Die meeste van ons bestee ’n redelike hoeveelheid tyd in ons kombuise – altyd haastig besig om iets voor te berei vir honger mae en kinders met hol bene.
In ons gejaagde lewe het ons nie ’n ander keuse nie as om selfs met ons stiltetyd saam met die Here kreatief te wees. Daarom moet ons sommer ook leer om ons kombuistye nuttig te gebruik vir spesiale tye saam met die Here. Jy kan dit spreekwoordelik gebruik as ’n spesiale kans om jou hart vir jou Vader oop te sny, jou oorkook-emosies met Hom te deel en jou deurmekaar gedagtes saam in ’n bak voor Hom neer te sit.
Alleentyd in die kombuis gee jou kans om jou lof, vreugde en dankbaarheid in ’n bord voor Hom uit te pak. Dit is ’n geleentheid om onopgeloste probleme in sy kristalhelder wysheid te gooi en te sien hoe Hy antwoorde gee.
Saam met die brousels op die stoof gee Hy vir ons potte vol liefde en vrede. Daar in ons kombuis versier Hy elke baksel van ons lewe met sy kleurryke genade. En wanneer ons tafel dek, sit Hy sy pot vol seën tussen die borde neer.
Hy, die God wat elke snit van jou lewe ken, wil jou help om ook heerlike geregte-vir-die-lewe voor te berei. Geregte waaruit ander krag sal put omdat dit gevul is met al die wonderlike bestanddele van sy Gees.
Maak jou kombuis die hart van jou huis waar ander en jyself na liggaam en gees versterk word. ’n Lekker kuierplek waar almal kans kry om hul lewe met die ander te deel … en waar julle Hom ontmoet. Jy sal verbaas wees hoe wyd die geur van so ’n kombuis versprei.
Gepraat van geur, een van die lekkerste reuke wat uit ’n kombuis kan kom, is dié van varsgebakte brood. Dit het my laat dink aan die wonderlike dinge wat waar is van brood. Ek wil sekere dinge omtrent brood van toepassing maak op ons verhouding met die Here.
Eerstens kan jy maar gerus onthou jy is sy witbroodjie.
Jy hoef ook nie onnodig mooi broodjies met die Here te bak nie, want Hy ken jou in elk geval deur en deur. Ons het as’t ware in die botter geval toe Hy ons uit genade aangeneem het en ons sy kinders gemaak het.
Die Here seën ons so ryklik met sy goedheid, liefde en genade dat ons nie moet kla terwyl ons met die witbrood onder die arm staan nie.
Ons moet nooit so haastig wees om te kla en te mor dat ons ons brood koud blaas en ons koffie kou nie. Ons moet nooit vergeet nie dat ons die Here broodnodig het.
Ons moet ook weet ’n lewe sonder die Here is soos brood sonder botter – dit maak nie sin nie.
En laastens: Hy sal ook vir ons ons daaglikse brood gee en in al ons behoeftes voorsien.
Hy self is ook die Brood wat lewe gee – elkeen van ons wat in Hom glo, sal nooit honger ly nie. Met al die waarhede omtrent die Here, weet ek met die Here in my lewe is my brood beslis aan altwee kante gebotter.
Visetesourier: NHSV Hoofbestuur
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)