaak het. En die historiese ontwikkeling van die Christelike kerk oor die eeue gaan hand aan hand met veranderende vertrekpunte vir die interpretasie van hierdie Bybel binne die geloofsgemeenskap.
Dit beteken nie dat die kerk as interpreterende gemeenskap ’n struikelblok vir Skrifverstaan is nie. Inteendeel, die rol van die kerk as interpreterende gemeenskap is ’n onontbeerlike kontrole vir die interpretasie van die Bybel. Aangesien elke outeur, teks én leser noodwendig deur sy unieke situasie en belange bepaal is, is dit van wesenlike belang dat die kerk – as ’n interpreterende gemeenskap wat direk belang het by die Bybel – ’n invloed uitoefen op die interpretasie van hierdie versameling kanonieke tekste. Die interpretasie van die Bybel kan nie sommer aan ander lesers en interpreterende gemeenskappe (soos die akademiese gemeenskap, politieke en burgerlike belangegroepe) met hul onderskeie ideologiese belange oorgelaat word nie; die kerk – meer as enigiemand anders – het belang by die interpretasie van die Bybel.
In die lig van die beperkinge van outeursgerigte, teksgerigte én lesersgerigte benaderings tot die Skrifverstaan en die onvermydelike subjektiwiteit van enige interpretasie, is die waarde van die kerk as ’n interpreterende gemeenskap juis daarin geleë dat dit funksioneer as ’n intersubjektiewe filter wat die geldigheid van ’n bepaalde Skrifverstaan kan toets. En, aangesien geen interpreterende gemeenskap ooit volkome homogeen is nie en die rol van die interpreterende gemeenskap nie so allesbepalend is as wat Fish betoog het nie, beteken dit dat interpretasies wat die kerk se Skrifverstaan uitdaag die vermoë het om die kerk se Skrifverstaan te beïnvloed en te verskuif.
Om die waarheid te sê, is dit presies wat oor die jare met betrekking tot verskillende aktuele sake in die Hervormde Kerk (NHKA) gebeur het: die vrou in die amp, die teologiese regverdiging vir die beleid van afsonderlike ontwikkeling (apartheid), en homoseksualiteit. Hierin het voortdurende gesprekke oor Skrifverstaan binne die groter ekumeniese verband van die Christelike kerk as interpreterende gemeenskap ’n deurslaggewende rol gespeel. Trouens, die Hervormde Kerk se ekumeniese isolasie van vyf dekades sedert 1960 het juis hierdie Kerk se funksionering as interpreterende gemeenskap verarm en die Kerk blind gelaat vir die ideologiese belange wat haar Skrifverstaan bepaal het. Goldingay (1995:242) sê tereg:
Interpretation is an inherently catholic enterprise. The whole church needs the ways into scripture that the church’s different parts can offer us: the Fathers and the Puritans, liberation theology and Western theology, the suburban church and the urban church, women and men, Jews and Christians. The limitations of individual study of scripture are paralleled by the limitations of study of scripture within homogeneous groups.
14.5. Gevolgtrekking
Ons het hierdie artikel begin met die vraag: Hoe verstaan ’n mens ’n teks? ’n Eenvoudige antwoord hierop is: tesame.
Hoewel die voorafgaande kort uiteensetting van die faktore wat ’n rol speel in Skrifverstaan uitwys hoe kompleks teksinterpretasie in werklikheid is, toon dit hopelik ook aan watter essensiële rol die kerk as interpreterende gemeenskap speel by die interpretasie van die Bybel. Die Bybel is die Christelike kerk se versameling normatiewe tekste, daarom hoort die interpretasie van die Bybel in die eerste plek binne die ruimte van die kerk.
Dit beteken nié dat die kerk – soos die Roomse Kerk in die 16de eeu aangevoer het – die enigste gemeenskap is wat die Bybel geldig kan interpreteer nie. Dit beteken nie dat een denominasie (of ekumeniese liggaam) tot die enigste legitieme interpreterende gemeenskap verhef kan word nie. Dit beteken ook nie dat die kerk nie ander interpreterende gemeenskappe (soos die akademiese gemeenskap, of geloofsgemeenskappe soos die Jode en Moslems) se interpretasies van die Bybel by voorbaat kan verwerp nie.
Maar dit beteken wel dat die wyer kerk by uitstek die interpreterende gemeenskap is waarbinne ’n gelowige Skrifverstaan getoets en gekoester moet word.
14.6. Literatuurverwysings
Clines, D.J.A. 1995, Interested Parties. The ideology of writers and readers of the Hebrew Bible. Sheffield: Academic Press.
Conner, K.J. & Malmin, K. 1976, Interpreting the scriptures. A textbook on how to interpret the Bible. Portland, Oregon: KJC Publications.
Fish, S. 1980, Is there a text in this class? The authority of interpretive communities. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.
Fish, S. 1989, Doing what comes naturally: change, rhetoric, and the practice of theory in literary and legal studies. Oxford: Clarendon.
Goldingay, J. 1995, Models for interpretation of scripture. Grand Rapids: Eerdmans.
Iser, W. 1974, The implied reader. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
Jauss, H.R. 1982, Towards an aesthetic of reception theory. Minneapolis: University Press.
Köstenberger, A. 2012, Editorial, in JETS 55/1:1-5. Gelees op 8 September 2021 by https://www.etsjets.org/files/JETS-PDFs/55/55-1/JETS_55-1_1-5_Kostenberger.pdf
McKnight, E.V. 1985, The Bible and the reader. An introduction to literary criticism. Philadelphia: Fortress
Richter, D.H. 2000, Falling into theory. Conflicting views on reading literature. New York: St Martin’s.
Vanhoozer, K.J. 1998, Is there a meaning in this text? Grand Rapids: Zondervan.