’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke, en beide bly behoue. (Matteus 9: 17, AFR2020).

Somtyds is aangaan nie moontlik nie en het ’n mens geen ander keuse nie as om nuut te begin. Talle mense het die afgelope tyd verlies beleef weens Covid-19 en moes gedwonge die oue agterlaat en nuut begin.

Die Bybel is vol van nuwe beginne. Die woord nuwe kom bykans 140 keer voor in die Bybel. Dit is opmerklik dat in byna al hierdie gevalle gaan die betekenis van nuwe oor iets wat mooi en goed is. Vir die Bybel gaan nuut oor groei, vooruitgang en hoop.

Om nuut te begin, is nie altyd so maklik nie. Dikwels hunker ons nog na die oue – dan is dit bloot iets nuuts in ’n ou verpakking. As ons eerlik is, is dit nie werklik nuut nie, maar bloot anders. Anders voel vreemd en onpas – nuwe maak ons opgewonde en vul ons met vooruitsig en hoop.
Jesus verwys hierna in Matteus 9: 17.

Om in die antieke tyd wyn te maak, is druiwe in ’n vlak klip-parskuip gepars – per hand, per voet of met parsklippe. Soos die doppe fyngepars is, loop die sap uit by ’n klein tuit in ’n houer of leersak. Dit is egter nog nie wyn nie, maar bloot sap – soortgelyk aan enige vrugtesap wat op dieselfde manier gemaak is. Die druiwe se doppe en droesem wat in die kuip agtergebly het, was vol van suiker, smaak en kleur, en is nuwe wyn genoem. Dit is in houers of leersakke gegooi en selfs eers maande later by die sap gevoeg om wyn te maak.

Die probleem was dat hierdie nuwe wyn aanhou gis het en leersakke sodoende kon laat oopbars. Daarom is nuwe wyn nie in ou wynsakke gegooi nie, want dit sou die ou sakke laat oopbars en die sak sowel as die wyn verlore laat gaan.

Die teksgedeelte gaan oor die boodskap wat Jesus bring en die nuutheid daarvan. Die ou leersakke verwys na die verkeerde leer soos deur die Sadduseërs, Fariseërs en skrifgeleerdes voorgehou. Die evangelie wat Jesus bring, is volkome nuut, en om daarin te deel, moet ’n mens werklik nuut word. Die nuwe wyn was donker van kleur, amper soos bloed, en daarom die verband tussen wyn en bloed. Benewens die kleur, gaan albei oor lewe, hoop en vooruitsig. So word ons deel van die nuutheid van Christus wanneer ons Nagmaal vier en ’n slukkie wyn (of sap) drink.

Die boodskap probeer nie sê dat enigiets wat oud is ongewens is nie, maar om in die geloof werklik nuut te word en te wees, is daar ou gewoontes en oortuigings waarvan afgesien moet word. Doen ons dit nie, bly niks behoue nie. Solank as wat ons naby aan Christus bly, kan ons nuut begin, selfs al hunker ons na die oue wat verby is.

Mense sukkel om werklik nuut te word, maar eendag gaan alles werklik nuut wees. Daar sal ’n nuwe lewe wees – ’n nuwe hemel en ’n nuwe stad, word dit genoem. Net by God leer ons werklik hoe om nuut te leef.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap