Die rooi papawerblom as simbool van herinnering en hoop het begin by ’n gedig wat geskryf is deur luitenant-kolonel John McCrae. Hy was ’n Kanadese dokter wat in die Eerste Wêreldoorlog diens gedoen het as dokter vir ’n artillerie-eenheid van die Geallieerde Magte wat onder andere Engeland, Frankryk en Amerika ingesluit het.

Vanaf 1914 tot 1918 het die Eerste Wêreldoorlog ongekende vlakke van verwoesting en dood tot gevolg gehad. Teen die tyd dat die Geallieerde Magte as wenners uit die stryd getree het, was meer as 16 miljoen mense – soldate en burgerlikes – dood tydens die oorlog en ongeveer 20 miljoen mense gewond.

Woedende gevegte in Wes-Europa in plekke soos België en Frankryk het landskappe omskep in afgebrande velde, en die gruwels van loopgraafoorlogvoering was wreed en dodelik. Niks sou ooit weer daar kon groei nie.

In Mei 1915 het luitenant-kolonel John McCrae een van sy vriende verloor in die Tweede Geveg van Ypres in België. Tydens ’n vlug oor hierdie barre oorloglandskappe, merk hy op hoe rooi papawers in hul duisende welig oor hierdie dorre landskappe, vernietig deur die oorlog, begin groei het. Die velde was oortrek met rooi papawers – Papaver rhoeas – sy inspirasie vir sy bekende gedig In Flanders Fields, opgedra aan al die gevalle soldate van die Eerste Wêreldoorlog.

In Flanders Fields

In Flanders fields the poppies blow
Between the crosses, row on row,
That mark our place; and in the sky
The larks, still bravely singing, fly
Scarce heard amid the guns below.

We are the Dead. Short days ago
We lived, felt dawn, saw sunset glow,
Loved and were loved, and now we lie
In Flanders fields.

Take up our quarrel with the foe:
To you from failing hands we throw
The torch; be yours to hold it high.
If ye break faith with us who die
We shall not sleep, though poppies grow
In Flanders fields.

John McCrae

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan het Moina Michael, ’n onderwyseres, die bekende gedig In Flanders Fields gelees in ’n tydskrif wat teen die einde van 1915 uitgegee is. Sy het tydens die oorlog in New York gewerk by die hoofkwartier van die destydse Oorlogsekretaris van die Geallieerde Magte. Sy begin in 1918 die tradisie om elke dag ’n rooi papawerblom te dra ter herinnering aan die gevalle soldate van die Eerste Wêreldoorlog. Sy skryf op haar beurt weer ’n gedig in November 1918 as ’n antwoord op In Flanders Fields, met die treffende titel We Shall Keep the Faith.

We Shall Keep the Faith

Oh! you who sleep in Flanders Fields,
Sleep sweet – to rise anew!
We caught the torch you threw
And holding high, we keep the Faith
With All who died.

We cherish, too, the poppy red
That grows on fields where valor led;
It seems to signal to the skies
That blood of heroes never dies,
But lends a lustre to the red
Of the flower that blooms above the dead
In Flanders Fields.

And now the Torch and Poppy Red
We wear in honor of our dead.
Fear not that ye have died for naught;
We’ll teach the lesson that ye wrought
In Flanders Fields.

Van haar kollegas het opgemerk dat sy elke dag ’n rooi papawerblom dra, en so begin hulle om die rooi papawer te dra as ’n simbool van herinnering en hoop. ’n Franse vrou, Anna Guérin, het van die materiaalpapawers Engeland toe geneem en daar bekendgestel. Die Koninklike Britse Legioen, wat gestig is in 1921, het 9 miljoen van hierdie materiaalpapawers bestel en verkoop op 11 November 1921, Remembrance Day. Met die verkope daarvan is oudsoldate van die oorlog gehelp met behuising en werksgeleenthede.

Die hoop dat daar weer lewe na die dood is, is ’n kragtige boodskap wat ons vandag steeds moet uitdra in die Kerk en by die NHSV. Ons lewe in ongekende tye waar daar meer teëspoed as voorspoed op ons pad kom. Hierdie verhaal wat afspeel tydens die Eerste Wêreldoorlog, het daarna nog dikwels voorgekom – net in ander tye en met ander mense.

Ons is nou ook hierdie mense in ons eie tydsgewrig met ons eietydse probleme, siektes en oorloë. Die John McCrae’s onder ons sien die verwoesting rondom ons raak en help steeds waar ons kan en leef ons geloofsroeping uit. Die Moina Michael’s onder ons moet elke dag ons rooi papawerblom aanspeld om die boodskap van geloof en hoop te deel met almal wat ons pad kruis. Al die blomme van môre lê in die sade wat vandag geplant word. Die besluit is joune…

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Voorsitter: NHSV Hoofbestuur