Op 12 November 2022 hou die aarde vir ’n paar sekondes op draai. Hy staan botstil… En op daardie oomblik word ek en Hans deel van die “klub” waarvan geen ouer deel wil wees nie.

Ons pragtige seun is dood in ’n motorongeluk. Weg, om nooit weer sy ondeunde lag te hoor nie. Nooit weer daardie breë glimlag met die twee diep kuiltjies in sy wange te sien nie. Nooit weer sy vinnige, spitsvondige antwoorde op opmerkings nie…

Ons lewens het vir ewig verander.

Dis ’n pynlike, langdurige proses van leer om onder ander omstandighede voort te gaan met die alledaagse. Om voor te gee dat jy kan aangaan, maar eintlik nie weet hoe nie.

Wat ek al hoe meer en meer besef, is dat die lewe nie gewaarborg is nie – nie wanneer ’n baba gebore word nie, nie op drie maande, 30 jaar of 90 jaar nie. Dit kan enige oomblik weggeneem word. Leef jou lewe elke dag asof dit die laaste dag is. Want dit kan wees…

Daar is nie meer tyd of plek vir kleinlikheid en “eie ek” nie.

Werk aan jou verhouding met God. Leer van Hom, leer oor Hom, praat met Hom, praat van Hom. Hy gee die Ewige Lewe. Maar Hy is ook die Een wat jou kan staande hou in hierdie tyd. Steun op Hom, hou baie styf vas aan Hom.

Ek het my in hierdie afgelope paar maande al hoeveel keer afgevra hoe iemand wat nie in God glo nie, deur so ’n krisis kom. Ek kan my dit nie indink nie.

Koester jou verhoudings met mense wat vir jou saak maak. Werk daaraan, maak reg wat verkeerd is. Ek is vandag so dankbaar vir die besonder goeie verhouding wat ons met Chris gehad het. Daar is geen selfverwyt of verwyt om die rouproses nog moeiliker te maak nie.

Dis die mense naaste aan jou, wat saam met jou rou. Wat jou optel, die dag wanneer jy nie self kan opstaan nie. En jy tel hulle weer op, die dag as hulle nie kan opstaan nie… Om saam te rou, maak dit draagliker.

Ek was ook al in die posisie waar jy nie weet wat om vir iemand wat ’n groot verlies gely het, te sê nie. Maar ek besef nou – jy hoef niks te sê nie (daar ís nie iets wat jy kan sê wat help nie), wees net daar, hou net vas, luister net.

Want om te praat, help vir my. Om Chris te onthou, al is dit klein goedjies, is vir my mooi.

Een ding wat ek egter weet, is om nie te vra Hoe gaan dit? nie. Vra liewers: Hoe gaan dit vandag? Want dit gaan nie goed nie. Maar party dae is erger as ander.

Elkeen het sy eie manier, sy eie pas, sy eie tyd van rou. Maar dat dit nooit weggaan nie, het verskeie vriende wat in dieselfde bootjie as ons is, al bevestig. En na ’n bietjie meer as 18 maande, besef ek dat dit eintlik net erger word.

’n Vriend van ons, wie se laerskooldogter al seker 20 jaar gelede oorlede is, sê dat hy nou nog party nagte wakker skrik en dink, Dankie tog, dit was net ’n nagmerrie, en dan weer besef: Maar dit is nie… Ek beleef die onwerklikheid daarvan nog elke dag.

Niks is ooit weer dieselfde as voor “daardie dag” nie. Nie jy as mens nie, nie jou lewe nie, nie jou verwysingsraamwerk nie. Daar is nie meer plek in my lewe vir kleinighede en berge van molshope maak nie. Ek weet nou wat belangrik is – my hartsmense, my verhoudings, my God.

Dankie Here, vir 30 jaar en drie weke van lag en laf wees, van liefde en leef, van erns en saam glo en aanbid, saam werk in en vir die kerk. Dankie vir my man en my kinders, my kleinkind, my familie en vriende wat my arms hoog hou en my toekoms bly bou.

Die NHSV se tema vir 2024 is Miga 7: 8 – Al het ek geval, ek staan weer op… Ek het nie net geval nie – my voete is onder my uitgeslaan en ek het plat op my gesig geval. Maar ek besef elke dag, al kan ek nog nie opstaan nie, al kom ek net tot op my knieë, dis dalk die beste plek om te wees. Dis die naaste aan my Here.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels)

Visevoorsitter: NHSV Hoofbestuur

Share via
Copy link
Powered by Social Snap