Ek hoor dikwels mense sê: Ek gaan nie meer nuus kyk nie, dis net slegte nuus. Misdaad, korrupsie en tragedies. Nou en dan is ’n mens gelukkig en dan het hulle so aan die einde van die nuus ’n goeie storie, ’n lekkervoelstorie, maar dis maar raar. Ons is honger na goeie nuus, na goedvoelstories. Watter tipe storiedraer is jy? Dra jy goeie of slegte stories aan? Het jy al ’n bietjie opgelet na jou eie praat? Waaruit bestaan jou praat gewoonlik? Gooi jy nog olie op die vuur en dra jy by tot die koor van slegte nuussangers, of probeer jy oplet wat jy praat en meer die deskant van positiwiteit sing? Eggo jou woorde hoop, lewe, waarheid en positiwiteit? Bou jy op eerder as om af te breek, inspireer jy of kritiseer jy, spreek jy lewe of spreek jy dood?
As ek en jy die kuur gehad het vir kanker of vigs, sou ons beslis nie daaroor stilgebly het nie. Ons sou die goeie nuus met almal wou deel. Ons beskik eintlik oor iets nog groter en beter – die kuur téén die sonde en die ewige dood. Ons weet wat nodig is om van ons sondes verlos te word en om vir ewig te lewe. Daarom word die Woord van die Here die evangelie genoem, dit beteken Goeie Nuus. Kom ons wees ingestel daarop om elke dag een brokkie goeie nuus met iemand te deel.
Hier volg ’n VINNIGE ABC-LYS VAN GOEIE NUUS UIT DIE BYBEL:
A Aanvaar: Jesus aanvaar jou net soos jy is.
B Beloftes: Daar is ten minste een belofte vir elke dag in God se Woord opgesluit vir jou.
C Christus: Hy is jou Verlosser.
D Doop: My doop herinner my dat ek Jesus se kind is.
E Eer: Jy kan God eer met jou hele lewe.
F Fantasties: God het my en jou fantasties gemaak.
G Gees: God se Gees woon in my.
H Heilige Gees: Die Heilige Gees is my Trooster.
I In: In Christus is ek ’n nuwe mens.
J Jesus: Hy is my Redder, Leidsman en Vriend.
K Krag: Hy gee my elke dag nuwe krag.
L Lag: Hy gee my soveel om oor te lag en oor bly te wees.
M Moed: Met die Here in my lewe, skep ek altyd weer nuwe moed.
N Nooit: Die Here slaap nooit.
O Oorwinnaars: In Christus Jesus is ons Oorwinnaars.
P Pret: Die Here wil dat ons pret moet hê. Hy het vir ons die lewe gegee en dit in oorvloed.
Q Ek weet nie van ’n goeie Q-woord nie, maar daar is niks wat die Here nie weet nie.
R Red: Hy red ons van ons sonde.
S Sag: Sy las is lig en sy juk is sag.
T Tekens: Orals is tekens van God se almag.
U Uur: Die Here is elke uur van elke dag met my.
V Vader: Hy is my Vader.
W Weer: Hy kom weer!
X X’sies: U verander al my x’sies in regmerkies.
Y Ydellik: Ek sal sy Naam nie ydellik gebruik nie.
Z Omega: Hy is die Alfa en die Omega.
Wanneer ons hierdie punte van A tot Z in ’n paragraaf aanmekaar sit, lees dit soos ’n goeie-nuus-storie. Opbouend, positief en inspirerend! Eggo jou woorde elke dag brokkies goeie nuus en inspireer jou woorde mense met hoop?
Mag elkeen van ons se ingesteldheid wees om lig te bring in ’n donker wêreld. Hoop te bring te midde van wanhoop, die waarheid te praat waar leuens dikwels aan die orde van die dag is, en mense om ons lief te hê soos Christus ons liefhet
As ek val, tel Hy my op.
As ek misluk, vergewe Hy my.
As ek swak is, is Hy sterk.
As ek verdwaal, kom soek Hy my.
As ek bang is, gee Hy my moed.
As ek struikel, hou Hy my vas.
As ek seerkry, troos Hy my.
As ek gebroke is, maak Hy my heel.
So doen Hy ook vir jou, want Hy is Jesus Christus, die Seun van die Lewende God!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
