Ek onthou nog die reëlmatige tik-tok pendulumswaaie van my ouma se groot staanhorlosie. Dit het ’n rustige ritme aan die donkerte gegee, wanneer insluimer oorgegaan het in soete slaap.

Die klok was ’n handgemaakte erfstuk wat ’n prominente plek gehad het in die huis. Elke paar dae moes die glasdeurtjie oopgemaak word om die swaar gewigte aan hul blink kettinkies versigtig op te lig, sodat die klok kon voorttik en tydhou, en die ure melodieus aftel.

Vandag sien ’n mens selde meer in huise sulke imposante tydhouers. Deesdae lê daar eerder meer as een selfoon in elke huishouding rond wat as tydhouers dien. En is die tel van steps en hartkloppe en die aantal likes op Facebook belangriker as die tel van ure in die dag!

Is dit net die wêreld se tydhouers wat verander het oor die jare, om by die samelewing aan te pas, of het ons begrip van tyd ook verander?

Dawid, wat duisende jare gelede die aarde bewandel het, het tyd gehad om skape op te pas, en ons weet dat hy selfs teen bere en leeus moes veg om sy kudde te beskerm. Hy het ook tyd gehad om ’n musiekinstrument te leer bespeel en was so uitsonderlik dat hy vir die koning moes optree. Hy het ook geoefen en geoefen om die korrel van ’n slingervel te bemeester. Hy het soveel selfvertroue gehad dat hy die moed gehad het om ’n reus die stryd aan te sê, en hom verslaan het!

Lees ons sy lewensverhaal in die Ou Testament, weet ons dat hy ook tyd gemaak het vir kosbare vriendskappe en sy geloofsgebruike, en dat hy ’n diep verhouding met God gehad het. Hy het geen taak aangepak voordat hy nie eers daaroor gebid het nie.

As kóning Dawid was daar tyd vir vele suksesvolle oorloë, maar ook vir nagte van oordenking en gedigte skryf, liedere komponeer en lofprysing ter ere van sy Skepper.

Vermag en beleef ons, duisende jare later, regtig méér met óns tyd?

Ons dae is wel voller. En ja, ons reis in dieselfde tyd halfpad om die aarde, duisende kilometers verder, as wat Dawid se soldate met hul apostelperde gevorder het in een dag! Maar wen ons regtig tyd deur al hoe meer in te pas in ons daaglikse ure, of vermors ons die kosbare oomblikke aan ons gegun hier op aarde?

Die Prediker leer ons: Daar is ’n tyd vir alles. Maar alles wat ons elke dag doen, het nie al ons tyd nodig nie – ons moet leer om te prioritiseer.

Ons is maar alte bewus van ’n tyd van oorlog, soos dié waarin Rusland en Oekraïne tans gewikkel is. Die hele wêreld se vrede huiwer op ’n mespunt. Steeds verkies baie lande om nie betrokke te raak nie, en die samelewing bly steeds meer geïnteresseerd in opinies op sosiale media as om te verenig in gebed of ’n helpende hand uit te reik.

Is dit nie juis nou die tyd om op te staan en te veg vir waarin ons glo nie? Die uurglas loop uit – waarmee vul jy jou tyd?

Terug by die man Dawid: Ten spyte van baie verkeerde besluite, foute en donker tye, was Dawid ’n man na God se hart. Hoekom? Want hy het in ritme met die Here geleef en sy daaglikse handel en wandel gestap in pas met God se tyd.

Kitstyd, propvol tyd, of ure se tyd sonder substansie, is dae en maande van verkwiste tyd…

Ons móét weer stil word om die tik-tok van God se tyd te midde van die geraas van die wêreld te hoor. Dit verg meer inspanning, dit vra deeglike afstoftyd, dit vereis intensiewe kennis van die klok se ratjies, dit benodig gereelde olie gee en versigtig gewigte verstel… Maar dit beloof die gerusstellende ritme van die heen en weer swaai van die pendulum van God se ewige tyd.

Dit herinner ons – God onderhou alles, ook tyd… Daarom is daar ’n spesifieke tyd vir alles.

Dit is nóú my en jou tyd – gebruik dit!

NHSV Streekvoorsitter Hoëveldstreek en predikantsvrou Gemeente Secunda

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)