Ons bely dat Christus self sy kerk in stand hou en laat groei. Hy het dit deur al die eeue gedoen, deur die kragtige werking van die Heilige Gees en die verkondiging van die Woord (Rom 10: 14-17; Heb 1: 1; Heidelbergse Kategismus vraag 54).
Deur al die eeue het God mense geroep om sy Woord te verkondig. In die Ou Testamentiese tyd het God se Woord deur die profete gekom; in die Nuwe Testamentiese tyd was dit die opdrag aan die apostels en ander leraars om die evangelie uit te dra; deur die geskiedenis van die kerk was dit die opdrag aan geroepe dienaars van die Woord. Die feit dat elke lidmaat van Christus se kerk die opdrag het om te getuig van die geloof wat in ons leef, het nooit beteken dat daar nie ook mense was en is nie wat die Woordverkondiging as lewensroeping het.
In kort: Enige nadenke oor die amp van die predikant, hul taak in die gemeente en hul leierskap in kerklike vergaderings, sal teen die agtergrond van ’n grondige ekklesiologie verreken moet word. Tradisioneel, in die reformatoriese teologie, is die kerk gesien as die liggaam van Christus wat God self in aansyn roep deur die korrekte verkondiging van die evangelie, bediening van die sakramente en die toepassing van die kerklike dissipline (notae ecclesiae). Deur die onmiddellike werking van die Woord en Gees, asook deur die middelike werking van die ampte en die vergaderings van die ampte, hou Christus self sy kerk in stand. Christus is hoof van sy kerk en Hy gebruik die amp en die verkondiging om sy kerk te regeer.
In die meer onlangse ontwikkelinge wat in die praktiese teologie plaasgevind het, het ’n soortgelyke maar aangepaste ekklesiologie na vore getree: Die kerk word al hoe meer gesien as die resultaat van God se handeling in die wêreld. God tree die mens tegemoet in sy Woord en deur Jesus Christus, deur die werking van die Heilige Gees. Die kerk word dus nie gesien as die een of ander statiese grootheid nie, maar ’n dinamiese gebeure gelei deur die Woord en Gees. Hier is die suiwere verkondiging van die Woord en bediening van die sakramente ’n onontkombare opdrag aan elke predikant en die kerk as geheel.
Daarbenewens word klem geplaas op die handelinge van die gemeente. As gevolg van God se handeling met die mens, kom die kerk tot stand, en die kerk op sy beurt kom tot aksie en handeling. Hierin speel die predikant ’n kardinale rol. Die handelinge van die gemeente word saamgevat in die volgende:
- Die viering van die heil in Christus (erediens).
- Die dienswerk wat die kerk lewer (diakonaat).
- Die getuienis van die kerk oor die verlossing wat daar in Christus is (apostolaat).
- Die uitbou van die gemeenskap van die gelowiges (koinonia).
Jesus roep sy dissipels met die bekende woorde: Volg my, en Ek sal julle vissers van mense maak… Deur al die eeue is die roeping van die predikant gesien nie net as die verkondiger nie, maar as die een wat deur ’n lewe van dissipelskap, selfverloëning en toewyding nie net ’n groot orator is wat by geleentheid die Woord verkondig nie, maar ook mense deur die pastoraat na Christus lei. Roeping impliseer ’n opdrag en gehoorsaamheid aan die opdrag. Roeping beteken dat jy jou kruis opneem om Christus te volg (Mark 8).
’n Ander bekende voorbeeld is die apostel Paulus, wat deur die Here geroep is om in sy diens te staan. Sy hele lewe, deur ontberings heen en na alle waarskynlik tot in ’n marteldood, was aan Christus gewy. By geleentheid het hy tente gemaak om aan die lewe te bly, dikwels het die gemeentes hom versorg.
Calvyn het reeds daarop gewys, aan die hand van Efesiërs 4: 11-12, dat die ampsdraers en die vergadering van die ampte hul gesag van Christus ontvang. Die ampsdraer het dus geen gesag in sigself nie, maar slegs afgeleide gesag. Die kerklike en amptelike gesag berus op die roeping van Christus en die gehoorsaamheid aan die Woord. Wanneer die ampsdraer in gehoorsaamheid aan Christus en die Woord sy/haar roeping uitleef, is dit asof Christus self daar teenwoordig is. Dit is uiters noodsaaklik dat predikante in ons tyd opnuut besef dat hulle deur die genade van God geroepe dienaars van Christus is, toegerus deur die Heilige Gees wat Christus in die gemeente moet verteenwoordig.
