In die Siloamtonnel wat onder die Ou Stad van Dawid aan die oostelike kant van Jerusalem loop, het argeoloë in 2022 ’n vars ontdekking gemaak en die fragment van ’n klein steentjie van sandsteen gekry waarop blykbaar na koning Hiskia verwys is.

Die Siloamtonnel

Hierdie ontdekking is van groot waarde, omdat dié steentjie ’n inskripsie daarop het waarin die letters van die naam van Hiskia geskryf staan. As dié waarneming reg is, sal hierdie klein steentjie, benewens die inskripsie in die tonnel van Hiskia, die eerste konkrete getuienis wees wat nog ooit ontdek is wat die grawe van die tonnel met koning Hiskia verbind.

Die enigste ander getuienis waarin na die grawe van die tonnel verwys word, is ’n terloopse verwysing daarna wat in die Bybel in 2 Konings 20: 20 genoem word. In hierdie verwysing word slegs gesê dat daar in die annale van die konings van Juda ook nog ander verhale bestaan oor die moedige optrede van Hiskia, en die dam en kanaal wat hy gebou het om water in Jerusalem in te bring.

Die Siloamtonnel is geleë in die Arabies-beheerde deel van Jerusalem, in die woonbuurt van Silwan, wat groot uitdagings en beperkings op alle argeologiese opgrawings in die gebied stel.

Oor die datering van die tonnel bestaan daar nie eenstemmigheid nie. Die Bybelse verwysing na ’n tonnel wat Hiskia laat grawe het om Sanherib en sy Assiriese magte se beleg van Jerusalem in 701 vC teë te werk (2 Kron 32: 2-4), het Bybelwetenskaplikes die datering daarvan aan die einde van die agtste eeu voor Christus laat plaas. Volgens die skrywers van die Kroniekboeke het Hiskia die oog van die Gihonfontein geblokkeer en die water ondergronds na die westelike deel van die Stad van Dawid laat herlei (2 Kron 32: 30).

Navorsing wat in 2011 gepubliseer is, voer die oorsprong van die tonnel egter verder terug na die laat negende of vroeë agtste eeu voor Christus. Hierdie vroeëre datering van die tonnel word gerugsteun deur skerwe van pottebakkersware wat in die tonnel gekry is, wat ook uit daardie tyd dateer.

Die tonnel strek oor ’n afstand van 533 meter en kronkel saam met die karsttregters waarlangs die water ondergronds vloei. Die pikmerke aan die wande van die tonnel dui daarop dat die karsttregters moontlik net groter gemaak is om die water vinniger te laat deurvloei. Hierdie waarneming verklaar waarom die twee spanne grawers van verskillende kante af kon werk en by mekaar uitgekom het. Die een span grawers het van die Gihonfontein af begin grawe, terwyl die ander gewerk het vanuit ’n punt binne die Stad van Dawid waar die water uitgeborrel het.

Die Hiskia-fragment

Argeoloë het nou ’n klein steentjie van sandsteen in die tonnel gekry wat koning Hiskia nou moontlik met die uitgrawing van die tonnel verbind. Die stukkie steen moes deel gewees het van ’n groter steen waarvan dit afgebreek het, en wat ongelukkig nou verlore is. [Foto: Die stempel van koning Hiskia is met ’n vroeëre ontdekking langs die Tempelberg gekry. Die motief word oorheers deur Egiptiese tekens. © Dr Eilat Mazar & Ouria Tadmor]

Die fragment bestaan uit ses letters in ’n Oudhebreeuse skrif en is met drie letters elk in twee reëls geskryf. Die eerste reël vertoon die letters q-j-h. Die skrif lees van regs na links. Die regterkant van die steen is afgebreek. Kundiges wat die woord probeer rekonstrueer het, is daarvan oortuig dat die woord oorspronklik Hisqjhw gelees het, wat dus die woord Hisqijahu gespel het, wat Hiskia beteken.

Die tweede reël wys twee letters, gevolg deur ’n spasie, en dan nóg ’n letter. Die eerste twee letters blyk volgens kundiges die slotletters van ’n woord te wees, terwyl die derde letter die begin van die volgende woord is.

Die eerste twee tekens vertoon die letters k-h, wat moontlik die spelling vir (br)kh, berecha, is wat “poel” beteken. Volgens die Bybelse verhaal het die water wat deur die tonnel gekom het in ’n poel, die berecha, van Siloam uitgemond.

Koning Hiskia se godsdienshervormings

Hierdie ontdekking is nie die enigste wat oor Hiskia gemaak is en wat ’n bevestiging van Bybelse verhale bied nie.

In die Tel Lagis Nasionale Park, 25 kilometer suidwes van Jerusalem, is die oorblyfsels van ’n ou altaar gekry. Hierdie ou altaar dateer uit ongeveer 1000 vC en is dus ongeveer 3 000 jaar oud. Die Tel Lagis Nasionale Park merk die terrein waar die ou Bybelse stad, Lagis, voorheen bestaan het. Gedurende die Bybelse tyd was dié plek ’n welvarende stad. Die plek is deur die Assiriërs in ongeveer 700 vC verwoes, en toe finaal in 586 vC deur die Babiloniërs.

Argeoloë het reeds die ruïnes van die ingangspoorte na Lagis ontdek. Die hekke vir die ingang na die stad is die grootste wat nog ooit in Juda gevind is. Die twee hekke was elk 24 meter wyd en 5,7 meter hoog. Hierdie ontdekking is nogal belangrik. By die ingang na die stad, reg by die poort, het argeoloë die oorblyfsels van ’n altaar gekry. Wat opmerklik is aan dié altaar, is dat die horings, wat gewoonlik aan die vier hoeke daarvan geheg is, doelbewus deur iemand afgesny is.

Hierdie ontdekking lei ’n mens na wat in 2 Konings 18 vertel word. Daar gaan dit oor die godsdienshervormings wat koning Hiskia gedoen het. Hy het volgens die teks gedoen wat reg is in die oë van die HERE (2 Kon 18: 3, AFR2020) en die offerhoogtes verwyder, gedenkstene (klippilare) stukkend gebreek en die asjera afgekap (2 Kon 18: 4). Die asjera was boomstompe wat langs die klippilaar en altaar opgerig is om die vrou van God voor te stel. Die gedenksteen (klippilaar) sou dan as ’n uitdrukking van God verstaan word.

Sa’ar Ganor, die direkteur van die opgrawings in Lagis, verduidelik dat wanneer boomstompe as deel van ’n godsdienshervorming verwyder is, is die horings aan die altaar ook afgesny. Met Hiskia se godsdienshervorming en gevolglike sentralisering van die kultus in Jerusalem, is dit presies wat gebeur het. Die horings is van die altaar afgesny om afgodery en bygeloof te voorkom.

’n Baie interessante ding wat daar in een van die kamers by die ingang van Lagis ontdek is, is ’n toilet waar ’n altaar voorheen gestaan het. Die omskakeling van die altaar na ’n toilet was ’n manier om die altaar waarop vir afgode geoffer is, met minagting te onteer. Dit is presies wat koning Jehu ook gedoen het volgens 2 Konings 10: 27 toe hy die gedenksteen (regopstaande klip) vir Baäl asook die tempel van Baäl afgebreek en dit as toilette ingerig het. Die teks waarin hierdie storie vertel word, lees soos volg: Hulle het die gedenksteen (klippilaar) van Baäl afgebreek, ook die tempel van Baäl, en toilette (kleinhuisies) daarvan gemaak; dit is vandag nog so.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)