Markus 14: 3-9
Sy het die vertrek geluidloos binnegekom. Soos wat sy nader aan Jesus kom, is dit asof al die stemme in die vertrek stil word. Die stilte word verbreek deur die skerp kraakgeluid van ’n albasterfles wat gebreek word. En Jesus moet sy oë knip sodat die olie nie sy oë brand nie. Die geur van skerp, onverdunde nardusolie vul die hele huis. ’n Oomblik verder, en die kwaai uitroepe en verwyte gaan begin. Mense gaan hul misnoeë uitspreek oor die verspilling van soveel geld. ’n Jaar se lone net so uitgegiet! Maar vir nou het die vrou kom doen wat sy wou gedoen het. Sy gaan nie nodig hê om hul vrae te antwoord nie. Sonder om ’n woord te sê, het sy die hele evangelie met een enkele daad opgesom!
Die vraag is: Hoekom hierdie aankondiging so sonder woorde? Dalk omdat die mense rondom Jesus te blind is om dit raak te sien. Te doof is om dit selfs te hoor. Hierdie vrou tree dan as ’n profeet op, nie om te voorspel nie, maar om aan te kondig – nie deur woorde nie, deur ’n daad! Die olie raak nie net die kop van Jesus aan nie, die geur vul die hele vertrek. Dit is nie ’n vermorsing nie! Elke liewe druppel is die moeite werd. Iets wat ons almal sal oortrek met die geur van God se genade. Verlossing vloei van die gebreekte liggaam soos nardusolie van die houer, en dit sal die hele wêreld vul. Net soos by die vrou, sal niks teruggehou word nie.
Ek en jy is ook gebroke mense. Ons weet alles is nie reg nie. Veral wanneer ek na my lewe kyk. Verwerp, verlaat? Verstoot? Iets het gebreek, en deur die krake van ons gebrokenheid vloei daar iets Goddelik! Ons gebrokenheid is nie ons beperking nie, maar ons weg na heling.
Kom ons gee wat ons kan. Hou op met al die woorde. Kom ons gaan na die gebroke wêreld met ons albasterfles. Met aksie. Laat die vertrek stil word! En laat jou lewe die geur van hierdie verlossing versprei. Wat is die goeie nuus van die evangelie? Genade! Deur die krake! Gooi uit! Kyk na Hom en sien Hy is werklik jou Koning!
Dr Hein Delport, Swartkop