Die ander beginsel wat duidelik uit die Skrif afgelei kan word, is dat die amp nie die een of ander belangrike officium is nie, maar eerder ’n dienswerk (ministerium). Deur voluit diensbaar te wees aan Christus, word die predikant werklik die amp waardig. Christus self kom in die gestalte van ’n dienskneg (vgl die Lydende Kneg van Jesaja 53, en hoe dit in die Nuwe Testament weer verwoord word). Jesus kniel selfs by geleentheid voor sy dissipels om hul voete te was, en gee dan vir hulle die opdrag dat hulle mekaar ook moet dien. Sy dienswerk was dat Hy selfs gesterf het aan die kruis. Daarom kan die predikant nooit, as verteenwoordiger van Christus in die gemeente, die een of ander belangrike beampte wees nie. Die predikant is dienskneg van Christus, bedienaar van die Goddelike Woord, tot diens van die gemeente en die wêreld. Predikante ontvang dus nie hul opdrag van die kerkraad (soos arbeidsregtelik vereis word) nie, maar van Christus self. Die kerkraad en ouderlinge se funksie is om opsig uit te oefen oor die predikant en hom/haar te help om hul Godgegewe roeping en opdrag uit te leef. Hulle stel die predikant ook in die posisie om dit te doen, deur hom of haar te versorg.
Vanselfsprekend is die ruimte waar predikante hul werk doen, die gemeente. Maar die gemeente kan ’n predikant ook benoem om as sendeling die wêreld te betree om mense dissipels van Christus te maak. Daarom is hul arbeidsveld ook die wêreld.
Die funksies van die ampsdraers in die Nuwe Testament kan soos volg saamgevat word: Leer, regeer, dien. Dit is dieselfde gedagte wat verwoord word in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 30 as daar oor die ampte en die vergaderings van die ampte gestel word: Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou word, die ware leer oral versprei word, die oortreders op ’n geestelike wyse vermaan en in toom gehou word en die armes en bedroefdes volgens hulle nood gehelp en getroos kan word.
Dit is nie moontlik om uit die Skrif pasklaar reëlings te vind wat die kerk van vandag sal orden en alle probleme sal oplos nie. Al wat moontlik is, is om dit wat ons in die Skrif vind, te interpreteer en toe te pas op die kerk. Die volgende kan moontlik uit die Skrif afgelei word:
- Die Here roep deur die eeue mense om in sy diens te staan en die Woord te verkondig. Hierdie roeping manifesteer in die inwendige begeerte en bekwaamheid (gawes van die Gees, kennis, opleiding) van ’n gelowige mens om in God se diens te staan en die evangelie te verkondig. In verhouding met die lewende God, gelei deur die Woord en die Heilige Gees, kom mense tot die oortuiging dat hulle die Woord wil verkondig. Vanselfsprekend is hierdie roeping iets wat beslag lê op ’n mens se hele lewe.
- Roeping is nie iets abstrak en teoreties nie. Roeping impliseer direk gestuur wees, om uit te voer wat die Here aan jou opdra.
- Roeping impliseer diensbaarheid, toewyding, bekwaamheid, selfverloëning, die dra van ’n kruis.
- Daar is talle voorbeelde in die Ou en Nuwe Testament wat duidelik laat blyk dat mense wat deur die Here geroep is om sy Woord te verkondig, dit nie op dieselfde wyse gedoen het as die predikante van vandag nie. Inteendeel – daar is dramatiese verskil in die lewensomstandigheid en “werksopset” van die Bybelse verkondigers en die predikante van vandag.
Een van die uitstaande probleme is dat die predikant mettergaan as ’n “professionele” persoon gesien is met ’n loopbaan wat ontwikkel moet word en wat bepaalde finansiële voordele inhou. In die debat oor die amp word arbeidsregtelike, kerkregtelike en Bybelse argumente deurmekaar gebruik.
Solank as wat predikante hul roeping as ’n loopbaan en ’n werk beskou wat deur arbeidsregtelike wetgewing gereël word, sal die vlaag van bedankings en frustrasie by predikante voortduur.
Die roeping tot predikant is nie ’n status nie, maar ’n opdrag van die Here. Dit impliseer vanselfsprekend arbeid in diens van die Here en die begeerte om die totale lewe in toewyding en diensbaarheid aan God deur te bring.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)